Dagsê
Ek staan vandag in vir Anneliese.
My skoonma het ’n ruk gelede begin stemme hoor. Toe Brian Wilson, stigter van die Beach Boys, in die laat sestigs dieselfde oorkom, het hy gesê hy hoor sy pa wat hom aanmekaar uittrap omdat hy nie mooi musiek maak nie. Skoonma het my aan Brian Wilson herinner.
Wilson het verskeie sielkundiges baie ryk gemaak. Hulle moes hom behandel, maar tergelyketyd die nuus van sy verwardheid uit die koerante hou. Een van hulle, Eugene Landy, moes deur ’n hofbevel van Wilson weggeskeur word. Hy het skatryk geword uit Wilson se behandeling. Toe hy begin aandring om tantième te kry vir die musiek wat Wilson geskryf het terwyl hy onder behandeling was, het mense begin onraad ruik.
Skoonma het ’n ander stem gehoor. Klein Jannes langsaan wat aanmekaar “Tant Hessie se wit perd” speel op sy ghetto blaster. Die probleem was net dat die mense langsaan glad nie ’n klein Jannes in hul gesin had nie. Die familie moes ingryp.
Ek is geen vreemdeling op hierdie gebied nie. Ek kan nie sê dat ek myself volledig verstaan nie, maar ek weet wel dat wanneer ek gefikseerd raak op ’n onderwerp, is dit asof ’n gesprek met die betrokkenes begin.
Ek doen al ’n ruk navorsing oor my voorsate. Een van hulle, my oumagrootjie Bettie Stander, se stem ontwyk my nog, al praat ek kliphard met haar in my binneskedel. Wie was jy, vra ek haar, wat het jou maak tiek?
My oom Dolf skryf in sy nagelate dokumente dat hy net weet dat sy oupa se naam Adriaan Hendrikus Stander was, en dat hy ’n ryk boer/spekulant/transportryer in die Vrystaat was. Hy het baie vroeg in sy lewe afgetree en in George gaan woon. Die oukêrel is in 1853 gebore en in 1880 getroud met Bettie Botha van Voorbrug, distrik George. Dis tog gans onmoontlik om reeds skatryk te wees wanneer jy op ouderdom 27 trou, dus kan ek met sekerheid aanneem dat Bettie saam met hom Vrystaat toe is, begin huis toe verlang het, en hom omgepraat het om terug te gaan.
Bettie het haar eerste kind, my ouma, gehad toe sy 18 was, en 23 jaar later het sy haar 11de kind in die lewe gebring. Sy het haar drie dogters almal in Engelse skole gesit, en hulle na Rhodes-Universiteit gestuur vir hul grade.
Maar omdat daar geen foto’s van haar is nie, praat sy nog nie terug nie, sien ek haar nie. Ek weet net wis en seker dat sy ’n boekemens was. My heel beste ondervindings met boeke in my tienderjare was met ’n stel fênsie-gebinde Charles Dickens-boeke. Dít is wat my weggeskeur het van Fritz Deelman en Ian Fleming.
In elkeen van daardie stel boeke staan in ’n netjiese handskrif geskryf: Bettie Stander, en daaronder George. Ek is haar diep dankbaar, maar ek sou dit graag self vir haar wou sê, in ’n stil oomblik.
Ontroerende weefkuns
So, op Vryheidsdag bevind ek my in die gasteverblyf van ’n huis in Kleinmond. Ek is daar op besoek saam met my swaer, André Croucamp. Die gasvrou, Helene Rautenbach Behrens, het my gesê om mooi na die matte te kyk terwyl ek in die badskamer is.
Terwyl ek dus in diepe kontemplasie sit, sien ek dit. Die hele badskamer vol – die mure, die vloere, selfs in die stort. Die pragtigste matte. Met sonderlinge uitbeeldings daarop.

Pistole, masjiengewere. Helikopters en vegvliegtuie. Tenks, bomme en missiele. Een van die matte het woorde daarop: The Falling Of Afghanistan. Bo die woorde is ’n vliegtuig wat baie aan ’n Hercules herinner. Dit werp menselywe op die stad daaronder neer.
Geen hoge realisme nie, maar die sjarmante, naïewe benadering van mense wat die goed op ’n afstand gesien het, en nooit ’n vinger op koue staal gelê het nie.
Terug op die ruim voorstoep en die vriendelike tekens van gasvryheid – druiwekorrels, camembert, bloukaas en neute, ’n fles rooiwyn – vou Helene vir ons die verhaal van die matte oop.
Sy het al dikwels die lande waar die ou weefkuns steeds gedy, besoek. Waar die vroue wat met hul hande – én die oorgelewerde kundigheid van geslagte van kelim-, mat- en tapisserie-wewers – besig is om uit die wol van skape hul kunsvlyt te bevolk met die tekens en simbole van die oorloë in Pakistan en Afghanistan.
Hulle beeld nie alleen wapentuig en militêre embleme uit nie, maar ook kaarte van die streke waar dispute met mag en geweld besleg word. Dit is weefwerk wat nie alleen die militêre konflikte gedenk nie, maar ook propaganda is. Sy wys my ’n inligtingstuk waarin gepraat word van terrorisme-tapyte – een van die uitbeeldings is van die aanvalle op die World Trade Centre op 11 September 2001.
Skynbaar is die wewers reeds met die ou oorlog tussen Rusland en Afghanistan geïnspireer om die konflikte te gedenk. Dit is nie vreemd om matte te sien met kaarte van die konflikstreke en die tegnologie van die oorlogsimplemente nie.

Die uitvoer van daardie matte uit Afghanistan is blykbaar verbode, maar dit maak hulle des te meer gesog in die res van die wêreld. Hier sit ek nou in ’n badskamer in Kleinmond en kyk na pragtige voorbeelde daarvan. Dit is ’n vreemde gewaarwording. Iets gestileerds daaraan, maar gesonde verstand sê vir jou dat die wewers, meestal vroue, die oorloë intiem beleef het.
Enkele maande gelede het ek in Pringlebaai op my stoep gesit en kyk hoe vaar die Russiese, Chinese en Iranse bote in Valsbaai. Terwyl die maneuvers aan die gang was, kon ons dikwels die skote hoor, luid soos groot cherry bombs wat mens onder ’n ou 44-gelling-drom laat afgaan.
In Maart 2026 en die eerste weke van April het die Amerikaners en Israeli's snags hul vliegtuie gestuur om Iran te bombardeer. Dit sal interessant wees om te sien hoe die oorlog die Iranse wewers gaan beïnvloed.
Helene het Iran al sedert 1993 dikwels besoek, en weet waarskynlik meer van dié land as baie Suid-Afrikaners. Haar volgende besoek, vermoed ek, sal afhang van wanneer die Citrus Christ tot sy sinne kom.
Skiet tuna
Die Arabiere is nie vreemdelinge in Suid-Afrika nie. Anderkant Prins Albert het ’n paar Saoediërs ’n plaas gekoop en sommer hul eie klein lughawe daar opgerig. In Kaapstad kom daar gereeld Arabiere aan wat allerluukse seiljagte gebruik om suid van Kaappunt te gaan tuna jag.
Een van hul helpers (kom ons noem hom net die Samaritaan) vertel my dis ’n sonderlinge onderneming. Die seiljag gaan soek die tuna, so tussen 40 en 60 seemyle suid van Kaappunt, en dan gaan daar duikers af wat die tuna met allerlei chum naderbring.
Volgende ding is dit die besoeker uit die Midde-Ooste wat per helikopter invlieg, vinnig in sy duikpak indrop, ’n pylgeweer in die hand kry en daar gaat hy, die water in, vreesloos en sorgvry. Sy tuna geskiet, verklee hy gou, woerts terug Kaapstad toe, daar waar die tande skitter en elke glasfluit vol Franse borreltjies is.
Sy tuna word op die seiljag bewerk. Volgende aand is dit sasjimi in Kaapstad. Soms, net soms, draai die weer skielik. Soos verlede naweek, met Vryheidsdag. Dan vaar die seiljag bitter stadig terug Kaapstad toe, deur deinings wat lyk soos die berge en dale van Gesang 47.
Die Samaritaan sê hulle het katte geskiet vir die eerste span.
My oupagrootjie Adolf Schumann het op ’n sendingstasie in Natal grootgeword. Om redes wat ek nog nie kon uitpluis nie, moes hy oor die jare dikwels per posboot van Kaapstad na Durban reis. In 1920, toe hy hoof was van die plaasskool op Klein-Drakenstein, het sy een van sy seuns, Christie, na Rotterdam gereis en per brief vertel hoe die passasiers geteister is deur die rowwe seë.
Die oubaas antwoord toe: “Ik werd zeer getroffen mee wat je vertelde in je brief van jullie zeeziekte, die liet me dadelik denken aan mijne ondervindingen in 1881, 1883, 1886, 1893, 1900 heen en terug reisen tussen Kaap en Natal. Ja, ik kan zoo recht met jullie sympathiseren oor het nare gevoel dat eigenlik onbeschryflik is. Eens in 1886 op mijn terugreis uit Natal was ik zo erg dat ik meermalen wenste het schip kon maar zinken om aan dat nare gevoel een einde te maken.”
Ek het geen annekdotes ter teenprestasie nie. Ek was nog nooit op ’n groot skip nie, en ly aan vertigo. Dis nie interessant nie, maar die katte is grusaam.
Daarmee groet ek.
Kerneels
Navrae ✦ hallobinneland@gmail.com | WhatsApp 083 413 6573. Ons probeer so gou as moontlik reageer, maar soms neem dit 'n dag (of drie of vier).
LOS GOETERS
Anneliese het 'n paar Sondagaanbevelings uit haar spens gelos vir die week:
Bietjie weird
Astronaut.io is 'n weird klein webwerf wat YouTube-video's speel wat niemand of so te sê niemand nog ooit na gekyk het nie. Dit trek video's bymekaar wat die afgelope week op YouTube gelaai is deur te soek na outomaties gegenereerde lêername wat 'n kamera of foon vanself toeken – soos DSC_1234 of IMG_4321.
Die konsep is dat jy 'n ruimtevaarder is wat bo die aarde sweef en deur 'n venster loer na kiekies van gewone menslike lewe — 'n vreemdeling se agterplaas, 'n kind wat speel, 'n stil straat êrens in die wêreld. Dit is verslawend, en vir my ook lewensbevestigend. Bedank my later.
Stickman
Een van my dogter se gunstelingboeke toe sy klein was, was Stickman, geskryf deur Julia Donaldson en geïllustreer deur Axel Scheffler, dieselfde duo as agter The Gruffalo. Dit is in 2008 gepubliseer. Sedertdien het ons 'n ligte obsessie met interessante stokke. Official Stick Reviews is die internet se gewildste plek vir stok-resensies wat van oor die hele wêreld ingestuur word. Ek is mal daaroor!
Kostagram
Gastro Obscura is 'n Instagram-rekening met foto's en beskrywings van ongewone kossoorte van oor die wêreld heen. Hier sal jy Japannese cream puffs kry wat soos katjies lyk, vrugte wat lyk soos 'n ontploffende planeet of soos sjokoladepoeding smaak, en nog baie meer. Heerlik weird.
Spiritualiteit van die Amerikaanse Suide
'n Treffende fotografieprojek wat swart mense se geestelike identiteit en geheue in die Amerikaanse Suide naspoor – deur water, lig en grond. Kennedi Carter Traces Black Spirit in the American South.
Jou naam in rivier en sand
'n Interaktiewe hulpmiddel van Nasa wat jou naam spel deur werklike satellietbeelde van die aarde te gebruik, met riviere, gletsers en kuslyne wat elke letter vorm. Your Name in Landsat.
Japannese treine
Hoekom Japan se spoorweë so goed werk, het blykbaar niks met treine te doen nie. The Secrets of the Shinkansen.
Wat gebeur in die brein tydens 'n nabydood-ervaring?
Die bevindinge van nuwe navorsing is vreemder as wat die meeste neurowetenskaplikes verwag het. The New Science of the Near-Death Experience
Luister
Ilze le Roux het hierdie musiekaanbeveling gestuur:
Die Einde. 🐟
GEE 'N GESKENK
Nooi iemand uit om Binne+Land 'n maand lank gratis te lees!
Klik hier. Al wat jy nodig het, is 'n e-posadres!
Lede se kommentaar