Die Bybelse volk, die moderne staat Israel en die 'taak van bevryding'

MARTHIE MOMBERG vertel van 'n ervaring by 'n grenspos in Israel: hoe desperaat die owerhede was om in haar 'n vyand te vind, en hoe moeilik dit is om te erken dat jy 'n spul propaganda vir soetkoek opgeëet het.

Die Bybelse volk, die moderne staat Israel en die 'taak van bevryding'

Ons verjaarsdagmaand is amper verby. Vandag se brief is gratis. Dankie aan elkeen wat hierdie mylpaal moontlik gemaak het – deur te lees en ook om betalende lesers van Binne+Land te word! As jy nog nie 'n betalende leser is nie, kan jy op die skakel hier onder klik om jou lidmaatskap uit te neem.


Dertien uur by Allenby

Deur Marthie Momberg

1 Desember 2014, 09:00: Helder oggendlig stroom oor die vloer van die Queen Alia-lughawe waar eerwaarde dr. Molefe Tsele, Suid Afrika se destydse ambassadeur in Jordanië, ons inwag. Ons is opgewonde; op pad na ’n internasionale konferensie in Bethlehem.

Die rit vanaf die lughawe buite Amman na die Palestynse grens neem ongeveer ʼn uur. Die pad sny deur ’n dor landskap en loop oor die laagste vaste oorgrensstruktuur ter wêreld. Vir Jordaniërs is dit die King Hussein‑brug, vir Israeli’s die Allenby‑brug en Palestyne noem dit die Al‑Karameh‑brug. Langs die pad hou ons stil by ’n inligtingsbord: ons is op seevlak; ons neem foto’s van ons en die ambassadeur.

Dis my derde besoek aan Palestina en Israel. (In 2011 het ek drie maande lank namens die Wêreldraad van Kerke menseregte-oortredings gemoniteer; in 2012 het ek ʼn groep teoloë namens die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke daarheen vergesel.) Vir my twee kollegas is alles nog nuut. Alle grensposte na Palestina word deur Israelse owerhede beheer en in die motor noem die ambassadeur dat Israelse soldate dikwels passasiers uit die pendelbus tussen die twee grensposte dwing. Toe ons groet by die grenspos, gee hy sy persoonlike selfoonnommer – net ingeval.

Ons verkry klaring en klim in die bus. Ek neem foto’s van die verbyflitsende landskap en my gedagtes loop terug na die gebeure van ʼn paar maande tevore. Raed Zuaiter, ’n gesiene regter en PhD‑gegradueerde, was hier, in die pendelbus, op pad na Nablus in die Wesoewer om huurgeld in te vorder; dit sou betaal vir die behandeling van sy vierjarige seuntjie wat in ’n koma was. Die 38-jarige Jordaanse burger van Palestynse afkoms was ongewapen en polities onaktief.

Die hersiene weergawe van boek is in 2024 gepubliseer.

Aan die Israeliese kant word ons vir die Ebola-virus getoets terwyl ons bagasie met 'n vervoerband die gebou inloop. Dan val ons in die tou om visums te kry. Teen die muur is ʼn reuse skildery van sorgvrye Westerse toeriste. Teen halftwaalf is ons paspoorte en bagasie gekonfiskeer – en ons agter geslote deure.

My twee kollegas in een vertrek, ek in ’n ander. ʼn Vroue-soldaat deursoek my. In die volgende vertrek sit ’n beleefde man met vuil vingernaels agter ’n rekenaar. My adres? Telefoonnommer? Teen die muur leun ’n jong vrou wat my woordeloos dophou. Sy is mooi: ʼn gladde, cappuccino‑kleurige vel, haar hande in die sakke van haar jas. Nog ’n vraag. ’n Vrou in ’n lang rok en kopdoek kom binne en praat met die ander twee in Hebreeus. Sy draai na my en vuur woedende beskuldigings af. Vir wat is ek vir ʼn derde maal in Israel? Wat het ek in Namibië en Ethiopië gedoen? Waar is my ander paspoorte? Waar werk ek? Hoekom? Wie is so en so op my foon? Wie gaan ek ontmoet?

Dit hou aan en aan, sy glo niks wat ek sê nie. Dan bevind ek my in ʼn smal gang met steriele staalstoele vasgebout in die vloer, onder helder neonligte. Langs my sit ’n Palestynse vrou en twee jong mense. “Kry ek koud?” vra sy. My bene bewe onbedaarlik; my gesig brand. Dis winter en ek’s nie koud nie. Ek hou my oë op die vloer. Soldatestewels loop heen en weer, deure klap oop en toe. Is ons onsigbare stofdeeltjies?

Geïsoleerde ruimtes

Ek maak my oë toe en probeer kalm bly. Iemand bring ’n plastiekkoppie halfvol swart tee. Die ander drie kry niks nie. Die vrou word ingeroep. Die deur klap. ʼn Man skree, sy antwoord, hy skree, sy sê iets, die deur klap oop, sy sit en wag. Sy gaan weer in, hy skree, sy antwoord, sy is terug buite, sy is weer binne ... dan word die gesin weggeneem.

Dit was die begin van ’n 11 uur lange proses in geïsoleerde ruimtes tussen minstens 14 amptenare. Weke later het ’n Palestynse kennis, goed vertroud met Israel se sielkundige maneuvers om iemand alleen, kwesbaar en uitgelewer te laat voel, die effek as ’n vloed van verwarring, hopeloosheid en nood beskryf.

Ek het dit maklik gehad. Nege maande tevore, op 10 Maart 2014, het Israelse soldate die bus se passasiers beveel om uit te klim. Regter Zuaiter, hande omhoog, wou weet waarom hy rondgestamp word terwyl hy die bevele gehoorsaam. Hy is op sy knieë gedwing, vyf nabyskote is afgevuur, sy bagasie is met plofstof vernietig en sy lewelose liggaam ure lank in die warm son op die teer gelos.

Carrie Schwartz, ’n Amerikaner wat in Jordanië gewerk het, het die Zuaiter-familie geken. Omdat die Westerse media nie aandag skenk aan Israel se gereelde geweld teen burgerlike Palestyne nie, het sy die storie op my blog gepubliseer. Haar verslag, “I Have One Child – The One You Shot Today”, het binne ure viral gegaan. Human Rights Watch het daarna aan my geskryf en so het dit gebeur dat Carrie hulle kon help om die Zuaiters te kontak. Die gepaardgaande internasionale druk het tot ’n formele ondersoek gelei en Netanyahu moes vergoeding aan die familie betaal. Niemand is egter vervolg nie en Zuaiter se vierjarige seun is dieselfde week oorlede.

Teen die tyd dat ek terug is in die ontvangslokaal met die helderkleurige muurskildery is dit buite donker en binne verlate. ʼn Ruk later het ek weer al my bagasie behalwe my paspoort en ek hoor dat my kollegas ná sewe ure van aanhouding op pad is na die konferensiehotel in Bethlehem.

Daar was geen formele klag ingedien of rede verskaf waarom ek nie ’n visum kon kry nie, en teen tienuur kom sê iemand dat ek wel toegelaat sal word. Nog ʼn uur gaan verby. Toe por ʼn soldaat my sonder om oogkontak te maak na buite aan, terug na waar ons vroeër vir Ebola getoets is – die verkeerde rigting. Ek gaan sit onder die skerp ligte en laat weet ambassadeur Tsele dat ek op pad terug is na Jordanië en slaan my Ken Follett-boek oop om nie die vyf gewapende soldate (moes hulle my oppas?) te sien nie. Een van hulle, ʼn jong vrou, roep opgewonde dat sy ook die boek gelees het en ons wissel ʼn paar woorde.

Kort voor middernag mag ek uiteindelik in die leë, wagtende bus klim. ʼn Soldaat gee my paspoort aan die busbestuurder. By die verlate Jordaanse grenspos wag die ambassadeur en een van sy kollegas my in en help om my paspoort terug te kry. ʼn Stempel – “Allenby Border Control Access Denied” – in Hebreeus en Engels, met twee rooi strepe kanselleer die vorige oggend se klaring. Toe ons in die vroeë oggendure terugry na Amman het ek nie kans gesien vir die warm tee en beskuitjies wat die ambassadeur se vrou saamgestuur het nie, maar ek het geweet: ek het ’n gesig, ’n geskiedenis, ’n plek. Ek is vry.

Makliker om te haat

Wat my bybly, is hoe desperaat Israel was om in my ʼn vyand te vind. Ek het dit geweier. Ek is niemand se vyand nie en beskou niemand as my vyand nie. Dis soveel makliker om te haat of iemand as ʼn bedreiging af te maak. Dan hoef jy nie selfondersoek te doen nie. Dinge is eenvoudiger: jy kan jouself summier regverdig en verdedig.

Net nou die dag vra iemand my aan wie se kant ek is. Toe ek sê ek is aan die kant van die internasionale reg, gryp hy sy kop vas. “What if God promised the land to Israel?” Hier kom dit nou, dink ek: God as eiendomsagent. Weet hy dat die meeste Jode in Israel nie gelowig is nie, en dat die Bybelse volk Israel en die moderne staat Israel nie dieselfde ding is nie, vra ek. Ek noem dat ek tot so 15 jaar gelede ook ʼn hoop mites geglo het. Is die idee van 'n "suiwer Joodse ras" oor derduisende jare heen dan nie op verskeie vlakke ʼn probleem nie? Het Hitler nie ook dié idee gebruik nie? Ek wou nog vra hoe hy dink oor die Palestynse Christene wat ook Semiete is, maar sy seun het my ondersteun en die man het omgedraai en weggeloop.

Dit was Paasnaweek op Struisbaai en ek het verstaan – hy weet nie wat hy nie weet nie en hy weet nie wat om te doen met die nuwe inligting nie.

Hy is nie die enigste een wat nie weet hoe vorentoe nie. Yuli Novak (uitvoerende direkteur van B’tselem in Israel) is een van talle Jode wat praat oor haar land se oogklappe: die onwilligheid om te erken hoe verkeerd dit is om ander mense se grond af te neem, die res te beset en die oorlewendes op elke denkbare manier te onderdruk. Hierdie selfbedrog, sê sy, is ʼn teken van ʼn siek, ʼn baie siek gemeenskap, en om dit teenoor jouself te erken, is die eerste en die moeilikste stap. Nie net die Palestyne moet bevry word nie. Die taak van Jode in Israel is om ook hulself te bevry.

Dis nie maklik om te erken dat jy 'n spul propaganda vir soetkoek opgeëet het nie. Ja, mens verloor hier en daar vriende en dit kan ongemaklik raak om ‘n braaivleisvuur of oor ʼn koppie koffie. Tog bevry dit jou, jy leef ruimer en maak nuwe vriende – die soort wat enige vorm van magsmisbruik en diskriminasie verwerp en ʼn eerlike demokratiese bestel ondersteun.


  • Marthie Momberg het kwalifikasies in teologie, letterkunde en onderwys, waaronder 'n doktorsgraad in teologie. Een van haar primêre fokusgebiede is die Israel-Palestina-konflik. 21 Voices from Israel and South Africa: Why the Palestinian Struggle Matters (2023) is 'n versameling onderhoude met Suid-Afrikaners en Joodse Israeli's wat vir Palestynse regte veldtogte voer.

Die Einde. 🌱


Navrae hallobinneland@gmail.com | WhatsApp 083 413 6573. Ons probeer so gou as moontlik reageer, maar soms neem dit 'n dag (of drie of vier).

GEE 'N GESKENK

Nooi iemand uit om Binne+Land 'n maand lank gratis te lees!

Klik hier. Al wat jy nodig het, is 'n e-posadres!
Deel hierdie artikel
Die skakel is gekopieer

Lede se kommentaar