Dit is ons verjaarsdagmaand. Ons vier dit weer met dié GRATIS brief vir al ons lesers. Dankie aan elkeen wat hierdie mylpaal moontlik gemaak het – deur te lees en ook om betalende lesers van Binne+Land te word!
As jy nog nie 'n betalende leser is nie kan jy op die skakel hier onder klik om jou lidmaatskap uit te neem. Van ons ander briewe sal vandeesweek agter die kraalmuur wees.
Lilith: Venus én verleidster
Deur Nina Overton-de Klerk
Het julle al ooit van die mitologiese vrouefiguur Lilith gehoor? Ek het nie, totdat my man, Willem, my destyds van haar vertel het.
Ek dra hierdie skrywe op aan Willem de Klerk, by wie ek baie van Lilith geleer het. Ná sy dood het ek sy vertellinge gedeel met sy vriend die filosoof Willie Esterhuyse, skrywer van Die God van Genesis, omrede dié se belangstelling in mites. Dit het hom so aangegryp dat hy verdere navorsing oor Lilith gedoen het, wat ook figureer in hierdie stuk.
Lilith was Adam se eerste vrou wat nie aan hom onderdanig wou wees nie. Volgens die mite soos beskryf in die boek Die Alfabet van Ben Sira in ongeveer 800 HJ, het God Adam na sy beeld geskape uit die stof van die aarde, en gelyktydig, vir Lilith, omdat God gedink het dis nie goed vir 'n man om alleen te wees nie. Lilith was beeldskoon, vurig, vrygeestig, en, soos dit geblyk het, glad nie onderdanig nie. Sy het ook geweier om tydens die liefdesdaad die ondergeskikte posisie in te neem, waarop Adam aangedring het.
Toe Adam weer sy oë uitvee, het Lilith uit die Paradys weggeloop. Hy kon haar nêrens vind nie en het toe by God gaan kla. God het ingestem om vir Adam 'n ander vrou te gee – díe keer het God haar geskape uit Adam se nederige ribbebeen, sodat sy haar plek sou ken.
En só het Eva die wêreld ingekom. As Adam se metgesel, steunpilaar, onderhorige, en die mensdom se oermoeder. Dis egter ook sy wat deur die slang verlei is en daardeur vir Adam in die sonde laat val en op die weg van ongehoorsaamheid gelei het.
Opsit met monnike
Intussen het God drie engele gestuur om Lilith te gaan soek en terug te bring. Hulle kry haar toe by die Rooisee, besig om lustig saam met demone (waarskynlik slange) in die branders te baljaar. Sy weier om terug te keer. Volgens oorlewering het Lilith weens haar wegloop van Adam en ongehoorsaamheid aan God, nes Lucifer 'n demoon geword wat in die nag rondloop.
Sy het 'n groot bedreiging vir mans geword, want in die nag het sy bo-op hulle in die bed geklim. Dit was vir die selibate Middeleeuse monnike 'n nagmerrie, wat snags uit vrees 'n kruis tussen hulle bene vasgebind het. Ná 'n nagtelike ejakulasie, so is gesê, kon Lilith se spotlag in die kloosters se gange gehoor word. Wat haar die naam van die "naggees" besorg het.
Lilith word reeds oor duisende jare beskinder. Sy was 'n legende in die Mesopotamiese mitologie en is steeds bekend in die Joodse volksmond. Haar verhaal is in die Apokriewe boeke opgeneem en haar naam verskyn in die Babiloniese Talmud en in Jesaja 34:14 van die Hebreeuse Bybel. In die 17de eeu het Johannes Buxtorf wyer bekendheid aan haar verhaal gegee in die Lexicon Talmudicum.
Goethe verwys só na haar in die eerste deel van Faust (1808):
‘Tis Lilith
Who?
Adam's first wife is she.
Beware the lure within her lovely tresses,
The splendid sole adornment of her hair!
When she succeeds therewith a youth to snare,
Not soon again she frees him from her jesses.
G'n wonder die Engelse skilder John Collier (1887) se uitbeelding van Lilith met die slang was so sensueel nie. Tegelykertyd 'n Venus en 'n verleidster. Die Femme Fatale…

Daar is verskeie variasies en dimensies van die mite, maar dit is moontlik dat die Alfabet se weergawe juis gemik was teen die Joodse ortodoksie gegrond op die Torah. En dat dit juis die patriargale vooroordeel teen die vrou as oorsprong van alles wat kwaad of sleg is, op die tafel wou sit. Dis welbekend dat die latere Judaïsme al hoe meer vyandig teenoor vroue geword het.
Eerste women's libber
Die Alfabet beskryf Lilith as selfstandig en rebels – juis die teenpool van die gedienstige (dog tog verleibare) Eva. Anders as in die paradysverhaal van Genesis, word daar in die Alfabet spesifiek oor seksuele omgang gepraat. Lilith se vrye gees en aandrang om nie altyd "onder" te wees nie, was te veel vir die mans, en daarom is sy gedemoniseer. Volgens sommige teologiese verklarings was sy juis daarom nie 'n duiwel nie, en het sy oorleef. Sy het aangedring op respek en gelykwaardigheid, soos sy geskape is. (Was Lilith die eerste women’s libber?) Sy het inderdaad later 'n simbool van groot inspirasie vir die feminisme geword.
Die verhaal verraai ook veel oor die kultuur-godsdienstige verwysingsraamwerk van die Judaïes-Christelike lewensbeskouing, waar onthouding as 'n deug beskou was, en seks net bedoel om kinders te verwek.
Die optillende verhaal van Lilith laat my egter ook oor die keersy van die munt wonder. Veral oor die binêre ideologiese aannames wat oor mans en vroue en hul rolle bestaan. Want die verhaal van Lilith keer dit juis op die kop. Soos 'n mite maak, daag dit 'n mens uit om die werklikheid te interpreteer. Duidelik was Lilith geen slagoffer nie. Inteendeel…
Is vroue dan die "poor weak creatures" waarna die nimlike Anthony Quinn in Zorba the Greek verwys? (Waarby hy voeg "how can I not love them?"). Of kan hulle ook slimmer – selfs gevaarliker – wees as mans?
Luister bietjie mooi na al die woorde van Harry Belafonte se treffer "Man Smart (Woman Smarter)".
Sy herhalende refrein lui:
And not me but de people they say
That de man are leading women astray
But I say, please listen when I say
She’s smarter than de man in every way
Dat’s right, de woman is uh smarter (x3)
Dat’s right! Dat’s right.
As vrou put ek natuurlik oneindige plesier uit Belafonte se liedjie. Terselfdertyd koggel dit mens om opnuut te besin oor uitgediende (?) clichés en stereotipes van mans as die "sterker, harder, slimmer" geslag, en vrouens as die "swakker, sagter, mindere" geslag. Die óf-óf prentjie…
Ek bevind my waarskynlik nou op gevaarlike, anti-woke terrein, en wil nie veralgemeen nie, maar ek glo nogal dat vroue tegelykertyd, selfs doelbewus, die mindere EN meerdere kan wees. Ondergeskik EN in beheer. Sag EN hard. Begeerlik EN berekend. Weerloos EN wreed. Slagoffer EN provokateur. Prooi EN jagter.
(Dis natuurlik ook moontlik dat juis die een pool deur die eeue tot die ander pool aanleiding gegee het – dalk 'n evolusionêre oorlewingsmeganisme.)
Vroue kan ook bliksems wees
Ek is ook op verskillende maniere op hoogte van verskeie GBG-navorsingsprojekte, en is hoogs bewus van die gruwelike fisieke en seksuele vergrype wat mans teenoor vroue kan pleeg (om nie eens te praat van Gisèle Pelicot nie), wat dikwels gedryf word deur patriargie. Maar, soos ek onlangs aan 'n kollega en bekende GBG-aktivis genoem het, slagoffers van geslagsweld – veral die minder ooglopende dog ewe gevaarlike psigologiese geweld en manipulasie – kan ook manlik wees. Sy het nogal met my saamgestem…
Vroue kan óók bliksems wees.
Veral as, en juis omdat, vroue deesdae die samelewing aan hulle kant het (ek verwys nie hier na die vroue van Iran nie). In die Westerse wêreld het die pendulum grootliks ten gunste van vroue geswaai. Ten regte. Juis omdat vroue eeue lank die slagoffers van patriargale vooroordeel of diskriminasie was. Vele is nog steeds. Maar juis daarom gee dit óók, soos met enige regstellende aksie, aan vroue deesdae meer die voordeel van die twyfel as aan mans. In werksaansoeke en werksaanbiedinge, verhoudings, egskeidings, en noem maar op.
Aannames oor "slagofferskap" loop daarom, myns insiens, die gevaar om te binêr te raak. Daaroor skryf 'n navorsingsgenoot, Howard Nothhaft, aan Lund-universiteit in Swede onlangs: “Sometimes one has to ask whether parties posing as the powerless are indeed as downtrodden as they wish to appear. At times, the ostensibly oppressed are surprisingly effective and ‘strategic’ in elevating their predicaments higher on the agenda.”
Vir Simson was daar ook 'n Delila. En langs die sekshandelaar Jeffrey Epstein het daar ook 'n kille, berekende Ghislaine Maxwell geopereer. Saam met Trump was daar 'n Kristi Noem, Pat Bondi (en steeds 'n Karoline Leavitt). Slagoffers se voet. Selfs onse Winnie Mandela was nie net 'n vlekkelose slagoffer nie. As ek self terugdink aan my beroepsloopbaan, was sommige vroulike base met wie ek te doene gekry het, dikwels gevaarliker en geniepsiger bliksems as van hul manlike eweknieë. En het meer skade gedoen aan hul organisasies. Maar omdat hulle vroue was, het hulle daarmee weggekom. En die manne rondom hulle het op eiers geloop…
Ek sê maar net… Terwille van die keersy van die munt.
Om mee af te sluit: ek identifiseer meer met 'n Lilith as 'n Eva. Juis omdat Lilith wys dat vroue nie net slagoffers is nie. Ek is haar ewig dankbaar omdat sy my aan die ander, heerlike, bevlekte waarheid oor vroue herinner. Die yin en die yang, die donker en die lig – alles opgesluit in die vroulike wese. Viva! Dalk is dit juis dít wat ons vroue so onweerstaanbaar maak…
Nadat ek dit alles gesê het, bly daar net een ding oor. En dit is dat ons eendag, hopelik, die punt sal bereik waar die afspeling tussen geslagte onnodig raak. Irrelevant. Puntloos. Want Lilith herinner ons ook dat die geslagte gelykwaardig geskape is. Ewe heerlik, ewe bevlek. Albei vol lig en donker, elk op 'n unieke manier.
Ek laat dit intussen oor aan ons vroulike lesers (en hulle mans) om self te besluit of hulle 'n Eva of 'n Lilith is.
- Nina Overton-de Klerk is 'n navorser, akademikus en kommunikasiekenner.
Die Einde. 🐍⛓️💥
Lede se kommentaar