'n Beter soort konserwatief, en lugfilters versus skokbrekers

WILLEM KEMPEN probeer die tandeborsel-kloutjie by die knoffel-oor kry en laat jou luister na die oorspronklike RFK. Daar is ook weer 'n Dilemma om op te los.

'n Beter soort konserwatief, en lugfilters versus skokbrekers

Goeiemôre

Ek is konserwatief.

Of liewer, dis wat ek soms vir my kinders sê, al is dit net om te sien hoe die wieletjies in hulle koppe begin spin oor hoe om hierdie afskuwelikheid uit my mond te vervloek en te besweer.

Want in my kinders se wêreld, soos in baie ander mense s'n ook deesdae, het "konserwatief" sinoniem geword met 'n reaksionêre kultuur, met groepsdenke, eiebelang bo 'n sin vir gemeenskap, 'n nasionalisme van die een of ander aard, kleinlike vooroordeel, materiële bo maatskaplike welvaart, en sosiale verkramptheid. Selfs ook met 'n weersin in geleerdheid en om nie respek te hê vir opinies wat van hul eie verskil nie.

Maar dan vertel ek hulle van die konserwatiewe New York Times-rubriekskrywer David Brooks, wat in Februarie vanjaar in 'n toespraak gesê het die Trump-administrasie is net soveel deel van die gehate "Educated Elite" as hyself, maar dat hulle geen positiewe visie vir konserwatisme het nie, bloot 'n haat vir alles wat hulle as "links" sien: "[This] elite narcissism causes them to eviscerate every belief system that they touch. [True] conservatives believe healthy societies are built on healthy institutions, [the members of the Trump administration] are anti-institutionalists. Conservatives believe in steady and gradual change (Edmund Burke), [the Trump administration] are a disruption. Conservatives believe in constitutional government; Donald Trump says: 'I alone can fix this.' Conservatives believe in moral norms; [the Trump administration] are destroying moral norms. The other belief system they are destroying is the Judeo-Christian faith: Judeo-Christian faith is based on service to the poor, service to the immigrant, service to the stranger." (Luister gerus na sy hele toespraak.)

Poging tot 'n ernstige, openhartige gesprek

As die waardes waarvan Brooks praat beteken jy is konserwatief, count me in. En ek wil byvoeg: Eerlikheid en opregtheid en minstens 'n poging tot 'n ernstige, openhartige gesprek. Byvoorbeeld, hoekom is dit dat ander mense so dikwels agterna namens Trump moet verduidelik wat hy eintlik probeer sê het? Moet dit dan altyd deur 'n soort Donald-dekodeerder ontsyfer word?

Ek wil in elk geval ook nie deel wees van "the left" as dit nie insluit respek vir openbare geld, eerbied vir die reg, verantwoordelike toepassing van die landswette, en ordelike, deurdagte verandering nie. Daar is ook fiskale konserwatisme, maar dis 'n storie vir 'n ander dag.

Ek sien in die Amerikaanse finansiële media ál minder van die soort argument wat sê Trump se bravade en grootpratery is deel van sy styl, ignoreer dit maar net, want uiteindelik sal dinge gebeur soos dat inflasie en misdaad sal daal en gesonde verstand seëvier oor sake soos immigrasie en globale handel. En ek sien meer mense wat sê: Hierdie bontpratery oor dinge soos invoertariewe is besig om my besigheid seer te maak; ons het reeds mense begin afdank of ons pryse moes verhoog; hierdie is nié die manier om die Chinese opmars te stuit nie. (En terloops, Trump se "Liberation Day" oor invoerheffings het nog nie veel van 'n verskil aan die amptelike Amerikaanse inflasiekoers gemaak nie.)

Loer sommer ook na hierdie video oor "Why intellectuals are F*cking idiots" – dis 'n moedswillige en click-baity titel, maar kyk in elk geval:

Wat my bring by, nader aan die huis, ons nasionale debat in Suid-Afrika oor die staatsbegroting, wat eintlik ook insluit die gesprekke oor werkloosheid, inflasie en transformasie. Hoekom is dit dat omtrent al hierdie gesprekke in 'n verdagmakery van die "ander kant" se motiewe verval? Is dit regtig so moeilik om te verstaan dat transformasie tegelyk nodig is én tot groter werkloosheid kan lei as dit nie reg gedoen word nie?

En ná hierdie hele groot geveg oor die begroting, waar elke liewe politieke party hoog opgegee het oor hoe hulle namens die massa van ons baklei het, is ons nou regtig beter daaraan toe met 'n groter brandstofheffing maar sonder verhoogde BTW?

'n Komplekse som

Wel, die antwoord hierop is: Sommige van ons is en ander nie. Dis 'n komplekse som wat gaan afhang van dinge soos watter persentasie jou uitgawe aan brandstof uitmaak van jou huishouding of jou besigheid se totale besteding, of hoeveel van die soort kos julle koop wat tot nou toe van BTW uitgesluit was. Die punt is eintlik dat ons nie nou sit met 'n beter situasie wat enige party as 'n politieke oorwinning aan ons behoort te probeer verkoop nie.

Dieselfde soort ding geld inflasie – omtrent niemand se "persoonlike" inflasiekoers gaan dieselfde as die "amptelike" koers wees nie. In Suid-Afrika word die amptelike verbruikersprys-inflasiekoers gegrond op 'n "mandjie" van goedere wat elke vyf jaar hersien word. Dit is op 28 Januarie vanjaar weer gedoen, en dis nogal interessant (en selfs vermaaklik) om te sien wat uitgeval en wat bygekom het. Die amptelike lys is hier, maar daar is niks wat enigeen keer om hul eie mandjie saam te stel sodat hulle hul eie inflasiekoers kan bereken gegrond op hul werklike uitgawes nie.

Van die 53 items wat in Januarie uitgeval het, sluit in:
* Kondensmelk
* Bevrore aartappelskyfies
* Pasta, met die uitsondering van spaghetti en macaroni
* Watersproeiers vir jou tuin
* Teelepels (enige raaiskote?)
* Oogdruppels
* Tydskrifte en musiekinstrumente
* Tandeborsels

Van die 71 items wat bygekom het, sluit in:
* Knoffel (hopelik niks te doen met die tandeborsels wat uitval nie)
* Heuning
* Russians en Weense worsies
* Roséwyn (huh?)
* Lugfilters vir voertuie (maar skokbrekers is nou van die lys af ...)
* Oorringe
* USB-laaikabels

Stats SA verduidelik hier waarom al dié veranderings tot beter inflasiemeting gaan lei, maar kom ons sê maar net al die redes is nie ewe oortuigend nie.


Ek roep jou blaf

Nadat ek lank van X weggebly het omdat die smerigheid die oorhand oor die waardevolle dinge begin kry het, het ek onlangs weer probeer om te sien of die nuutste weergawe van Grok, X se eie kletsbot wat nou oor die inhoud help polisieman speel, enige verskil maak. Die antwoord is ja, dit lyk tog so, al hoor ek ook klagtes dat Elon self skynbaar hier en daar ingemeng het.

Kyk gerus hierdie video wat iemand geplaas het oor die interaksie tussen 'n klomp honde. Ek het Grok se interpretasie en interaksie met ander menings nogal gesofistikeerd en ingelig gevind, maar besluit gerus self en laat weet onderaan wat jy dink.


Kuberskelms kan enigeen uitvang

Ek het die afgelope maand drie oproepe gekry van mense wat kamtig by 'n doeanekantoor in onderskeidelik Kaapstad, Durban en Bloemfontein werk, en dan sê iemand het my naam gebruik om onwettige goedere iewers heen te verskeep. Al drie het die oproep beëindig toe ek iets vra soos "Wat is jou rang en magsnommer?" of "I hope it's not that shitty cocaine from Bangalore again". Maar ek hoor van 'n paar ander mense wat ook sulke oproepe gekry het, plus die gewone skelmstreke om jou sover te kry om betalings uit jou bankrekening goed te keur. In een geval het die boewe voorgegee om van die bank se bedrogafdeling te wees, so moet niemand met jou persoonlike inligting vertrou nie.

Iemand vra my ook gister of dit nog nodig is om te betaal vir beskerming teen virusse op jou rekenaar. Die kort antwoord is nee, iets soos Windows se ingeboude Defender Antivirus is goed genoeg vir die meeste mense, en dis gratis. Vir ekstra beskerming is daar egter niks fout met erkende produkte soos dié van Norton of Bitdefender nie. Maak wel seker jy doen gereeld die amptelike Updates van Windows, want dit sluit beskerming teen die nuutste virusse in. Ek gebruik nou al 'n goeie vier of vyf jaar net Microsoft Defender, sover sonder enige probleme.


Nie musiek nie, maar mooi om na te luister

'n Hele klompie dinge is vandag steeds moeilik om te glo oor die toespraak hier onder. Dis moeilik om te glo dis al in Junie 1966 gelewer, moeilik om te glo dis in Kaapstad gelewer, moeilik om te glo die spreker se broer, en nie hy nie, het president van sy land geword, en moeilik om te glo sy seun wat sy naam dra, is vandag 'n minister in Trump se kabinet (en is selfs in MAGA-kringe 'n bespotting). En, anders as vandag se Amerikaanse president, hoef niemand agterna te wonder hoeveel daarvan hy regtig bedoel het, of te dink dat hy alles bloot gesê het omdat dit was wat sy ondersteuners wou hoor nie:


Dilemma

Vandag se leidraad: 'n Soort bos waaraan geliefdes soms hang.

Hoe om te speel

  • Jy het ses kanse om die woord te raai.
  • Jy mag vir elke raai enige letters in enige volgorde kies dit hoef nie ook 'n woord te vorm nie. 'n Raaiskoot met minstens 'n paar klinkers is dus 'n goeie begin.
  • Gebruik jou toetsbord of die een op die skerm om jou raaiskoot in te tik, dan ENTER.
  • Wat beteken die kleure nadat jy geraai het?
    * Blou beteken die betrokke letter is in die woord én op die regte plek.
    * Rooi
    beteken die letter is wel in die woord, maar nie in die regte posisie nie.
    * Rooi en Geel
    beteken die letter is meer as een keer in die woord, maar hier nie in die regte posisie nie.
    * Grys beteken daardie letter is glad nie in die woord nie.

As jy die woord kon identifiseer, kan jy kliek op DEEL/SHARE om dit op jou Clipboard te plaas sodat jy dit onderaan in die kommentaar kan plak of vir iemand anders kan stuur. Laat weet ook onderaan as jy enige voorstelle het om dit te verbeter of lekkerder te maak.

My brief het ook van vandag af 'n nuwe naam, met 'n effense tegnologie-geurtjie. Wat dink julle?

Tot volgende keer

Willem

E-pos: hallobinneland@gmail.com
Klik hier vir aanwysings om 'n Binne+Land-web-app op jou foon te skep.
[En, as jy hierdie in jou e-pos lees, en jy wil kommentaar lewer, gaan na onderaan hierdie brief en klik op die klein speech bubble wat sê "Comment".]


Die Einde. 🎲


Deel hierdie artikel
Die skakel is gekopieer!

Lid kommentare

Jy mag ook hiervan hou
Lugpos op 'n Saterdag Albertus Van Wyk

Oud word is nie noodwendig oom word nie . . .

ALI VAN WYK sê hy is nou amptelik in die laaste fase van sy middeljare. Dan bepeins hy die Afrikaanse kultuur se ingebore onderdanigheid en deel aanbevelings oor wat om op TV te kyk, asook insigte in die wêreld van die Duitse komponis Felix Mendelssohn.
Lees Meer →
Lugpos op 'n Vrydag Willem Kempen

Verduistering en verheldering + 22 gedeel deur 7

WILLEM KEMPEN wonder oor die stryd tussen woorde en syfers, en of Amerikaanse kinders nog kan spel. Wees ook gewaarsku: Vandag se Dilemma neig na chaos.
Lees Meer →
Lugpos op 'n Sondag. Anneliese Burgess

Boeke, verbeelding, sardyne voor my deur, tee met Tony Leon + 3 wéérmaak-resepte

ANNELIESE BURGESS kyk na die sardynmigrasie in die see voor haar huis, vertel van kinderboeke, verbeelding en hoe Ernest Hemingway haar skryfstyl beïnvloed het. Sy deel ook drie resepte uit haar kombuis wat jy weer en weer kan maak.
Lees Meer →