Aanslag op Mashatile net dwaalkoeëls ... yeah, right.

Is ons almal swak landsburgers dat ons nie eens meer wil weet van die sistemiese twak nie, wonder ALI VAN WYK. Hy bekyk ook die twak in Amerika, en raak liries oor die “digter van tenore” en ander goeie goeters.

Aanslag op Mashatile net dwaalkoeëls ... yeah, right.

Inhoud

  • Rubriek: Dis ’n lag, maar dis ’n wrang lag
  • Warboel Skunnige Skakels: Biden se blapse en Elon se exodus
  • Warboel Wysies: Nicolai Gedda, droomtenoor
  • Warboel Meghafters: Aardse dinge wat hóú

Dis ’n lag, maar dis ’n wrang lag

Dagsê, dagsê, dagsê

Straffeloosheid. Dis dalk oor Afrikaans, Zoeloe, Xhosa en Sotho nie ’n lekker woord het vir “impunity” nie dat dit so algemeen geraak het in Suid-Afrika. Dis nou al amper twee dekades wat misdaad, veral korrupsie, en plein eenvoudige traak-my-nie-agtige arrogansie, of blote onvermoë, so sistemies geraak het in Suid-Afrika dat mense nie eens meer oplet wanneer dit op groot skaal gebeur nie.

As ek hoor dat iemand R5 miljoen rand by die ATKV se hoofkantoor gesteel het, dan dink ek dit is skandalig, maar as ek lees dat nog R7 miljard 'n vae spoor gelaat het uit Transnet of Eskom se kleinkas, dan lees ek dit nie eens nie, want ek kan nie sulke bedrae in my kop konseptualiseer nie, en die AmaBhungane-storie daaroor is gewoonlik so vervelig en kompleks dat ek letterlik aan die slaap raak.

Dit maak van my ’n swak landsburger, maar die feit is dat ons almal so afgestomp geraak het. Dit maak van ons almal swak landsburgers; nie omdat ons wil nie, maar omdat ons nie anders kan nie. Dit is een van die dinge wat ’n mens die moer in maak. As ek egter nie kon lag oor sommige van die dinge nie, sou ek myself al lankal sit en verveel het in Perth, gode behoede.  

Lees maar enige week ons media, waarvan die verslaggewingsvermoë die laaste paar jaar besonder afgeskaal het, en jy sal verskeie gevalle van hierdie hansworsagtige wanbestuur en korrupsie raak lees.

News24 berig Dinsdag oor City Power, ’n maatskappy wat volledig aan die stad Johannesburg behoort, wat tans met ’n negatiewe bankbalans van R16,3 miljard sit. Dink daaroor. Dis 16 000 keer miljoen rand. Dit is ’n verblindende bedrag. Dit is byvoorbeeld ’n kwart van die totale begroting van die eThekwini-munisipaliteit (Durban).

Vanjaar het City Power R3,9 miljard minder ingesamel van sy kliënte as waarvoor hy begroot het (flater no. 1), en wat toe gebeur, is dat die munisipaliteit se boontjietellers skelmpies geld uit sy eie bestedingsbegroting geskuif het (flater no. 2), want anders gaan die ligte af en al die fabrieke gaan staan stil. Wat dit eintlik beteken, is dat Johannesburg se munisipaliteit by sy eie departemente geld afgerokkel het om dit te laat lyk of alles piekfyn is.

Dit alles staan in ’n verslag van ’n orgaan van die munisipaliteit self (Johannesburg se departement groepsfinansies), goedgekeur deur die finansiële hoof, Tebogo Maroko, wat reeds in Desember gewaarsku het dat Johannesburg se munisipale finansies in die moeilikheid is.

Die burgemeester, die ANC se Dada Morero, word deur die munisipale wet verplig om so ’n verslag aan die stadsraad voor te lê, maar Morero se geniale oplossing vir die probleem is om dit nié voor te lê nie (flater no. 3). Probleem opgelos! Die hond het my huiswerk geëet!

Lukrake skote tref Mashatile se wiele

Die stukkie “impunity” wat my egter hierdie week die lekkerste laat lag het, was die “verslag” oor die skietery op ons onderprez, Paul Mashatile, se motor op die aand van 30 Maart vanjaar op die N3 wat tussen Alexandra en Isando se nywerheidsgebied deur loop.

Luidens die verslag, deur kol. Chris Mangena, ’n forensiese kenner, en aan onderprez Mashatile voorgelê deur genl. maj. Wally Roode, die hoof van die presidensiële beskermingseenheid, is die verskeie identiese merkies op die gepantserde voorruit van Mashatile se voertuig die gevolg van korrels uit ’n haelgeweerpatroon wat sonder bedoeling en lukraak afgevuur is en slegs die onderprez se kar getref het wat in die middel van ’n konvooi gery het, wat teen meer as 160 km/h gereis het.

Dankie, almal! Saak opgelos! Gaan asseblief huis toe, hier’s niks om te sien nie.

Raait, Wally en Chris, so wat julle sê, is dat daar dalk ooms met sulke Sherlock Holmes tipe tweed pette en klere in die padreserwe langs Alexandra besig is om patryse of eende te jag en toe skiet een per ongeluk die onderprez se motor raak. Nét sy motor in die konvooi, wat teen meer as 160 km/h gereis het. Op ’n openbare pad. Ek meen, die ooms moes naby aan die pad gewees het, want ’n haelgeweer se korrels trek nie ver nie.

’n Ander moontlikheid is dat ’n bende transitorowers afgetrek het om te piepie, en toe trek een van die aangeklamde lede per ongeluk sy afgesaagde haelgeweer se sneller presies in die rigting van die onderprez se motor.

Die moontlikhede is legio en die saak is nou in die hande van die polisie (spontane gejuig).

Geniet die naweek en hou die blink kant bo!

Ali

E-pos: hallobinneland@gmail.com
Klik hier vir aanwysings om 'n Binne+Land-web-app op jou foon te skep.
[En, as jy hierdie in jou e-pos lees, en jy wil kommentaar lewer, gaan na heel onderaan hierdie brief en klik op die klein speech bubble wat sê "Comment".]


Warboel Skunnige Skakels

How Joe Biden Handed the Presidency to Donald Trump
At a fateful event last summer, Barack Obama, George Clooney, and others were stunned by Biden’s weakness and confusion. Why did he and his advisers decide to conceal his condition from the public and campaign for reëlection?

Elon vat sy laptop en loop

Elon Musk het vandeesweek aangekondig hy is klaar met die Department of Government Efficiency (Doge), die regeringsagentskap waarmee hy aanvanklik beweer het hy R2 biljoen (trillion) uit die Amerikaanse regering se besteding sou besnoei. Uiteindelik het hy na beraming slegs ’n duisendste hiervan besnoei. Hier is ’n wydlopende onderhoud met hom by die Qatar Economic Forum.


Murphy se wette

Hou gerus vir Chris Murphy, Connecticut se senator, dop. Hy het sy vinger op Trump se pols en hy laat nie ’n geleentheid verbygaan om korrupsie in die Withuis lug te gee nie. Hier is ’n onderhoud met Pod Save America se Tommy Vietor.


Rogan en kie onderskat Dricus, al weer

Dis nou eers Mei en die opgewondenheid vir aanhangers van gemengde gevegskuns loop al hoog oor UFC 319 op 16 Augustus (Sondag 17 Augustus, SA tyd), die toernooi waarin Suid-Afrika se Dricus du Plessis teen die Rus Khamzat Chimaev veg. Luister wat Joe Rogan en so ’n paar ander kenners dink. Du Plessis se grootste uitdaging is Chimaev se brutale stoeivermoë.


Warboel Wysies

Die digter van tenore

L’Elisir d’amore: “Una Furtiva Lágrima” deur Gaetano Donizetti, uitgevoer deur Nicolai Gedda

Nicolai Gedda sing Donizetti se “Una Furtiva Lágrima”. Die dirigent is James Levine, met die Metropolitaanse Opera se orkes in New York.

Vir die meeste kinders is dit nie natuurlik om sommer net van opera te hou nie. Die registers waarin dit gesing word en die oordrewe uitdrukking van emosies dateer uit ’n tyd tussen 100 en 300 jaar gelede, boonop in ’n vreemde taal.

My ma het soms op ’n Sondagoggend terwyl sy kos gemaak het saam met die soprane gesing op die Afrikaanse diens se klassiekemusiekprogram. Ek en my boetie het gedink dis baie snaaks om dit in ons eie oordrewe komiese styl te na-aap, of te vra: “Hoekom huil die tannie dan so?”

Super-kinderagtig. Ek was al diep geïnteresseerd in instrumentale musiek terwyl ek nog gesukkel het met opera, al het mens lankal in die musiekwêreld geleer dat die stem die suiwerste musiekinstrument is en dat alle ander instrumentale musikante eintlik probeer om die stem na te boots.

’n Sanger sonder amplifikasie op ’n verhoog in ’n groot teater met ’n paar duisend mense, boonop begelei deur ’n groot orkes, móét oordrewe en geprojekteerd sing, nes akteurs se bewegings en gesigsuitdrukking oordrewe moet wees op ’n verhoog om ’n impak te hê. Gooi boonop die Italiaanse emosionele temperament by die resep en dan het jy melodrama, soos baie van die 19de-eeuse operas.

Sommige mense is van die begin af lief vir opera, ander leer om dit te waardeer en die res maak kinderagtige grappies daaroor tot hulle die dag van ’n kroegstoel afval en hul nek breek.

Ekstra insig bring deurbraak

Ek was omtrent 20 toe ek een aand saam met ’n goeie vriend onder die Eersterivier se eike sit en musiek luister het op die motor se kassetspeler. Ons het “ekstra insig” gehad in die musiek . . . Kom ons sê maar net daar was meer rook binne in die kar as buite. Hy was ’n tenoor wat les geneem het by die wonderlike Suid-Afrikaanse sopraan Nellie du Toit, vasbeslote dat ek moet hoor wat hy kan hoor.

Hy speel toe die beroemde Sweedse tenoor Nicolai Gedda se weergawe van die aria “Una Furtiva Lágrima”, uit Gaetano Donizetti se opera L’elisir d’amore (“Die wondermiddel van die liefde”, 1832), ’n komiese melodrama. Die tenoor speel Nemorino, ’n peasant wat naby aan die einde van die opera onder die indruk is dat ’n vals doepa vir die liefde uiteindelik gewerk het om die hart van sy droomliefde, Adina, te wen. Adina was so ’n bietjie bo sy stasie in die lewe.

Ek kon skielik hoor waaroor dit alles gaan. Die lieflike liriese gehalte, die nuanse van stemkleur en dinamika, die betowerende tegniek. Dit was soos om na een van daardie optiese-illusie-tekeninge te kyk waar jy veronderstel is om ’n gesig te kan sien, en ná jare sien jy dit skielik.

Gedda is in 1925 in Stockholm gebore as Harry Gustaf Nikolai Gädda, die buite-egtelike kind van ’n Sweedse moeder en ’n half-Russiese vader wat deur sy tante grootgemaak is. Sy stiefpa was toevallig ook Russies, ’n voorsanger en koorleier in die Russies-Ortodokse Kerk en ’n bassanger in ’n koor van Kosak-bannelinge. Die hoogs talentvolle Nicolai het van meet af in die regte omgewing grootgeword om as kunstenaar te ontwikkel. Teen die tyd wat sy stem volwasse was, op 26, het hy sy debuut in ’n hoofrol gemaak as Chapelou in Adolphe Adam se Le postillon de Lonjumeau.

Nicolai Gedda sing die aria “Kuda, kuda, vi udalilis” (“O, waarheen het jy gegaan?”) uit Tsjaikofski se opera Eugen Onegin.

Dit was ’n triomf, en Gedda was kort daarna ’n wêreldster en sy loopbaan het vir die volgende 50 jaar voortgeduur, met meer as 70 rolle in operas roor die wêreld heen en meer as 200 opnames. Met sy laaste konsert was hy al 80 jaar oud.

Gedda was een van die 20ste eeu se grootste bel canto-tenore. “Bel canto” beteken “mooi sing” in Italiaans en dit verwys na ’n styl waar die sanger eweredige toonbeheer het oor sy hele omvang, met uitsonderlike legato-frasering (sonder onderbreking). Gedda is bekend om sy uitsonderlike en moeitelose musikaliteit en sy pragtige toon, veral in die hoë register.

As jy iemand soos Luciano Pavarotti se hoë register as ryk en kragtig sou beskryf, sou Gedda in baie gevalle as ligter, meer liries, met die gehalte van sy of heuning beskryf word. Gedda kon besonder genuanseerd in sy hoë register sing. Bewonderaars van Gedda verwys steeds gereeld na hom as “die digter van tenore” en “die intelligente tenoor”.

’n Vermaaklike speletjie om te speel as jy verveeld is op ’n Vrydagaand, is om ’n kort standaard- romantiese aria te kies en na soveel as moontlik verskillende interpretasies te luister – Gedda, Björling, Wunderlich, Pavarotti, Domingo, Carreras, Kaufmann. Naas Gedda het Carreras my die meeste verbaas met “Una Furtiva Lágrima”.

Nicolai Gedda Vocal Perfection Documentary 2015
32000 opera performances, FREE for the opera fan

'n Omvattende dokumentêr oor Nicolai Gedda wat in 2015 vrygestel is deur die regisseur Michael Beyer.

Donizetti die tragiese reus

L’elisir d’amore is ’n tipiese vroeg 18de-eeuse Italiaanse komiese opera: vermaaklik, lig en relatief kort, maar met outentieke emosionele gehalte.

Donizetti (1797-1848) was 35 toe dit die eerste keer opgevoer is en dit is sedertdien nog altyd gewild. Dit was vyf jaar voordat sy geliefde vrou, Virginia Vasseli, dood is aan cholera (1837) en Donizetti fisiek en geestelik in ’n afwaartse spiraal beland het.

’n Portret van Gaetano Donizetti in 1837, deur Francesco Coghetti.

Donizetti het uit ’n nederige huis gekom in Bergamo in die noorde van Italië – sy pa was ’n wewer – en dit was net sy ooglopend besonderse talent wat hom van ’n behoorlike opvoeding verseker het. Hy was besonder produktief en het in sy sowat 20 produktiewe jaar 70 operas geskryf, wat ’n ongelooflike bydrae was tot die Italiaanse opera-ontwikkeling en -tradisie.

Sy laaste 10 jaar is ongelukkig gekenmerk deur toenemende geestesversteurdheid, waarskynlik vererger deur sifilis wat hy in sy jeug opgedoen het. Teen 1840 was hy duidelik nie meer gesond nie – hy was geneig tot gewelddadige uitbarstings, paranoïese delusies en tydperke waarin hy hom geheel van die wêreld afgesluit het. Sy professionele sukses en nalatenskap is merkwaardig in hierdie konteks.

In die paar jaar voor sy dood in die sorg van vriende in Bergamo was hy verlam en kon nie meer praat nie.


Warboel Meghafters

Aardse dinge wat hóú

Nederige goeters wat met sorg vervaardig is om te hou, maak my hart gelukkig. Ek is al ’n toppie, maar ten minste sê ek nog nie: “Ja, kwit, destyds het hulle mos nog ’n ding ordintlik gemaak om te hou. Kyk net al die plêstiek gemors in deesdae se karre.”

Dis snert. Ek onthou my pa se Chev Kommando was ’n ou kar ná 12 jaar. In vergelyking daarmee koop ek maklik ’n goed opgepaste Toyota, Honda, Suzuki of selfs Hyundai wat reeds 12 jaar oud is. Plastiek en al. Die goed hou net langer.

Hier’s vyf goeters van goeie gehalte wat my gelukkig maak.

Blundstone-stewels

Ek is swaar op die skoeisel – trap ’n paar Adidas-tekkies desmoers in ’n jaar. Ek voel dis net nie goed genoeg nie. Dis hoekom ek vier jaar gelede met ’n Kersbonus ’n paar Australiese Blundstone-stewels gaan koop het in ’n jagwinkel waar die rye opgestopte bokkoppe teen die mure my tienerdogter die horriepieps gegee het.

Ek dra daai trappers 24/7 tussen Mei en September elke jaar, en daar’s nog ’n goeie twee seisoene in hulle oor, wat dit ’n totaal van omtrent ses jaar sal maak. Dit het destyds sowat R3 000 gekos, wat my effens bewerig die debietkaart aan die kassier laat oorhandig het, maar oor tyd was die Blundies baie goedkoper as sneakers.

Blundie-fans was ’n paar jaar gelede hartseer om te hoor dat Blundstones nie meer ingevoer word na Suid-Afrika nie, maar wees gerus, kamerade, hulle is terug by Safari & Outdoor, en nou gaan jy éérs hik teen R5 800 per paar!

Die alternatief is om Blundstones se groot Aussie-teenstanders te koop – Redback (verskaffer van die Australiese weermag) – beskikbaar by Agrimark vir R2 700 of op Takealot vir R3 099. Die enigste probleem is dat Redbacks net ’n regte growwe werkstewel het, en nie soos Blundstone ’n meer fênsie DKW-skoen (dans, kerk en werk) wat jy met gemak kan dra as jou dogter trou nie.


Barmah-seilhoed

’n Man moet ’n goeie hoed hê, besef ek so ’n paar jaar gelede op ’n reis deur die Kaokoland, toe een van my reisgenote daagliks ’n elegant gevormde breërandhoed dra. Ek onthou hy het gesê dit kom uit Australië. Die twee bekende handelsmerke vir Aussie-hoede wat mens hier kan koop, is Akubra of Barmah, by dieselfde bokkop-winkel.

’n Barmah-seilhoed uit Australië, ná vier jaar diens.

Ek het net eers ’n vraag. Wat de duiwel maak dat die Aussies buitelewe-klere (en ander kampgoed) van ’n soveel beter gehalte maak as ons powere Suid-Afrikaanse goed?

Op daai selfde trip het ek maar bedremmeld gelyk in my plaaslik vervaardigde Rogue-hoed, wat, weke nadat ek hom gekoop het, sy vorm verloor het. Dis wragtig nie die hoed waarmee jy in ou kisklere op ’n skimmelperd by die nooi Van Meulendorf op die lusernplaas in die rivierkronkel wil gaan kuier nie.

’n Roque-hoed uit Suid-Afrika, ná twee jaar diens.

Rogue is ’n mooi plaaslike entrepreneurstorie, maar hoekom is die hoede nie van dieselfde gehalte as die Aussies s’n nie?

Ek het toe vir ’n verjaarsdag ’n Barmah by my gesin gekry wat ek ’n paar jaar gedra het en toe eendag op die vensterbank bo die urinaal in Punda Maria se ablusie vergeet het. As jy hom gekry het, good for you.

Hierdie een kos so R1 400, maar jy kry duurder Barmahs wat jy kan opvou en in ’n tas druk (Squashies), en as jy hom uithaal, pop hy weer oop tot sy oorspronklike vorm.

Na Akubras kyk ek nie eens nie. Hulle ruk jou hier by die R6 000 na R7 000. Ek is seker daar hang so ’n paar op die kapstok in Johann Rupert se plaashuis.


2007-Hilux-dubbelkajuit, 4x4, 2.5 SRX

Ek moes vyf jaar gelede my voertuig vervang en dit moes ’n 4x4 wees wat nie breek nie, want ons gesin ry Suider-Afrika plat. Ek wou ’n Toyota Hilux hê wat hopelik reeds ’n bietjie ingerig was met ’n kampeerkappie en laaistelsel, maar my joernalisbegroting was onder R200k en die standaard-3-liter-D-4D-Hiluxe se prys was ver noord hiervan.

Toe onthou ek Toyota het ook ’n 2,5-liter-dieselbakkie en my vriend Frank Carlisle, wat ’n safari-toerbesigheid bedryf, het my vertel hy looi sy twee bakkies daagliks in Botswana op ruwe paaie en in die veld met omtrent ’n ton se vrag, en elkeen het sowat 500 000 km op en buiten dienste moes hy nog net een wheel bearing van een van die bakkies vervang, dis al.

Ons het hierdie een, Whitey, vir R170k opgespoor, reeds toegerus, en hy het al meer as 130 000 km gery oor die hele land heen, duisende kilometer grondpad en ver ente ware veldry op sand en klippe, en Whitey sê net ja pappa, goed pappa. Behalwe vir dienste (wat meestal minder as R2 000 kos), het hy nog nie een probleem gehad nie, en hy kan jou na enige plek neem wat ’n miljoenrand-Land Cruiser kan. Moet egter nie ’n fout maak nie, dis g’n Ferrari die nie …


Woolworths se waterlose vlekvryestaal-potte en -panne

Op ons troue in 2001 het my skoonma vir ons ’n volledige stel vlekvryestaalpotte en -panne van Woolworths met swaar bodems gegee. Ek is nie ’n kenner van potte en panne nie, maar ek kook met geweld en hierdie lot hanteer enige mishandeling soos Kwagga Smith ’n Walliese senter afskud. Hulle sit daar in die kastrolkas en sê vir my: “Bring it on, show us what you got.”

Anders handelsmerke wat ons deur die jare aangeskaf het, kon glad nie die pas volhou langs hierdie troopers nie, en is al vergete op ’n ashoop iewers.

Dit lyk wragtig of Woolworths steeds hierdie reeks verkoop, die styl intussen aangepas, maar ek herken dit aan die woorde “waterless cooking” en so ’n paar ontwerpkenmerke wat nog vasbyt. Die middelgrootte kastrol (4 liter) kos byvoorbeeld deesdae R1 499, terwyl ’n soortgelyke pot van AMC (3,7 liter) R4 607 kos en van Le Creuset (4 liter) R2 800.

Ek laat my nie vertel die Woolies-pot is van mindere gehalte as enige van die twee nie.


Verimark-groentetjopper

Die goeters in my wêreld wat 25 jaar hou en boonop nog goedkoop was en nie in ’n winkel met snobwaarde gekoop is nie, gee my die grootste plesier. Soos hierdie hand-groentetjopper van Verimark wat my ma my gegee het so 20 jaar gelede. As ek meer as twee uie moet optjop vir ’n bredie of sop, haal ek hierdie meneertjie uit die kas uit en roer daai uie se sake, sonde trane. Hy loop steeds soos ’n Vaaljapie-trekker op ’n boontjieland met lemme so skerp soos op die eerste dag.


Die Einde.🐕


Deel hierdie artikel
Die skakel is gekopieer!

Lid kommentare

Jy mag ook hiervan hou
Lugpos op 'n Saterdag Albertus Van Wyk

Oud word is nie noodwendig oom word nie . . .

ALI VAN WYK sê hy is nou amptelik in die laaste fase van sy middeljare. Dan bepeins hy die Afrikaanse kultuur se ingebore onderdanigheid en deel aanbevelings oor wat om op TV te kyk, asook insigte in die wêreld van die Duitse komponis Felix Mendelssohn.
Lees Meer →
Lugpos op 'n Vrydag Willem Kempen

Verduistering en verheldering + 22 gedeel deur 7

WILLEM KEMPEN wonder oor die stryd tussen woorde en syfers, en of Amerikaanse kinders nog kan spel. Wees ook gewaarsku: Vandag se Dilemma neig na chaos.
Lees Meer →
Lugpos op 'n Sondag. Anneliese Burgess

Boeke, verbeelding, sardyne voor my deur, tee met Tony Leon + 3 wéérmaak-resepte

ANNELIESE BURGESS kyk na die sardynmigrasie in die see voor haar huis, vertel van kinderboeke, verbeelding en hoe Ernest Hemingway haar skryfstyl beïnvloed het. Sy deel ook drie resepte uit haar kombuis wat jy weer en weer kan maak.
Lees Meer →