Inhoud
- Rubriek: Cyril Ramaphosa in die Withuis
- Die week in ses nuusbrokkies
- Warboel Wysies: Sviatoslav Richter
- Warboel Chowdown: Jagterspot
Cupcake, die Cutmaker en die gholftrol
Dagsê, liewe vriende
Voorspelbaar het mense Donald Trump se vergadering met Cyril Ramaphosa en sy "motley crew" volgens hulle diepliggende oortuigings en vooroordele geïnterpreteer.
'n Gros wit Afrikaners het Trump bedank dat hy "die waarheid gepraat" en Ramaphosa die leviete voorgelees het, onderstreep deur goor aanmerkings oor ons prez. Geen verrassings daar nie.
Aan die middel-linkse kant, veral van swart kommentators, het ek 'n teleurstelling ervaar dat Cyril nie vir Donald aan die keel gegryp en sy haarsproei uitgeskud het in die hooftempel van wit oppermag nie.
Thato Mmereki, 'n kommunikasiespesialis, sê op Facebook: "This is not diplomacy. This is cowardice. No confident, self-respecting president of a post-colonial democracy should allow his country to be dragged through the mud without fighting back – not with arrogance, but with facts, with history, and with the unshakable weight of moral conviction. One thinks of how Mandela would have responded to such a provocation – with measured but unmistakable strength."
Ek dink Thato vergeet 'n paar dinge. Daar is 'n verskil tussen Mandela wat Bill Clinton oor die kole haal en Cyril Ramaphosa wat Donald Trump in die openbaar trompop loop met waarheid en feite. Clinton was 'n fanboy van Mandela, en 'n man met ten minste 'n sweempie van 'n morele raamwerk, terwyl Trump 'n narsis en waarskynlik 'n psigopaat is met geen morele kode nie. Selfs as Mandela Trump gekonfronteer het, sou dit in 'n speelgrond-barney in Zelensky-styl ontaard het.

Die Westerse media het in die meeste gevalle Trump in die eerste paragraaf veroordeel omdat hy samesweringsteorieë versprei. Ramaphosa, met sy waardigheid onder druk, is gelukgewens.
Ek weet nie of Ramaphosa Urbanol drink nie, maar om daai soort kalmte in 'n leeukuil te bereik sal ek ten minste ses pilletjies moet sluk. Hy't geweet waarvoor hy hom inlaat. Hy't geweet sy kanse was nul om as "die wenner" uit die Withuis te stap; die beste wat hy kon doen, was om nie vermorsel te word nie. En na my beskeie mening het hy dit reggekry, met onderskeiding.
Dapper en indrukwekkend
Dit was dapper en indrukwekkend, want ons weet Ramaphosa het dit gedoen met ekonomiese realiteite in gedagte, in plaas van om 'n genitalieë-swaai-kompetisie te wen. Sonder twyfel is Cyril en kie deur 'n kommunikasiekundige voorberei om die Zelensky-situasie te vermy. Streel die ou nool se ego selfs as jy moet lieg oor die goue junk wat hy op die Oval Office se mure geplak het, dra 'n geskenkie saam, hou die stemtoon innig, keer terug na onderwerpe soos "geskiedkundige vennootskap" en "wedersydse handelsbetrekkinge". Maak gholfgrappies. Dit het in 'n mate gewerk, selfs tydens die hinderlaag met die Malema-video's en boere-gedenkinstallasie van kruise.
Hoe kan iemand 'n groter probleem hê met Ramaphosa se optrede tydens die ontmoeting, as wat hulle het met Trump se vals identifikasie van 'n gedenkterrein as 'n massagraf? Die verskil is betekenisvol. Om dit 'n massagraf te noem suggereer dat al hierdie boere binne 'n kort tyd afgemaai en in Nazi-styl met bulldozers in 'n massagraf ingestoot is. Dis heeltemal anders as om 2 500 kruise te plant vir boere en plaaswerkers wat sedert 1994 in misdaadaanvalle dood is. Ja, die sterftesyfer is tragies, maar dit is nie 'n massamoord in 'n kort tyd nie.

In plaas daarvan dat Ramaphosa se indrukwekkende optrede my met vreugde vervul, laat dit my wonder waar hierdie Cyril by soveel ander geleenthede is wanneer ons nasie dringende leierskap nodig het. Hoekom reserveer hy hierdie soort demonstrasies van staatsmanskap, ware politieke intelligensie en moedigheid vir een keer elke vyf jaar?
Stokswaaier, nie denker nie
Die grootste faux pas van die dag het van The Big Easy gekom. Ai, ou Ernie. Ons weet Els is 'n groot Mandela-fan, maar hy sal in die een of ander stadium ook moet verstaan dat om Donald Trump te bedank vir Amerika se hulp tydens die Angola-oorlog 'n belediging vir die meeste swart Suid-Afrikaners is.
Daaroor is natuurlik ook 'n stortvloed gal op sosiale media gebraak, sekerlik tereg, maar ek dink dit sal beter wees as iemand met 'n bietjie serebrale gravitas vir Ernie om die skouers vat, eenkant toe saam met hom stap en vriendelik aan hom verduidelik hoekom 'n mens liefs nie meer sulke goed moet sê nie, en dat hy moet gaan dink waarom nie. Die ou is 'n stokswaaier, nie 'n denker nie. Die aanvoering vir die vergadering was per slot van rekening ook blykbaar sy inisiatief. So, hy gee om, op die een of ander vlak.

Ek is moeg vir al die bitterheid en aggressie, van alle kante af, wat uiteindelik erger is as die aanvanklike uitspraak. Ek erken ook ruiterlik dat die wêreldkampioene in galbraak en rassistiese beledigings 'n faksie mense is aan wie ek verbind is deur velkleur en taal (maar absoluut boggherol anders). Kan ons almal daaraan werk om hofliker en meer vergewensgesind te raak? Samblief?
Laat dit jubel en juig
Ali
E-pos: hallobinneland@gmail.com
Klik hier vir aanwysings om 'n Binne+Land-web-app op jou foon te skep.
[En, as jy hierdie in jou e-pos lees, en jy wil kommentaar lewer, gaan na heel onderaan hierdie brief en klik op die klein speech bubble wat sê "Comment".]
Warboel Nuusbrokkies
- Politiek. Die wêreldmedia het pres. Cyril Ramaphosa en die res van die Suid-Afrikaanse afvaardiging se besoek aan pres. Donald Trump en sy afvaardiging van Amerika oorwegend as 'n produktiewe ervaring vir die Suid-Afrikaners beskryf, ondanks Trump se poging om hulle in 'n politieke hinderlaag in te lei met video's van 'n aggressiewe Julius Malema wat radikale gronduitsprake maak en 'n reeks artikels wat Trump beweer het bewyse is van 'n wit volksmoord in Suid-Afrika.
- Sokker. Oor die Europa League Final het 'n plaaslike sokkerjoernalis, Louis de Villiers, hierdie week die ou Griek in Asterix at the Olympic Games aangehaal wat vir die Romeine gesê het: "Good luck, and may the least hopeless win." Die "least hopeless" was toe Tottenham Hotspurs, wat Manchester United 1-0 geklop het. Brennan Johnson het die Totties se enigste doel aangeteken. Spurs en United is die 17de en 16de spanne op die Engelse Premierliga se puntetabel. Die UEFA Europa League is die tweede vlak in die Europese liga, onder die UEFA Champions League.
- Misdaad. Die statistieke vir die meeste ernstige misdade, behalwe seksuele oortredings, is laer in die nuutste kwartaalverslag deur die Suid-Afrikaanse Polisiediens. Moord het met 12,4% gedaal, roof met verswarende omstandighede is af met 10,4%, maar verkragting het met 0,3% gestyg.
- Begroting. Die jaarlikse regeringsbegroting is Woensdag met die derde probeerslag uiteindelik aan die parlement voorgelê deur die minister van finansies, Enoch Godongwana. Die groot nuus is dat BTW op 15% bly, ná sterk weerstand uit groot dele van die Suid-Afrikaanse samelewing. Die tekort in die begroting sal nou gedek word deur 'n verhoging in die brandstofheffing (16c op petrol en 15c op diesel). Persoonlike belastingkerwe bly dieselfde.
- Trump-heffings: Donald Trump dreig Apple met 'n 15%-tariefverhoging as Apple nie die vervaardiging van die iPhone volledig na Amerika skuif nie.
- Washington-skietery. Die twee personeellede van die Israeliese ambassade in Washington DC wat Woensdag buite die Capital Jewish Museum doodgeskiet is, was 'n paartjie wat op verlowing gestaan het. 'n Man met 'n handwapen het Yaron Lischinsky en Sarah Lynn Milgrim op 'n kort afstand doodgeskiet. Elias Rodriguez (31) is gearresteer en van moord aangekla. Tydens die arrestasie het hy gesê: "I did it for Gaza."
Warboel Wysies
Sviatoslav Teofilovich, die grote
Hierdie week se Warboel Wysies gaan oor 'n pianis wie se invloed in die 20ste eeu op die vlak van sommige komponiste lê.
Sviatoslav Teofilovich Richter, Sowjet-Russiese klassieke pianis. As 'n mens die simpel speletjie van "beste pianis van die 20ste eeu" speel, word Richter se naam die meeste genoem. Dit ís net so.
Ek was 20 toe ek Richter leer ken het en aanvanklik het hy die groot romantiese klavierkonserte by my tuisgebring soos niemand anders nie – Rachmaninov 2 en 3, Tchaikovsky se groot konsert in B-mol mineur, Brahms se tweede konsert (hy het ongelukkig nie die fantastiese eerste konsert in D mineur opgeneem nie), en ook die werk van twee van die grootste Russiese 20ste-eeuse komponiste, Prokofiev en Shostakovich.

Dekades later eers het ek hom op 'n skerm sien praat. As jy na sy opnames geluister het, veral van die groot romantiese werke, het jy die idee gekry van 'n pianis met titaniese krag en dapperheid, manlikheid, maar ook met buitengewone liriese kwaliteit en 'n sensitiewe en pragtige toonklank soos min ander.
Spiritueel en betowerend
Party mense sê sy spel het 'n spirituele kwaliteit, wat eintlik 'n manier is om te sê ons kan almal hoor iets betowerends is aan die gang, maar jy kan dit nie vaspen nie. Dis lieflik dat dit so is, want hy't gesê: "There are two things that I hate. Analysis and power." Hy't dit gesê in herinnering aan hoe hy die debuut van Prokofiev se Simfonie-concerto ('n tjellokonsert) met Slava Rostropovich gedirigeer het, en Prokofiev ná die tyd vir hom gesê het: "Now I have a conductor who can conduct my works." Dis al werk wat hy ooit gedirigeer het.
Op die verhoog het hy stoïes en doodernstig gelyk. Kyk maar net na die beeld hier onder om die gevoel te kry.

As persoon was hy verrassend anders. Richter was uiters privaat en het in sy leeftyd minder as 'n handvol media-onderhoude gedoen. Dis hoekom die klavierwêreld regop gesit het toe Richter twee jaar voor sy dood 'n Franse joernalis, Bruno Monsaingeon, genooi het om 'n biografiese film oor sy lewe te maak. Die dokumentêr, Richter, The Enigma, bestaan uit 'n lang onderhoud met Richter, met merkwaardige beeldmateriaal van sy lewe en optrede tussenin.
Richter was 80, twee jaar voor sy dood in 1997, en het in hierdie stadium al die ineengekrimpte, uitgeteerde voorkoms gehad van sommige mense na aan die dood.
Richter speel vier Beethoven-sonates in Moskou (1976).
Monsaingeon het aanvanklik gesukkel om Richter sover te kry om te praat. Hy sou vrae beantwoord met "ja", "nee" of "miskien". Maar hy't gelukkig ontdek dat Richter 'n wonderlike dagboekskrywer was en hom toe stukke daaruit laat voorlees.
In die onderhoud kom hy voor as 'n delikate, selfspottende en melankoliese man met 'n droë, aweregse humorsin.
Sviatoslav Richter is in Maart 1915 in Zhytomyr in die noordweste van Oekraïne gebore. Sy pa, Teofil Danilovich Richter, was 'n Duitser en sy ma, Anna Pavlovna Moskaleva, was van 'n adellike Russiese landeienaarsfamilie.
Teofil was self 'n baie goeie pianis wat in die Weense Konservatorium opgelei is en uiteindelik by die Konservatorium in Odesa klas gegee het. Sviatoslav het net basiese musiekopleiding by sy pa gekry en vandat hy musiek kon lees homself verder geleer. Hy het geleer deur plaaslike opera- en balletgroepe te begelei. Vandat hy 15 was, het hy die Odesa Opera se repetisies begelei, wat uiters waardevolle ervaring was.

Hy het eers op 22 besluit hy wil 'n pianis word, en toe doen hy presies die regte ding deur na die groot leermeester Heinrich Neuhaus by die Moskouse Konservatorium te gaan vir 'n oudisie. Hy't onder meer Chopin se 4de Ballade gespeel. Neuhaus sê hy't vir die student langs hom gefluister: "Ek dink ons het 'n genie hier."
Die konservatorium moes 'n uitsondering vir Richter se toelating maak aangesien hy geen formele opvoeding gehad het nie. Die voorwaarde was dat hy al die ander vakke in die kursus moes slaag. Hy't hom nie daaraan gesteur nie en is in die eerste jaar twee keer geskors. Elke keer het Neuhaus tussenbeide getree.
Neuhaus reken hy't Richter niks geleer nie, maar Richter sê Neuhaus het 'n groot invloed gehad op sy toonproduksie, sy klank.
Richter het in 1943 'n verhouding met die sopraan Nina Dorliak aangeknoop nadat hy haar op 'n begrafnis sien sing het. Hulle was 50 jaar lank 'n paartjie, selfs al weet ons deesdae dat Richter gay was, 'n "misdaad" strafbaar met tronkstraf, of selfs 'n vonnis om na 'n gulag in die Sowjetunie gestuur te word. Ons sal nooit weet wat die aard van Richter se intieme verhouding met Dorliak was nie, maar hulle was geesgenote, verbind tot die einde.

Internasionale roem
Teen 1950 was Richter oral in die Sowjetunie beroemd. Sy ware internasionale roem het eers gekom ná sy eerste toer in Amerika op 45-jarige ouderdom in 1960. Sy Carnegie Hall-debuut, waar hy Beethoven, Haydn, Schumann, Debussy, Chopin, Rachmaninov en Prokofiev gespeel het, was 'n triomf, maar hy het dit gehaat en gedink hy't swak gespeel. Hy't dit deels daaraan toegeskryf dat hy 'n klavier by Steinway kon gaan kies het om op te speel. Hy't geglo die klavier wat jy op die verhoog kry en jou vermoë om daarop te speel, is deel van die misterie.
Hy't Amerika gehaat: "Alles is so dieselfde!" In die Sowjetunie het hy telkens op die platteland gaan toer en vir gewone mense in klein dorpsaaltjies gespeel, baiekeer sonder vergoeding. Hy't selfs in Siberië gaan toer met sy Yamaha-klavier en soms vir mense gespeel wat nog nooit Westerse kunsmusiek gehoor het nie.
Net 'n gedeelte van sy enorme repertoire is opgeneem, aangesien hy 'n renons gehad het in beplanning en gesê het die groot orkeste was nooit beskikbaar wanneer hy 'n geleentheid gehad het nie.
Dalk het die grootste kompliment vir Richter gekom van Emil Gilels, sy sterkste kompetisie in Rusland en ook een van die grootste pianiste van die eeu, wat voor hom Amerika toe is. Ná Gilels se Carnegie Hall-debuut het die Amerikaners koekoes geraak oor sy spel. Sy enigste antwoord was: "Wag tot julle Richter hoor."
- Bruno Monsaingeon het die Golden FICA-toekenning in 1998 gewen vir die dokumentêr Richter, The Enigma. Dit is gratis op YouTube beskikbaar, maar vir beter kwaliteit is die DVD 'n moet.

Warboel Chowdown
Die geheim van 'n jagterspot
(resep onderaan)
Ek is van kleins af mal oor wildsvleis. As 'n wildspastei op 'n Sondagbuffet gestaan het, sou ek verby die hoenderpastei en die lamsboud marsjeer, reguit soontoe, selfs onder die tafelgebed. Die geurige, fyn vleis met 'n sweempie naeltjies en koljander, met 'n vleissousdeurdrenkte brosdeegkors … Hosanna!
Eeeeuw, wildsvleis!
Dit slaan my dronk dat almal nie so oor wildsvleis voel nie. "Oe nee, daai wilde smaak …" Dit het my nog nooit opgeval nie. Dalk is dit maar net smaak wat verskil.
Wild hét 'n unieke smaak, en verskillende boksoorte smaak verskillend. Koedoe en springbok is die gewildste, maar vir bredie en pastei kan jy gerus ook gemsbok, eland, rooibok, wildebees en blesbok bring.
Iets wat huiskokke dalk pla, is die breedvoerige marineer-instruksies in die meeste resepte – tot twee dae lank in wyn- of karringmelk-konkoksies. Ek het wildsvleis nog nooit gemarineer nie, en dit is altyd lekker.
Te nat, mense, te nat
Ek was eendag by 'n potjiekoskompetisie van 'n klomp ouens wat weet van kosmaak in die veld, en die lekkerste potjie was van 'n paar manne wat 'n opgesnyde springbokbladjie en ander kookvleis gebruik het. Dit was nie soet nie, maar het 'n heerlike, diep vleissmaak gehad. "Waarin is die vleis gestowe? Rooiwyn?"
"Nee, niks," sê die "hoofsjef" toe. "Ons sit dit net so droog in."
Dis wraggies waar. Wildsvleis maak genoeg vloeistof dat jy dit kan smoor, eerder as stowe, mits jy oor 'n lae hitte werk en gereeld roer. Dit kry 'n lekker ryk smaak en met groente by maak dit nog meer smooraftreksel.

En as jy wil natmaak?
Omtrent alle wildspotresepte, van Leipoldt en mev. S. van H. Tulleken s'n tot dié in Kook en Geniet en ’n magdom ander uit die afgelope 50 jaar, gebruik 'n vorm van posjeer (vleis toe onder water) of stowe (vleis 'n derde toe onder vloeistof). Die gewildste vloeistowwe is rooiwyn, water, hoenderaftreksel en soms 'n bietjie port of brandewyn. Wild werk ook lekker met 'n blik of twee tamatie. Persoonlik verkies ek hoenderaftreksel met klappermelk of jogurt.
Uiteindelik was dit weer Onkel Leipoldt wat my uitgeboul het met sy kennis van kooktradisies. Die droog-gekokery van die ooms by die potjiekoskompetisie is eintlik 'n ou veldmetode en dit word 'n "jagterspot" genoem.
"Om wildvleis op sy allerbeste te eet, om dit te geniet soos dit behoort geniet te word, moet jy dit in die kamp eet, ná 'n vermoeiende maar aangename dag op die veld. Daar in die gesellige kampgemeenskap, mits die kok sy taak verstaan, kry jy ons ouderwetse 'jagterspot'. Dit is wildvleis gestowe sonder byvoegsel van water, liefs bokvleis saam met patrys, fisant of pou, wat ure lank stadig gesmoor het bo 'n houtvuurtjie wat nooit skerp genoeg is om die sappigheid te verskroei nie. Soms, as die wildvleis blootgestel word aan te veel en te vinnige hitte, is die resultaat 'rafeltjiesvleis' – soos ons ou tannies altyd verkies het om haas op te dis – maar ook dit smaak voortreflik." (Uit Polfyntjies vir die Proe, C. Louis Leipoldt, bl. 30.)
Die vleis
Ek het nie meer jagvleis gehad nie, toe koop ek maar OK Foods se venisonpakkies (ook by Checkers), wat nie eens vir jou sê watse bok dit is nie – dit lyk soos springbok. Dit is egter mooi vleis; duidelik afsnystukkies van steaks, fillets en roasts wat vir restaurante mooi gesny is. Nek, skenkels en bladvleis bly die beste vir 'n pot.
Die meeste kosmense glo wild het vet nodig saam in die pot. Die algemeenste om by te voeg is spek, maar ek dink lam gaan beter saam met wild as vark – so drie of vier nektjops.
In die ou dae was dit gewild om 'n tarentaal of haas saam in te gooi. Die haaseet-kultuur, wat beduidend was, is iets van die verlede in Suid-Afrika.
Wat ek gemaak het …
My resep is 'n eerste poging om my eie metode en speserykombinasie te ontwikkel. Soet is goed saam met wild, maar ek wou nie die port-en-pruimedant-roete loop nie. Ek het 'n diep vleisgeurigheid met 'n bietjie soet gesoek, waarvoor ek twee hande vol droëperskes opgekap het. En ek het ook 'n skoot suiker bygevoeg.
Ek wou iets van die tradisionele naeltjies en koljander behou, maar wou ook die gemmer-en-knoffelbasis van 'n kerrie hê. Ek het gesoek na die liquorice-smaak van fennel of ster-anys, die diepte en lieflikheid van kaneel, en die warmte van chilli en paprika. Dis amper te veel soorte speserye, maar die smake werk saam. Die enigste krui was tiemie, vir bietjie varsheid.
Ek het met die droë, stadige metode begin, wat baie goed gewerk het – die vleis was uiteindelik tot omtrent halfpad in sy eie sous, en daarna het ek hoenderaftreksel en jogurt bygevoeg om genoeg sous te hê.
Onthou, jý bou jou bredie. Eksperimenteer, dis vergewensgesind. Dis nie fyngebak vir 'n kompetisie nie. Daar is net twee reëls – proe soos jy aangaan, en vat dit stadig.
Die Resep
(minstens 8 porsies)
Wat jy makeer
canola-olie (soos benodig)
2 bruin uie, in blokkies gekap
6 knoffelskyfies, fyn gekap
5 cm vars gemmer, fyn gekap
1 t chillipoeier
1 e fyn komyn
2 e fyn koljander
1 e fyn naeltjies
6 wonderpeper-balletjies
2 t fyn vinkel (fennel)
1 kaneelstokkie
1 e paprika
1,5 kg wildsvleis in duimblokke gesny (met die been in is oukei)
500 g lamsnektjops
'n bossie vars tiemie
1 k hoenderaftreksel
4 groot aartappels, geskil en in blokkies gesny
1 k gesnipperde droëperskes
2 e ligbruin suiker
150 ml brandewyn
2 e balsamiese asyn
¾ k volroomjogurt (of klappermelk)
2 t oestersous (of 2 e worcestersous)

Hoe jy dit bou
Gebruik 'n mediumgroot emalje-ysterpot oor medium hitte. Bedek die bodem met olie. Soteer die uie vyf minute lank en voeg dan die knoffel en gemmer by vir nog drie minute. Verlaag die hitte effens en gooi al die speserye in die pot. Braai dit dan stadig vir nog vyf minute om die spesery-olies te ontwikkel. Maak seker daar's genoeg olie dat die speserye nie brand nie.

Hou die hitte laag. Sit al die vleis en die tiemie in die pot, verkieslik met die lam op die bodem om die vette vry te stel. Sit die deksel op en roer elke 15 minute vir die volgende uur. As die vleissappe nie in die pot begin styg nie, doen jy iets verkeerd. Maak seker niks brand vas nie en geur met sout en peper.
Hou die vloeistofvlak dop. Dit behoort by die punt te wees waar dit begin wegkook. Vul aan met hoenderaftreksel totdat so ¾ van die vleis bedek is. Gooi die aartappelblokkies, perskesnippers, suiker, brandewyn en asyn by en laat nog 'n uur net-net prut oor lae hitte, terwyl jy een of twee keer roer.
Voeg die jogurt en oestersous by en roer deeglik deur. Laat nog 20 minute prut. Check of die aartappels gaar is en die vleis sag genoeg is na jou smaak; laat dit sowat 15 minute afkoel. Sit die vleis voor op rys of potbrood, met kweperjellie daarby.

Die Einde.🦌
Lid kommentare