Dagsê, liewe broeders en susters

Die foto wat op sosiale media versprei word van die gesprekke tussen Afrikanergroepe en die ANC vertel 'n eie storie. Op die foto is, aan die een kant van die tafel, 'n godsverstomde Theuns Eloff, Theo de Jager, Flip Buys, Kallie Kriel en Dirk Hermann. Vanuit die Midde-Ooste staar 'n nydige en afgetrokke Nomvula Mokonyane, Lindiwe Zulu en Bathabile Dlamini na die laat-middeljarige Voortrekkers aan die ander kant van die tafel. Daar was meer mense teenwoordig, maar hierdie name definieer die vergadering.
Die agtergrond is dat 'n groep Afrikaners net voor die Mei 2024-verkiesing met die ANC 'n ooreenkoms wou aangaan in 'n stadium toe meningsopnames dit duidelik gemaak het die res van Suid-Afrika het ernstige probleme met die ANC. Uiteindelik sou net 15,6% van alle stemgeregtigdes vir die ANC stem. Baie van ons het die Afrikaners gewaarsku dat die tyd vir 'n opportunistiese ooreenkoms met Luthulihuis nie slegter kon gewees het nie, en neergekom het op 'n vorm van verraad teenoor diegene wat onder onhoudbare lewensomstandighede gebuk gaan. Terwyl ons almal die geleentheid gesien het om die ANC onder die water in te trek, wou die Afrikaners 'n ooreenkoms met die vyand van die mense sluit.
Toe Eloff in April 2025 'n artikel skryf waarin hy beweer dat Cyril Ramaphosa die Afrikanerpadda op onderduimse wyse in 'n Afrikapot kook terwyl hy die water stelselmatig verhit sodat die niksvermoedende amfibie nie besef wat die booswig se einddoel is nie, is ons profesieë bewaarheid. Boonop, aldus Eloff, steek die skerpioen van Luthulihuis, waarskynlik Fikile Mbalula, die padda ook nog op die mees ongeleë tyd. Ek sal toegee, hierdie week het Luthulihuis inderdaad die Afrikaners gesteek.
'n Bekende fasiliteerder van gesprekke tussen die ANC en drukgroepe tydens die Jacob Zuma-era bel my vroeg die oggend ná die gesprek. "Did you see the team the ANC sent? It is really laughable, it was not even the Wednesday team." Dit is nou al bekend dat Mbalula besluit het om op dié besondere dag eerder sy potlode skerp te maak as om met Kriel te stoei oor die stand, taak en toekoms van Afrikaans. Wie ook al besluit het wie die res van die ANC se raap-en-skraap-span by die gesprek sou wees, wou die punt maak dat die Afrikaners se geheul met Donald Trump teen hulle gehou sou word.
Die DA besef al dat ooreenkomste met Mbalula nie die papier werd is waarop dit geskryf is nie, dis nou as hy enigsins opdaag by vergaderings. Selfs Gwede Mantashe het onlangs Mbalula se kop op 'n koukusvergadering gewas omdat hy 90 minute laat gekom het vir wat hy geweet het 'n kleinburgerlike opstand teen die RNE sou wees. Die koukus van die ANC, maar ook die nasionale uitvoerende komitee (NUK), bejeën Mbalula met bitter min erns. Ek vind dit komies wanneer politieke kommentators beweer hy sal 'n moontlike presidensiële kandidaat tydens die ANC se leierskapsverkiesing in Desember 2026 wees. Die SG is 'n village idiot.
Openlike minagting vir Afrikaners
Die span wat die ANC gestuur het om met die Afrikaners te praat, was vir Eloff en sy mense 'n belediging. Mokonyane, Zulu en Dlamini het oor die jare heen openlike en uitgesproke minagting gehad vir alles waarvoor die Afrikaners staan. Mokonyane, die huidige adjunk-sekretaris-generaal van die ANC, het nog baie onlangs na AfriForum verwys as "selfsugtig", "onpatrioties" en lakeie van 'n rassistiese verlede. Die probleem vir die Afrikaners is dat miljoene swart Suid-Afrikaners met haar saamstem.
Ek weet nie of Eloff en Buys vooraf ingelig was oor wie by die ANC se dinkskrum ingesluit sou wees nie, maar kan my indink dat hulle geweet het hier kom 'n lang dag op kantoor toe die ANC sonder respek, voetslepend en met wrewel in die harte uiteindelik hulle sitplekke inneem. Die groet is altyd geveinsd en vriendelik, die wantroue noodwendig tasbaar.
Hoewel beide kante blykbaar onderneem het om nie besonderhede van die gesprek in die media bekend te maak nie, lek die tirades en onversoenbaarhede soos 'n sif uit die ANC, maar ook vanuit Afrikanergeledere.
Die PAC, wat die gesprek gefasiliteer het, sê daar was bloed aan die mure. Eloff sê: "Daar was geen ooreenkomste nie." Ek wonder tog of die Afrikaners steeds sou opgedaag het as hulle vooraf geweet het hoe die gesprek sou verloop. Mokonyane, Zulu en Dlamini is meer bekend vir hulle bottelkoors as deurdagte opinies oor die kompleksiteite van 'n mark-ekonomie in diep verdeelde samelewings.
Die Afrikanergroep probeer nou hulle teleurstelling verdoesel deur te beweer dié gesprek sal as 'n basis vir opvolggesprekke dien, maar ek kan my dit nie indink dat hulle weer met die ANC sal onderhandel as Luthulihuis weer dieselfde kaders na die gesprek ontplooi nie. My inligting was die Afrikanergroep het hulle argumente gestel, gelaai met kritiek, maar moes 'n stortvloed beledigings sluk. Die kader met die keffiyeh het nie teruggehou nie, Allahu Akbar! Dis minagtend wanneer jy opdaag om te onderhandel oor die toekoms van jou volk, maar jou opponente se blote teenwoordigheid is 'n belediging.
Die ANC het swaargewigte, maar hulle dink nie meer die Afrikaners is belangrik vir Suid-Afrika se politieke oorlewing nie.
Die Afrikaners beweer hulle het Trump se ideologiese oor en gebruik dit om plaaslik politieke munt daaruit te probeer slaan. Die ANC veg oorloë aan die binnekant en op die front van die RNE; Afrikanerkwessies is periferaal. Dít is die vlak van minagting vir sogenaamde Afrikanerbelange. Die illusie dat Trump weer aan Afrikaners hulle "regmatige plek" in Suid-Afrikaanse politiek sal gee, is aan flarde.
Vlugtelinge in Amerika
Maar, 49 van ons landgenote is nou vlugtelinge in Amerika. En die teorie is dat verskeie van hulle traumatiese ervarings met misdaad gehad het. Ek blameer niemand wat wil ontkom aan die grusame vlak van misdaad in hierdie land nie. As dit maak dat jy jou hele familie wil ontwortel en op 'n vlug na Amerika sit, verstaan ek dit. Ek vermoed die meeste mense op sabbatsvlug na die VSA sal sê hulle is bereid om alles hier prys te gee vir hulle kinders se toekoms, I get it! Nie almal wat die aanbod aanvaar het om Amerika toe te gaan is regs nie. Sommige is eenvoudig pragmatiste, en ander beskou dit as 'n geleentheid om in 'n baie groter visdam te swem.
Die feit dat die geweld van Suid-Afrika se misdaad statisties meestal die lot van jong swart mans is, is 'n skrale troos vir mense met klein kinders wat 'n aanval in hulle huise of op hulle plase ervaar het. Die feit dat daar nog nooit enige grondgrype in Suid-Afrika was nie, roer nie die kwessie van wantroue jeens die ANC en EFF aan nie. Die ANC word nie vertrou nie, en die mense op die vliegtuig vertrou dalk ook nie meer swart Suid-Afrikaners om in te staan vir hulle belange nie. Die relaas mag rassistiese wortels hê, maar dit is ook 'n rassisme wat stukrag vind in die gesplete tong waarmee politieke leiers soos Cyril Ramaphosa, Julius Malema en Jacob Zuma met ons werklikhede omgaan. Dit is hierdie onsekerhede wat die omstandighede vir die Afrikaners om die tafel skep om 'n agenda van selfbeskikking te bevorder.
Daar is egter ook 'n groter konteks. Die werklikheid is dat die ANC tans op autopilot na links dryf. Dit skep ruimte vir Mantashe en Paul Mashatile om Ramaphosa te ondermyn. Ramaphosa en Mbalula is aan boord, maar beslis nie meer in beheer van die ANC nie. Saam met hierdie onsekerheid is daar die besluiteloosheid van 'n lendelam Ramaphosa en die insypelende teenwoordigheid van opportunistiese akteurs met eie belang.
Mantashe en Mashatile oefen enorme druk op Mbalula uit om 'n NUK-vergadering te belê. Die ANC se koukus het dit reeds duidelik gemaak dat hulle ontslae wil raak van die RNE. Hulle is taamlik oortuig daarvan dat die voetwerk wat hulle in die koukus gedoen het daartoe gaan lei dat die NUK Ramaphosa sal beveel om die DA uit te skop. Daar is geen manier waarop die ANC-president so 'n bevel kan ignoreer sonder die risiko dat hy self verwyder word nie.
Dit gesê, Trump het hierdie week laat blyk dat hy 'n besoek van Ramaphosa of minstens 'n hoëvlak-afvaardiging uit Suid-Afrika verwag. Ramaphosa durf nie sonder die DA in Washington opdaag nie.
Die dag van afrekening kom
Ramaphosa is nie meer bereid om die RNE in die aangesig van sy kamerade se aanslag te verdedig nie. Ek wonder of die president dapper genoeg sal wees om sy kamerade te waarsku dat so 'n stap die ANC 'n terminale steelhou kan toedien in 2027 se plaaslike verkiesing, maar des te meer in die nasionale en provinsiale verkiesing van 2029. Onthou, die ANC regeer steeds die land met 'n mandaat van net 15,6% van alle stemgeregtigdes en 39,86% van geregistreerdes wat op 29 Mei 2024 gaan stem het. Meningsopnames wat wys Suid-Afrikaners knik goedkeurend in die rigting van die RNE is in werklikheid ook 'n mosie van wantroue in die ANC.
Ramaphosa duck and dive 'n NUK-vergadering juis omdat hy vrees 'n stemmery in dié instelling kan 'n doodsklok vir die RNE laat lui. Dit is ook onheilspellend stil in die ANC wat betref die voorgestelde nasionale dialoog, om nie te praat van die dawerende stilte oor die Nasionale Beraad wat beplan was vir Julie 2025 en nou tot Desember uitgestel is nie. Ramaphosa en Mbalula stel uit wat hulle nie kan afstel nie, maar die dag van afrekening kom. Dan sal julle sien hoe lyk bloed aan die mure.
Sela
Piet
E-pos: hallobinneland@gmail.com
Klik hier vir aanwysings om 'n Binne+Land-web-app op jou foon te skep.
[En, as jy hierdie in jou e-pos lees, en jy wil kommentaar lewer, gaan na heel onderaan hierdie brief en klik op die klein speech bubble wat sê "Comment".]
Te luister
Vir hulle wat dapper genoeg was om te gaan, van hulle wat dapper genoeg is om te bly: Hier's Koos du Plessis se tydlose "Kinders van die wind".
Die Einde.🐸
Lid kommentare