Groetnis, liewe lesers
Ek wonder of Die Vlugtelinge wat nou in die VSA aangeland het, iemand het wat na hul beeld omsien. Iemand wat seker kan maak dat hulle darem 'n bietjie soos regte vlugtelinge lyk, maar ook nie só verslons of verinneweer dat Amerikaanse TV-kykers en MAGA-kiesers sal sleg dink van Afrikaners of hul troeteldiere begin wegsteek uit vrees dat hulle in vanaand se potjiekos gaan beland nie.
'n Goeie beeldpoetser sal simpatie vir die vlugtelinge probeer wek, maar sonder om die mieliepap te dik aan te maak met die idee dat hierdie die eerste Afrikaners is wat dit reggekry het om aan die slawerny en volksmoord onder die wrede Farao Cyril die Eerste te ontsnap. So, jy wil byvoorbeeld hê die mense moet netjies aangetrek wees, maar beslis nie in duurder klere daar staan as die twee Amerikaanse adjunkministers wat hulle by hul aankoms in Washington DC op die lughawe verwelkom het nie.
Dis al klaar 'n lastige optic dat elke Suid-Afrikaner hul eie sitplek op die vlug soontoe gehad het en nie aan 'n landingswiel moes vasklou soos baie ander vlugtelinge nie. Aan die ander kant help dit dat die Amerikaners klaarblyklik nie juis agterdogtig was dat Neef Pieter Groenewald, die mees senior Vlugteling in Farao-maphosa se kabinet, die geleentheid sou probeer misbruik het deur 'n klomp Twenty-Sixers uit Pollsmoor te bevry en by die groep in te glip sodat hulle die Yanks se probleem kan word nie.
Terloops, Donald Trump se planne om "vervolgde" Afrikaner-Afro-Americans in die VSA te laat vestig kom al uit sy eerste termyn as president. John Bolton, een van 'n lang lys van destydse Trump-kabinetslede wat sedertdien tot drasties ander insigte oor die man gekom het, het onlangs in 'n onderhoud vertel van die keer in Mei 2019 toe hy as nasionale veiligheidsadviseur in die Withuis se Situation Room by was toe hulle oor Iran gepraat het, en Trump uit die bloute die onderwerp na asiel en burgerskap vir wit Suid-Afrikaners verander het.
Bolton sê in die onderhoud hy het nie destyds veel daarvan gedink nie omdat Trump gereeld geval het vir "fringe ideas and false narratives pushed by white Afrikaner activists".
"It never amounted to anything, so I just put it as typical Trump," onthou Bolton. "Some random person tells him something, and suddenly he’s obsessed with it."
Kultuur jou hier, kultuur jou daar
Waarom dit so gewild is, weet ek regtig nie, maar die jaarlikse Eurovision Song Contest maak daarop aanspraak om "the world's most watched cultural event" te wees, en dit vind weer hierdie week plaas. Onder is die amptelike video van 2018 se wenner, wat volgens sommige kenners eens en vir altyd die idee begrawe dat pluimveegeluide nie die inspirasie vir ware kuns kan wees nie:
Op 'n effens meer verhewe noot, vanjaar is die 150ste herdenking van die geboorte van die Franse komponis, pianis en dirigent Maurice Ravel. Dit word onder meer gevier met 'n reeks konserte in Frankryk, insluitend deur die Franse pianis Bertrand Chamayou. My goeie vriend Piet Koornhof, professor in viool aan die Noordwes-Universiteit, reken Ravel het geen gelyke as dit by orkestrasie kom nie, en dat Chamayou se uitvoering van Ravel se werk uitstaan bo die res. Luister (en kyk) gerus hier:
Piet en Nicol Viljoen speel eerskomende Dinsdagaand hul program Romantic Jazz for Violin and Piano in die NG kerk Vyfhoek in Potchefstroom (verbouings aan die Konservatorium beteken geen konserte word voorlopig daar gehou nie).
Piet is nogal geamuseer deur die gedagte dat hul konsert onder 'n NG dak gehou word, want nie te lank gelede nie is jazz nog deur die kerkvaders beskou as ondergrawend van gesonde waardes en uit die bose – 'n oortuiging wat hulle ironies ook met die klipkoppige ideoloë van die destydse kommuniste in Rusland gedeel het. "Jazz was in 'n stadium verbode in die Sowjetunie," vertel Piet, "maar dan was daar Sowjetkomponiste wat stil-stil jazz geleer en jazz-elemente in hul musiek gebruik het. Party van hulle was in die moeilikheid daaroor, en party het daarmee weggekom."
Jazz en apartheid was ook nie maatjies nie. Toe die Amerikaanse jazz-pionier Dave Brubeck en sy orkes in 1976 in Suid-Afrika kom toer het, het hy daarop aangedring dat geen segregasie of diskriminasie teen swart musikante in sy groep toegelaat sou word nie.
Piet vertel dat einste Nicol Viljoen wat Dinsdagaand saam met hom speel, in 1976 'n musiekstudent aan die Universiteit van Stellenbosch was. Toe hy Brubeck se konsert in Kaapstad wou gaan bywoon, moes hy spesiale skriftelike toestemming van die hoof van die musiekskool kry omdat dit enigiets anders as klassieke musiek was. Dié toestemming het Nicol gelukkig wel gekry, want tydens die pouse kon hy agter die verhoog vir Brubeck laat hoor wat hy op 'n klavier kon doen, waarop hy uitgenooi is om saam met die meester in die VSA te gaan speel – 'n geleentheid wat hy helaas van die hand moes wys.
Nog 'n Suid-Afrikaanse konneksie: Sewe jaar ná die konsert in Kaapstad het Dave Brubeck se seun, Darius Brubeck (hy is genoem na die Franse komponis Darius Milhaud) en sy Suid-Afrikaanse vrou, Catherine, na Durban verhuis waar hy die eerste graadkursus in jazz-studies in Afrika aan die destydse Universiteit van Natal ingestel het
Daarmee groet ek.
Tot volgende Vrydag
Willem
E-pos: hallobinneland@gmail.com
Klik hier vir aanwysings om 'n Binne+Land-web-app op jou foon te skep.
[En, as jy hierdie in jou e-pos lees, en jy wil kommentaar lewer, gaan na onderaan hierdie brief en klik op die klein speech bubble wat sê "Comment".]
Raai wat!
Amanda le Roux het Sondag onderaan Anneliese se brief gevra of ons 'n woordraai op Binne+Land kan hê. Heel onder is my eerste poging, met heelwat hulp van ChatGPT. Laat weet wat jy daarvan dink, of wat dalk anders moet wees. (Daar is ook maniere om te kroek, maar moet seblief nie!) Ek noem dit voorlopig DILEMMA.
Hier is hoe om DILEMMA te speel:
- Jy het ses kanse om die woord te raai, soms dalk meer, soms dalk minder.
- Die aantal wit blokkies wys hoeveel letters in die woord is.
- Jy mag vir elke raai enige letters in enige volgorde kies – dit hoef nie ook 'n woord te vorm nie.
- Gebruik die toetsbord op die skerm om jou raaiskoot in te tik.
- Druk ENTER om jou raaiskoot in te dien.
- Wat beteken die kleure nadat jy geraai het?
* Blou beteken die betrokke letter is in die woord én op die regte plek.
* Pienk beteken die letter is wel in die woord, maar nie in die regte posisie nie.
* Grys beteken daardie letter is glad nie in die woord nie.
As jy die woord kon identifiseer, kan jy kliek op DEEL/SHARE om dit op jou Clipboard te plaas sodat jy dit onderaan in die kommentaar kan plak of vir iemand anders kan stuur.
Die Einde. 🧩
Lid kommentare