Inhoud
- Warboel Wyshede: Die toets-Proteas verdien beter
- Warboel Chowdown: Sagte lamskerrie in 'n ryk sous
- Warboel Wysies: Die ernstige Strauss se mooiste liedere
- Warboel Skunnige Skakels: 'n Paar lukrake vermaaklikhede
Warboel Wyshede
Waar's die dae van krieket oor die radio?
Dagsê!
Ek is 'n fan van toetskrieket. As ek eendag in die toekoms vyf dae vry het, sal ek met gemak 'n toets tussen die Proteas en enige van die topvyf-lande van die eerste bal tot die laaste sit en kyk.
Ek kan nie die gemiddelde van Indië se topvyf-kolwers deur die geskiedenis uit die vuis aframmel nie, maar ek het vriende wat dit kan doen. Ek is meer van 'n ontspanne entoesias wat die kommentators toelaat om die statistieke oor my te laat spoel. Ek is meer geïnteresseerd in die geskerts en gekibbel van die kommentators.
Toetskrieketkommentaar is 'n heuglike verskynsel. Dit is jammer dat radiokommentaar op Radio 2000 opgeskort is. Ek mis dit. Ek dink die beste beskrywing wat ek nog van radiokrieketkommentaar gehoor het, was van iemand wat niks van krieket weet nie: die Amerikaanse reisskrywer Bill Bryson. Hy't deur Australië se outback gereis en al wat hy op die motor se draadloos kon opspoor, was 'n uitsending van 'n kriekettoets, wat hy beskryf het as 'n strelende, half hipnotiese ervaring, "... soos om te luister na twee mans in 'n roeibootjie op 'n groot, vreedsame meer op 'n dag wat die vis nie byt nie".

Ja, ou Bill is snaaks. Ek onthou hoe lekker dit vir my was om in die nag te lê en luister na Gerald de Kock as ons in Australië speel. Hy't effens gedemp gepraat, asof hy 'n snoekerwedstryd uitsaai en nie die spelers wou pla nie. En dan sou die drama in sy stem in afwagting styg elke keer as 'n bal afgestuur word, en dan weer daal tot amper fluister tussen die balle. 'n Mens kon jouself in die toneel inleef wat jy in jou kop geskep het met sy beskrywings, jou geheue en die ander geluide oor die radio. Soms was jy gelukkig genoeg om Kotie Grové in Afrikaans te hoor.
Daai game in Kalkutta ...
Ek onthou 10 November 1991 nes gister. Ek het in 'n woonstel met net 'n matras op die vloer na 'n battery-radio'tjie lê en luister toe Suid-Afrika se span hulle eerste eendagwedstryd in Indië speel ná ons hertoelating tot wêreldkrieket. Nie eens my radio se luidsprekertjie of Edwill van Aarde se hoogdrawende, nuutskeppende Afrikaans kon die atmosfeer van 90 000 jillende en bom cracker-skietende Indiër-toeskouers in Eden Gardens in Kalkutta (later Kolkata) uitdoof nie.
Dit was 34ºC, soel en dynserig, vererger deur die rook van die klappers en die fakkels wat op die paviljoene gebrand het. Die verswelgende skare het gebrul van opwinding agter 'n 10 meter hoë draadheining en rye polisiemanne met rottanglatte. Die kommentators het binne die heining langs die veld by tafeltjies sit en uitsaai, en in een besonder amusante oomblik het Van Aardbol met net sy vingerpunte aan sy aansienlike waardigheid vasgeklou toe 'n oorverdowende bomklapper onder sy stoel ontplof.

In 1991 het 'n mens nog net prentjies van Indië in National Geographic-tydskrifte gesien. Al wat 'n Afrikaanse kind soos ek van Kalkutta geweet het, was wat ek gelees het in boeke oor seerowers, koloniale vlote met houtskepe en 'n besonder aaklige tronk in Fort William met die naam The Black Hole of Calcutta, waar 123 gevangenes in 1756 op een dag as gevolg van oorbevolking gesterf het. In my kop was dit 'n mitiese, misterieuse en antieke plek.
Die Indiërs het met ons gemors op daai dag. Ons is ingestuur om te kolf en Kepler Wessels (50) en Adrian Kuiper (43) het hard probeer. Wessels is geboul deur 'n jong kolfsensasie, Sachin Tendulkar.
Ons totaal van 177 was nie onverdedigbaar in daardie dae nie, maar ondanks die beste pogings van 'n vreesaanjaende jong, blonde snelbouler van Bloemfontein, Allan Donald (5/29), het Tendulkar (62), Pravin Amre (55) en kie. die teiken gehaal met drie paaltjies staande en 10 beurte oor. Kan ek net sê dat Clive Rice, Ravi Shastri en Kapil Dev almal nog in hierdie wedstryd gespeel het.
Ons word eenvoudig geskroef
Maar terug na toetskrieket. Deur 'n kombinasie van Suid-Afrika se hopelose krieket-administrateurs, Indië se finansiële dominering van toetskrieket en Australië en Engeland wat soos skoothondjies aan 'n leiband agternagesleep word, speel Suid-Afrika al hoe minder toetskrieket. Die feit dat ons selfs met 'n gemiddelde en ongebalanseerde toetsspan op die oomblik die finaal van die Internasionale Krieketraad se Toetskampioenskappe haal, tel skynbaar geen punte nie. (Teen ons spertyd was die uitslag van die toets nog nie bekend nie.)
Sedert twee jaar gelede sou ons 28 toetse in vier jaar speel. Dit is 10 toetse minder as Indië, 15 minder as Engeland en 12 minder as Australië. Hierdie onregverdigheid krap my so om dat ek soms nie eens lus voel om na spektakels soos die Asse te kyk nie.
Twintigbeurt-krieket is amper 'n ander sport as toetskrieket. In 'n 20/20-wedstryd is daar in elke kolfbeurt omtrent genoeg tyd vir een wending, en dit bepaal die wedstryd. In 'n goeie vyfdagtoets kan die beheer oor die toets 10 keer heen en weer swaai tussen die twee spanne en dan kan die ding steeds onbeslis eindig. Dit kan, en word, in baie gevalle 'n epiese stryd.
Suid-Afrika (en Pakistan, Nieu-Seeland, Sri Lanka en Wes-Indië) se marginalisering sal aanhou as die Indiese Krieketbeheerraad bloot as gevolg van geld magtiger is as die Internasionale Krieketraad, wat veronderstel is om die rentmeester van die sport te wees.
Alles van die beste
Ali
E-pos: hallobinneland@gmail.com
Klik hier vir aanwysings om 'n Binne+Land-web-app op jou foon te skep.
[En as jy kommentaar wil lewer, gaan na onderaan hierdie brief.]

Warboel Chowdown
Lamskerrie uit die verre, verre noorde
Behalwe vir die Indiese Durban-kerries en die Kaaps-Maleise kerries, het 'n mens die afgelope 30 jaar 'n nuwe migrasie van Bangladesji's en dalk Pakistani's se kosinvloed waargeneem. Ek het verskeie "eating houses" in Johannesburg se Fordsburg-omgewing besoek, en ook 'n paar restaurante in die omgewing van Athlone in Kaapstad.
Dis moeilik om vas te stel van presies waar die mense is, want hulle praat glad nie Engels nie en is lugtig vir te veel vrae. In plaas van outentieke cuisine uit hulle eie streke het 'n mens veral in Johannesburg die idee gekry dié uitvoerige spyskaarte probeer vir soveel as moontlik smake voorsien – "Indian, Pakistani, Bangladeshi and Chinese food". Ja, selfs Chinees.
Ek noem die Fordsburg-plekke "eating houses", want hulle het wit neonligte, 'n karaf water op die tafel, plastiektafeldoeke en dalk 'n potjie met plastiekblommetjies. As jy egter tipiese Indiese of Pakistani-geregte bestel, kry jy meestal dieselfde of beter kwaliteit as gevestigde Indiese restaurante, teen 'n kwart van die prys.
Voor Covid eet ek op 'n dag 'n kerrie by die Bismillah Cape to India-restaurant naby Athlone. Dit was nie so spartaans soos die eating houses in Johannesburg nie, maar steeds sonder die atmosfeer van Kaapstad se ou Indiese restaurante. Dit was 'n Karahi Gosht-lamskerrie, "lamb, thick sauce" – die lekkerste kerrie wat ek al geëet het.
Ek wou uitvind hoe 'n mens moet maak om die fantastiese kombinasie van lieflike, sagte tekstuur in die vleis en die diep geurigheid in die sous te kry. Ek het gedink die sjef verduidelik vir my om die vleis apart in water te kook, maar dit gaan teen my instink in.
Ek het soveel moontlik oor Karahi Gosht gaan nalees – resepte, metodes, gebruike, tradisies. Ek maak die meeste kerries volgens dieselfde konvensionele patroon, deur die vleis in die sous te kook.
Hierdie resepte hou egter die vleis en sous apart tot die einde.

Wat ek geleer het
- "Karahi" kom in Hindi, Bengaals, Urdu en Nepalees voor en verwys na 'n soort ronde pan met twee handvatsels wat jy in Noord-Indië en Pakistan kry. "Gosht" is die Persiese woord vir "rooivleis" of selfs net "vleis", wat verklaar hoekom 'n mens ook Karahi Gosht as 'n hoendergereg kan kry. Dis 'n Noord-Indiese en Pakistanse dis.
- Ek het gelees 'n groot klomp Indiese sjefs kook inderdaad hulle vleis in water om dit sag te kry. Ek het dit teen my instink gedoen en dit werk baie goed. Die aftreksel wat oorbly, word afgekook tot omtrent 'n derde of kwart en in die sous gebruik. Jy kan 'n kerriesous, apart van die vleis, vir 'n klomp disse maak, soos 'n "Chicken Karahi Gosht" of "Beef Karahi Gosht".
- Bladvleis met die been is die beste kerrievleis, maar nek en skenkel kan ook ingemeng word.
- Die enigste twee speserye in die resep wat nie geredelik in elke amateurkok se kas sal wees nie, is fenugreek (Griekse hooi of fenegriek) en swart kardemom. Jy sal albei by 'n goeie Indiese speserywinkel kry, maar nie in supermarkte nie.
- Dis nie 'n vinnige Vrydagaand-aanmekaarslaan-kerrie nie, maar dis die moeite werd. Die filosofie met my resep was "more is more", om dit so luuks as moontlik te kry, maar jy kan baie van die laaste bestanddele weglaat, soos die room én die botter.

Karahi Gosht ('lamb, thick sauce')
Genoeg vir minstens 10 porsies
Vleis en aftreksel
2 kg lamsblad, in duimgroot-stukkies gesny
6 lourierblare
sout en peper
6 knoffelhuisies
water
En die sous
olie
2 of 3 uie
3½ duim-gemmer
'n hele bol knoffel
2 t borrie
1 e chilli-poeier/paprika (na smaak)
3 e koljanderpoeier
3 t komynpoeier
1 t fenugreekpoeier
6 swart kardemompeule (verwyder aan einde)
3 e tamatiepasta
2 blikke tamatie
150 ml room (of jogurt – tradisioneel; of klappermelk of klapperroom – nie-tradisioneel)
6 e botter
3 e geroosterde amandel- of kasjoeneutvlokkies
2 e garam masala
’n hand vol gekapte dhaniablare
’n halwe hand vol gekapte kruisementblare
1½ suurlemoen

Só maak jy
- Braai die lamsvleis in 'n groot kastrol tot bruin. Voeg die res van die aftrekselbestanddele by en genoeg water om die vleis net-net te bedek. Kook oor lae hitte totdat die vleis lieflik sag is – dit kan langer as twee uur vat. Haal die vleis uit en hou dit eenkant. Gooi die aftreksel deur 'n sif en kook dit af tot 'n kwart van die oorspronklike hoeveelheid; hou dit eenkant.
- Verpulp die uie, die meeste van die gemmer en die knoffel in 'n voedselverwerker. Braai als saam oor matige hitte in olie in die kastrol totdat die uie gaar en sag, en al die water weg is – sowat 10 minute. Verwyder en hou eenkant.
- Braai die borrie, koljander, komyn, chilli, fenugreek en kardemom liggies in 'n bietjie olie in die kastrol totdat die geure van die speserye se natuurlike olies jou neus bereik. Braai dan die tamatiepasta liggies saam met die speserye om die suiker daarin te karamelliseer.
- Sit die uiemengsel en aftreksel terug by die speserye. Gooi ook die blikke tamatie by en kook oor medium hitte vir omtrent 10 minute om die sous nog 'n bietjie te reduseer totdat dit dik raak. Roer van tyd tot tyd en maak seker geen van die speserye brand aan die bodem vas nie. Haal van die hitte af en blits met ’n handmenger as jy 'n gladde sous verkies.
- Sit nou die vleis terug, sit die room en die botter by en omtrent 'n duim gemmer wat in fyn repies gesny is. Laat prut die vleis sowat sewe minute, terwyl jy nou en dan liggies roer.
- Gooi die garam masala net voor opdiening by en haal die kardemompeultjies uit. Proe die sous en pas die sout en peper aan. Roer die suurlemoene se sap by en as jy wil, kan jy een suurlemoen se gerasperde skil ook byvoeg. Strooi die dhania- en kruisementblare oor. As jy van jou kerrie warm hou, gooi gesnyde repies rou, groen chilli in. Dit is tradisioneel in Karahi Gosht.
- Laat wiel op basmati-rys of met roti's.

Warboel Wysies
Weelde op die grens van moderniteit
Met hierdie rubriek probeer ek 'n balans tussen die populêre en die obskure vind. Ek probeer vir nuwe luisteraars 'n deur oopmaak na die wêreld van kunsmusiek, maar wil ook darem iets vir ervare luisteraars gee om aan te herkou.
Die laat romantiese opera- en simfonie-komponiste, Wagner, Mahler, Bruckner en Strauss (Richard, nie die wals-woelwaters nie), kan nog nie naastenby as obskuur beskryf word nie, maar ek sou ook nie 'n groentjie in die doolhof van Wagner se opera Parsifal instuur nie.
Teen die einde van die 19de eeu was daar 'n gevoel onder baie komponiste dat die grense van die tonale stelsel, die stelsel van musiek wat van die laat-Renaissance tot vandag toe geld, te beperkend geraak het. Dit is die struktuur agter alle musiek wat 'n mens as mooi en logies ervaar – alle Gesange en Psalms, die Beatles, die Blues, en so aan.
Om tonaliteit te verduidelik is abstrak. Dit behels altyd 'n beweging van die eerste akkoord op die eerste noot of tonika. As jy in C majeur is, is dit die akkoord gebou op die noot C (CEG) na die akkoord op die subdominant of vierde noot F (FAC), en dan na die dominant of vyfde noot, G (GBD), wat dan weer terugbeweeg na die tonika of eerste noot, wat C is. Alle tonale musiek beweeg deur die I-IV-V-I-siklus of 'n variasie daarvan.
Die laaste deeltjie, van V na I, word beskryf as 'n kadens, en die mens se oor ervaar dit as 'n oplossing van spanning na ontspanning. Binne-in daardie kadens is altyd 'n beweging van die sewende noot in die toonleer (die leitoon), na die agtste/eerste noot in die toonleer (die tonika), wat deurslaggewend is vir die mens se oor om die ontspanning te ervaar.

Wat sommige van hierdie komponiste, soos Wagner, begin doen het, is om van die reëls op te skort. Wagner sou in groot dele van sy opera die leitoon nooit na die tonika laat oplos nie, wat dan beteken dat die spanning nooit na behore oplos nie. Dit skep 'n swewende, eteriese effek – hy het dit die "oneindige melodie" genoem. Dit het beslis vir mense in sy tyd uitdagend en futuristies voorgekom, amper soos skilders en beeldhouers se werke abstrak begin raak het. Dit was die eerste tekens van die oorgang van die romantiese na die moderne.
Richard Strauss (1864-1949) het sekerlik dieselfde eteriese kwaliteit in van sy musiek gehad. Hy was 'n uiters talentvolle komponis van musiek wat so mooi en verhewe is dat dit 'n mens se asem wegslaan.
'n Goeie punt om met Strauss te begin is sy laaste groot werk, die Vier Laaste Liedere, (Vier Letzte Lieder), 'n finale liefdesbrief van die 84-jarige komponis aan sy vrou van 60 jaar, Pauline de Ahna. Dit is 'n liedsiklus vir sopraan en orkes, uitdagend sowel as reflektief, met temas uit die natuur, die liefde en mortaliteit.
Ek wantrou altyd filmregisseurs wat bekende klassieke werke, soos Mozart se Requiem of Beethoven se "Maanligsonate", op 'n nie-ironiese manier in hulle films gebruik, net om emosie te manipuleer. Dit is lui en grens aan steel, want die komponis se musiek het reeds die harde werk gedoen.
Maar soms gebruik regisseurs minder bekende komposisies so slim en subtiel dat dit 'n mens verras en selfs kan ontroer. David Lynch se film Wild at Heart het my vir die eerste keer in 'n lang tyd aan Strauss se laaste liedere laat dink. ’n Vlugtende paartjie, Lula (Laura Dern) en Sailor (Nicolas Cage), kom in die nag af op 'n ontstellende motorongeluk waarin die bestuurder reeds dood is, en sy meisie voor hulle oë doodgaan. Hulle ry verder en soos die son opkom, trek hulle af en dans wild in die veld op die maat van hardcore metal-musiek. Soos die kamera boontoe wegtrek van die toneel af, vervaag die metal, en die laaste lied, "Im Abendrod", neem oor, 'n kragtige demonstrasie van die oorgang tussen die tydelike en die ewige.

Daar is min twyfel dat die mees gevierde opname van hierdie komposisie dié van die Amerikaanse sopraan Jessye Norman (1945-2019), saam met Kurt Masur en die Gewandhausorchester is, 'n opname van ongeëwenaarde emosionele en tegniese krag. Norman sing die siklus teen 'n stadige spoed wat dié werk nog moeiliker maak, maar die weelde en rykdom van haar optrede, asook haar stembeheer, slaan 'n mens se asem weg. Ek onthou dat ek altyd gedink het Jessye Norman se stem is soos klei, wat sy na willekeur kon rek en vorm.
Norman was groots, in fisieke statuur met haar statige en imposante teenwoordigheid, maar ook met haar stem en interpretasies. Sy was die ideale Strauss-sopraan, 'n kind uit die Jim Crow-suide wat haar pad tot op die grootste verhoë in die wêreld oopgeveg het.
Warboel Skunnige Skakels
As jy van rugby hou en jy't nog nie van Squidge op YouTube gehoor nie, hurry on over there.
Dave Hurwitz van The Ultimate Classical Music Guide is 'n baie betroubare bron vir goeie opnames.
Dis nogal niché, maar as jy belangstel in die tegniek agter groot pianiste se klank ...
Nogal lukraak, maar Dick Cavett, Amerikaanse talk show host van destyds, het gedink sy onderhoud met die akteur Robert Mitchum was een van sy moeilikstes. Ek het gedink Mitchum praat nogal sin!
Die Einde.🏏
Lid kommentare