Goeiedag
Ek skryf van tyd tot tyd op Sondae vir Rapport. Dit was weer so hierdie week te midde van die orkaan van werklikhede wat ons uit die Amerikaanse Withuis getref het. Toe ek gisteroggend op Netwerk24 se webwerf gaan kyk, was daar reeds 221 kommentare in die briewekolom in verwysing na my relaas oor die gebeure in die Oval Office tydens Cyril Ramaphosa se besoek aan Donald Trump. Flip Buys het ook 'n artikel geskryf oor min of meer dieselfde onderwerp – daar was 202 kommentare onderaan.


Flip se argument is: Dit wat in Amerika gebeur het, wys "die Afrikaners is terug". Die Afrikaners gee die pas aan in die definiëring van minderheidsregte en die wêreld se begrip van demokrasie. In Suid-Afrika is Afrikaners besig om weer hulle regmatige plek in te neem. En dit is grotendeels te danke aan die Amerikaanse president en kan afgelei word uit die gebeure in die Withuis se Oval Office tydens Ramaphosa se besoek.
Wel, dalk was my bewering dat indien die gesprek in die Oval Office tussen gelykes plaasgevind het, Ramaphosa vir Trump daarop kon gewys het dat hy sy eie volksmoord het waaraan hy aandag behoort te gee. Tussen 2012 en 2022 is 19 700 Amerikaanse kinders onder die ouderdom van 17 dood as gevolg van wapengeweld. Nie aan kanker of in motorongelukke nie, weens wapens.

Ek kan my herinner dat Ernie Els, Retief Goosen en Johann Rupert in die Oval Office 'n argument teen misdaad en geweld gevoer het; die drie gholfspelers het nêrens en nooit 'n saak vir Afrikanerregte gemaak nie. Hulle het Julius Malema se dreunsange as misdaad verstaan, nie as 'n soort volksuitwissing nie. Ek is taamlik seker Trump is ook nie meer oortuig dat net Afrikaners geteiken word deur Malema se aanhitsing tot geweld nie. Tog het seker goed 90% van Rapport se lesers Buys se artikel goedkeurend beskou en is hy met lofprysinge besing vir sy "laterale denke en grondige verstaan" van Suid-Afrika, die ANC en Trump. Mý meningstuk, daarenteen, het Rapport se lesers suur, woedend, minagtend, beledigend en plek-plek seker ook redeloos gelaat.
Beskerming van Afrikaners se belange
Oor die draadloos praat RSG (Monitor) se Udo Carelse met Solidariteit se Dirk Hermann, wie se skoolhoofstem onverpoosd in wrewel teen die ANC se "rasmal wette" dreun. Aldus hom is daar God sy dank en ten einde laaste 'n stelselmatige verwering in die ANC se ideologiese mondering te bespeur. Die Solidariteit Beweging, 'n organisasie wat hom vir wit Afrikaners se belange beywer, neem die geveg op vele fronte na die ANC-regering, vertel hy.
Internasionale druk word afgewissel met regsaksies en plaaslike mobilisering van die Afrikaner se stem. Solidariteit en AfriForum dring aan op die beskerming van Afrikaners se taal en kultuur, belange versteek in die nomenklatuur van "minderheidsregte". Daar is nog 'n lang pad om te stap, vertel hy sonder om onderbreek te word, maar hy neem kennis van positiewe tekens dat Solidariteit en AfriForum se volgehoue druk vrugte afwerp.
Vir my is dit 'n teenstrydigheid dat hulle daarop aandring dat net meriete jou posisie in die markekonomie sal bepaal, maar as 'n identiteit wil hulle polities beskerm word teen die wil van die meerderheid. Dit is seker nie onredelik nie, die konsensus is dat in komplekse of demografies diverse samelewings die werklike waarde van 'n demokrasie bepaal word deur die mate waarin dit genadig is jeens die soms wederstrewige wil van minderhede.
'n Geldige argument kan ook gevoer word dat die ANC se bemagtigingsbeleide noodwendig tot massale werkloosheid en 'n gebrek aan ekonomiese groei gelei het. Dit is jammer dat Solidariteit en AfriForum se geldige idees wat dit betref besoedel word deur die vermoede dat hulle taal en kultuur gebruik om bevoorregting te beskerm en in praktiese terme, byvoorbeeld, swart kinders uit te sluit van wit skole. Om die waarheid te sê, ek is taamlik oortuig daarvan dat wit skole Dirk Hermann en Kallie Kriel se oortuigde behoefte is. Die kompromis is enkele swart gesigte te midde van 'n see van bleek gesiggies soggens tydens die openingsgebed. Jaco Kleynhans se siel is in Orania gebore, ek hoef nie te twyfel oor wat hy dink nie
ANC gee Sol-Tech suurstof
Kriel sal 'n driftige relaas lewer oor hoekom dit 'n ongegronde persepsie is, maar as ek die aanlyn video's kyk van die Sol-Tech-studente wat dié instelling se "skoollied" ("Sol-Tech Roepstem") sing, verstaan ek dat 'n swart ouer sy kind met 'n beklemmende gevoel daar sal inskryf. Sol-Tech is 'n privaat Afrikaanse tegniese kollege wat praktiese beroepsopleiding bied in vakrigtings soos elektriese werk, sweiswerk, meganiese tegniek en motorwerktuigkunde. Dit is deel van Solidariteit en fokus op vakmanskap, werkverskaffing en moedertaalonderrig binne 'n kultuurbewuste opleidingsomgewing.
Waar het jy al die woord "Roepstem" op 'n ritmiese militêre maat gehoor? Sol-Tech se parades is die naaste aan 'n nonkonformistiese militêre parade met vlaghysing op 'n bitter koue wintersoggend in Duitsland wat jy ooit sal sien. Hoe daardie studente uiteindelik 'n plek moet vind in die onbeskermde werklikhede van Suid-Afrika, weet ek nie. Maar die ekonomie benodig ongetwyfeld hulle vaardighede.

Byna elke aspek van die ritueel herinner aan die uitverkore volk van God wat trou aan Hom sweer op Republiekdag. En, ja, daar is die enkele swart gesigte in die trop, om die kritiek te versag. En, ja, baie meer goeie opleidingsinstellings soos Sol-Tech is nodig, al is die plek se ideologie verstikkend. En, ja, dit bied aan jong mense geleenthede wat nie meer bestaan nie omdat die ANC-regering meer vernietig as bou. Maar my hart gaan uit na die swart kinders wat dringend die goeie opleiding van Sol-Tech nodig het, en ek is kwaad vir die ANC dat hulle dit moet deurgaan. Die ANC gee aan Sol-Tech die suurstof om 'n wêreldse verwarring te skep vir wit én swart jeugdiges.
In gesprek met Carelse is Hermann se relaas verwant aan wat Buys in Rapport geskryf het: "die Afrikaners is terug", in pas met die internasionale erkenning van minderhede en volksnasionalisme. Die veragting wat Trump het vir DEI (diversity, equity and inclusion) vloei in 'n golf van weersin na elke ander jurisdiksie, ook hier in Suid-Afrika. Die Afrikaners, saam met Trump, gee die pas aan, argumenteer Hermann en Buys.
Wederstrewige stemme
Maar in regse geledere is daar ook wederstrewige stemme. Is dit nie maar altyd so met die Afrikaners nie? Hulle vra: Is Trump nie maar net besig om sy binnelandse konflikte te verpak as 'n internasionale uitvoerproduk nie? Is sy beheptheid met Suid-Afrika werklik die resultaat van 'n diepe kommer oor die Afrikaners, of teiken hy enige land waar sy persepsie van reg en geregtigheid uitgedaag word deur plaaslike werklikhede?

Is Kleynhans, Kriel en Hermann nie maar net Trump se "useful idiots" nie? Buys sê die Afrikaners is terug, maar is dit werklik so? Dit blyk uit John Steenhuisen en ook Parks Tau se nabetragting dat die gesprekke na afloop van die ervaring in die Oval Office baie joviaal en rojaal was en Afrikanerregte nie weer 'n kwessie nie. Dit het gegaan oor bemagtiging se invloed op Amerikaanse maatskappye.
Ramaphosa het geen melding in die Oval Office gemaak dat hy beplan om af te sien van regstellende aksie en swart bemagtiging nie. Om die waarheid te sê, hy het voet by stuk gehou dat dit geregverdig is om die onreg van die verlede reg te stel. Maar na aanleiding van 'n informele ooreenkoms oor middagete in die Withuis, het die minister van kommunikasie en digitale tegnologie, Solly Malatsi, hierdie week 'n beleidsdokument in die nasionale vergadering voorgelê wat daarop gemik is om tegnologie soos Elon Musk se Starlink-satelliet-internetdiens na Suid-Afrika te lok.
Die dokument maak voorsiening vir "ekwiteitsekwivalente beleggingsprogramme" (EEIP's) wat aan buitelandse maatskappye die geleentheid sal bied om aan Suid-Afrika se vereistes vir swart ekonomiese bemagtiging (SEB) te voldoen, sonder om die huidige 30% plaaslike swart eienaarskapskwota te bereik. Malatsi se voorstel is nie werklik 'n afwyking van swart bemagtiging nie, dit is net 'n pragmatiese beleidskuif na "bottom up"- eerder as "top down"-bemagtiging; nou nie juis wat Hermann in gedagte gehad het nie.
Wat is die kans dat Trump nie maar net die Afrikaners gebruik soos 'n one-night stand en binnekort sy oop gulp in 'n ander windrigting sal draai nie? Dit is baie moontlik dat die ANC ortodokse bemagtiging vir Suid-Afrikaanse maatskappye behou, maar internasionale maatskappye pragmaties betrek op 'n manier waarop die sogenaamde 30%-aandeelhouding verwater.
Hier is die skakel na die dokument.
Ietsie persoonliks, vergewe my maar
As Ernie Els vergewe kan word vir sy verheerliking van Amerikaanse steun vir die bosoorlog tydens die drama in die Oval Office, kan ek seker ook vergewe word.
In my weermagjare was daar 'n RSM (Regimentsersant-majoor) Jack Pearce in ons eenheid. Pearce was 'n Christiaan de Wet; relatief klein van statuur, maar met 'n hart soos 'n leeu. Hy het baie van my gehou, maar op 'n kol was hy gatvol vir my dinge en het my drie dae in 'n siviele tronk laat toesluit. Die druppel wat die emmer laat oorloop het, was 'n klein voorval toe ek by 'n militêre kantien en kombuis ingebreek het vir drank en kos. Die party leef vandag nog voort in my medemanskappe se geheue. Oukei, ons het ander prettighede ook gehad wat hom laat besluit het om my 'n les te leer, maar steeds.
Pearce was my pa in my weermagdae, al het hy dit nooit geweet nie. Hy het my eendag ure lank stoksielalleen op die paradegrond op aandag laat staan. Teen skemer verskyn hy toe asof uit die niet, en met sy snor 'n asemteug ver van my gesig sê die reus, 6 duim korter en 30 kg ligter as ek: "You are just about my fucking size!" And I believed him. Ek het hom met my lewe vertrou.
Ek dink soms aan 'n scenario waar wit mans weer opgeroep word om na die frontlinies om watter rede ook al te gaan. Kallie Kriel, Dirk Hermann en Jaco Kleynhans rapporteer vir diens. Piet de Wet se spook loop? Nee, man! Ek trek my boots uit en gaan huis toe, jy gaan daai drie nooit fiks kry nie; nie in die kop nie en ook nie in die hart nie. Dis deel van my probleem met die regses – Flip Buys is dalk uit 'n ander hout gesny, maar die res is nie dapper nie. Ek sien nie 'n Christiaan de Wet of Jack Pearce onder hulle nie. Die Afrikaners is dalk terug, maar beslis nie as 'n gewaardeerde veranderlike in internasionale politiek nie.
Tot ons weer ontmoet
Piet
E-pos: hallobinneland@gmail.com
Klik hier vir aanwysings om 'n Binne+Land-web-app op jou foon te skep.
[En, as jy hierdie in jou e-pos lees, en jy wil kommentaar lewer, gaan na heel onderaan hierdie brief en klik op die klein speech bubble wat sê "Comment".]
Om te luister
Toe ek Liewe Eksie in die laat 1990's ontmoet, was sy 'n stoere luisteraar van Ismaël Lô se musiek. Daar was baie Ismaël Lô in haar binneste. Lô is 'n Senegalese sanger, liedjieskrywer en kitaarspeler, bekend vir sy poëtiese lirieke, sielvolle stem en akoestiese styl. Hy is in 1956 in Dogondoutchi, Niger, gebore as kind van 'n Senegalese pa en Nigeriese ma. Hy het egter in Senegal grootgeword en was later een van die invloedrykste musikale figure in Wes-Afrika. "Jammu Africa" (1996) is seker sy mees ikoniese pleidooi vir vrede en eenheid op die Afrikavasteland. Die lied het 'n pan-Afrikavolkslied geword en is later in humanitêre veldtogte en ook rolprentklankbane gebruik.
Die Einde.🎸
Lid kommentare