Goeiemôre
Tydens Covid het ek 'n gemmerplant in die grond gedruk wat 'n woud geword het. Saam met die groot koejawelboom en piesangpalms vorm dit 'n dramatiese, tropiese tableau voor my slaapkamervenster.
Ek snoei nie meer die koejawelboom terug nie, en die takke hang wyd en swaar. Die blouapies spring in wye en gewaagde boë, van die huis se dak na die boom. Hulle lyk vir my soos mens-muise, met hulle swart gesiggies en grys pelse. Ek lê soggens in die bed en verkyk my aan hoe presies hulle met hulle pote is – hoe sekuur hulle takke vasgryp en hulle sterte vir balans gebruik. Hoe hulle van hoog af kan spring en soos 'n bal na die grond afbons.
Sedert ek alleen in my Oos-Kaapse strandkaia woon, het ek anders in dié spasie begin leef. Verlede naweek het Blackie Swart (die perfekte naam vir 'n elektrisiën!) die versameling vintage-glashangligte vir my kom opsit wat ek nou al jare lank uit winkels met tweedehandse goed bymekaarmaak.
Johnny van Heerden en sy manne het die agterstoep 'n poeierige pienk geverf en die deur grilrooi. Gister het ons 'n groot gat in die muur van my blou slaapkamer geslaan om 'n aantrekkamer te maak van die vertrek langsaan – die pienk anneks het uiteindelik, ná 10 jaar, sagte beligting by my spieëlkas. Elke klein verandering, en die omskepping van hierdie spasie, voel vir my soos 'n tree vorentoe na iewers goed, heilsaam en standvastig. Ek het 'n ruk gelede 'n Instagram-inskrywing van @fossilisedflowers gebêre, omdat dit so 'n eggo is van wat in my kop aangaan.
A gentle manifesto for intentional living
live deliberately. unfollow the noise. read poetry daily. watch shadows shift. read for the texture of a sentence. schedule solitude. unlearn urgency. leave gaps in your day for light to pour through. tidy your space. explore ancient wisdom. carry questions without rushing to answer them. let your hours flow. soak in art. savor the madness. let silence become a companion. embrace contradiction. linger where beauty feels unremarkable at first. observe your body. eat with intent. notice the beauty in fonts, leaves, shadows. don't multitask. sit still. find comfort in your chaotic, lived-in home. be in alignment with your body & inner life. enrich your relationships. create rituals for yourself. read something aloud to feel the weight of the words in your mouth. choose stillness as a form of resistance.
'n Sielkundige wat al die reëls oortree
Terrence (Terry) Real is 'n Amerikaanse gesinsterapeut wat groot bekendheid verwerf het met sy baanbrekerswerk oor mans en manlike sielkunde (asook gender en verhoudings). Sy boek I Don't Want to Talk About It: Overcoming the Secret Legacy of Male Depression, oorspronklik in 1997 gepubliseer, was een van die eerste boeke wat oor manlike depressie geskryf is en bly steeds 'n topverkoper, om 'n goeie rede.
Ná my brief oor mans, PTSD en depressie 'n paar weke gelede het ek 'n klomp briewe gekry van mans én vroue wat nie in die kommentare wou praat nie omdat daar duidelik steeds so 'n stigma aan die hele onderwerp kleef. Dit het my opgeval dat die mans oor die algemeen met my gedeel het hoe lank dit hulle geneem het om te identifiseer wat met hulle aangaan, en om dan hulp te kry. Die deurlopende tema van die vroue wat met my gesels het, was hulle frustrasie en eensaamheid in verhoudings met mans met onbehandelde depressie.
Ek het hierdie week in die kar na 'n onderhoud van Tim Ferriss met Terry Real geluister wat nogal die mat onder my voete uitgeruk het. Real verwerp die tradisionele benadering tot terapie waar die sielkundige die neutrale spieël is, en nie kant kies of raad gee nie.
"[As therapists] we're actively taught not to. God forbid you should – thou shalt not take sides. If you take a side, particularly if you side with a woman against a man, then you have to go to your supervisor and talk about your mother for a while, and you can go back into the therapy. No, no, no, no, no. The idea is that all problems are 50/50, and common sense knows that's just bullshit."
As jy iemand soos ek is, vir wie die onderwerp diep persoonlik is, luister na die hele podsending – of lees die transkripsie.
Hier is ses groot idees waaraan ek herkou:
#1 Selfverdediging
"Depressie is beskou as 'n vrouesiekte, en ek argumenteer daarteen," sê Real in die podsending. "Baie mans het dieselfde soort depressie soos wat ons normaalweg daaraan dink. Ek noem dit openlike depressie. Maar baie mans, anders as vroue, het wat ek bedekte depressie noem. Jy sien nie die depressie nie. Jy sien wat die man doen om homself teen die depressie te verdedig."
Dít is kop-oopblaas-insig, meen ek. Hy sê baie van die probleme wat ons as tipies manlik beskou (maar natuurlik nie nét by mans nie), kan deur depressie aangevuur word. Hy noem "selfmedikasie, woede, losbandigheid en ontrouheid" en dan, vir my, die gróót een, "radikale onttrekking", waarvan soveel vroue wat vir my geskryf het, getuig.
#2 Waar dit begin
"Familiepatologie rol van geslag tot geslag soos 'n vuur in die bos wat alles in sy pad afmaai, totdat een persoon in een geslag die moed het om om te draai en die vlamme in die gesig te kyk. Daardie persoon bring vrede vir sy voorvaders en spaar die kinders wat volg," sê Real.
Ek was nog altyd 'n bietjie agterdogtig omdat probleme waarmee ons gekonfronteer word, so dikwels aan kindertrauma toegeskryf word. Dit voel vir my iewers moet 'n mens 'n nuwe pad oopkap, in plaas van net blameer, maar Real redeneer dat die sleutel tot mans se "weggesteekte depressie" (covert depression) baiekeer in hulle grootwordjare lê, soms in trauma, maar ook dikwels in aangeleerde genderrolle en verwagtinge.
"Seuns en mans raak depressief vanweë wat ek normale seunsjeugtrauma onder patriargie noem. Ons word op drie-, vier-, vyfjarige ouderdom geleer om ons kwesbaarheid te ontken, om van ons gevoelens af te skakel, om van ander af te skakel, alles in die naam van outonomie. Ons sny die helfte van ons menslikheid af – die gevoelens, die kwesbaarheid, verbinding – eintlik, in sommige opsigte, die rykste, voedsaamste dele van menswees. En daardie afsnyding, wat op seuns afgedwing word, is traumaties. Dit maak jou ook geïsoleerd en eensaam. En daardie trauma word depressie."
"Part of the reason why we don't change is we're loyal to the relationships that we learn how to be screwed up in."
#3 Dealbreakers
Real sê daar is dealbreakers in verhoudingsterapie; kwessies wat aandag moet kry voordat enige terapie suksesvol kan wees – verslawing, geweld en onbehandelde psigiatriese toestande soos angs en depressie.
Dit slaan my nogal tussen die oë.
Twee ander dealbreakers is wanneer een persoon wil werk aan iets, maar die ander een nie; en as daar 'n groot verskil is in die volwassenheid en evolusie van die twee mense. Die onvolwassenheid sal in 'n stadium te pynlik raak vir die meer ontwikkelde persoon. En dan, sê Real, moet jy maar jou goed vat en loop.
#4 Wanneer om weg te stap
Real praat van "relational reckoning" wat hy in 'n eenvoudige vraag saamvat: "Kry ek genoeg in hierdie verhouding om die rou oor wat ek nie kry nie die moeite werd te maak? Kry ek genoeg in hierdie verhouding om die pyn van wat ontbreek vir my aanvaarbaar te maak?"
En as die antwoord "ja" is, sê Real "hou dan op kla en omhels wat goed is, en hou op om 'n groot, kwaai slagoffer te wees".
#5 Ons verwag méér
"Ons het nog nooit meer van ons verhoudings verwag as wat ons nou doen nie," maan hy.
"Vir ons ouers en grootouers was 'n kameraadskaplike huwelik goed genoeg, maar ons wil méér hê. Ons wil ware intimiteit hê en dit volhou. Ons wil hande vashou, op die strand stap, diep gesprekke voer, wonderlike seks hê tot in ons sestigs en sewentigs, ons wil lewenslange geliefdes wees. Dit is nuut. Die huwelik is nooit daarvoor gebou nie. Gaan kyk na Westerse letterkunde en kry vir my 'n passievolle huwelik. Alle passie is buite-egtelik."
#6 Ons het almal intimiteit nodig
En hier haal ek hom sommer in Engels aan omdat hy homself so goed uitdruk:
"Not being intimate is as bad for your body as smoking a pack and a half of cigarettes a day. This is hard, black and white research. We are born to be intimate. Moving beyond traditional gender roles is the only way to get there. So stop whining, stand up, and learn a few relational skills. It's good for you, it's good for your body – you'll live longer – it's good for your marriage, and it's good for your children."
Dan, voordat ek groet, as iemand kan help? Ek soek blyplek in Stellenbosch vir my dogter en 'n maatjie (of drie) vir volgende jaar. Ná twee jaar in die koshuis is hulle nou gereed vir meer onafhanklikheid. As daar enige lesers is wat ons 'n nuwe koers kan help inslaan, sal ek baie dankbaar wees.
Tot volgende Sondag.
Mooi loop
Anneliese
E-pos: hallobinneland@gmail.com
Klik hier vir aanwysings om 'n Binne+Land-web-app op jou foon te skep.
[En, as jy hierdie in jou e-pos lees, en jy wil kommentaar lewer, gaan na heel onderaan hierdie brief en klik op die klein speech bubble wat sê "Comment".]
LOS GOETERS
'n Gedig
Good Grief
Let your
heart break
so your spirit
doesn't.
– Andrea Gibson, uit die bundel You Better Be Lightning.
Leesgoed



Kosgoed
Op my kosradar hierdie week:
How to Cook Restaurant-Style Chicken at Home – Eric Kim in New York Times Cooking. "Laat die hoender homself gaarmaak, en gebruik die sous wat afdrup om 'n lemmetjie-bottersous mee te maak." Kim se kookboek, Korean American: Food that Tastes Like Home, is fenomenaal.
Ook van Kim: Apple and Broccoli Salad
3 Easy Dinner Recipes Featuring Eggs, Eggs, & More Eggs. Die geroomde preie met eiers en suurlemoenskil is 'n geniale kombinasie.
En ek het vandeesweek hierdie vir my aandete gemaak. Perfekte trooskos vir 'n alleenloper op 'n kouefrontdag.

Kykgoed
Musiekgoed
Die Einde. 🧑🤝🧑
Lid kommentare