"Sir, it is a warning shot, nothing more."
Ek het heelparty EFF-studente in my klasse. Ek weet, want baie dikwels dra hulle rooi T-hemde en sit agter in die klas, bymekaar. Maar hulle is ook op 'n vreemde wyse interessanter, dalk selfs brighter as die gemiddelde student. Hulle kom meer dikwels uit die beter skole van Suid-Afrika, wat my argument ondersteun dat die EFF 'n swart middelklas- eerder as werkersklas-party is. Hulle het sonder uitsondering baie te sê, daar is nie baie onder hulle met 'n bek vol tande nie. Dit gesê, sonder hulle sal my klasse vir my aansienlik minder leersaam wees.
Deur die jare het ek al dikwels in die klas gevra: Is "Dubul’ ibhunu" ("Kill the boer") gemik op wittes of apartheid? Die vraag lei sonder uitsondering tot 'n onderlinge argument tussen die EFF- en die ANC-ondersteuners. Die meeste studente in die klas beskuldig die EFF daarvan dat Julius Malema die woorde van die lied letterlik bedoel, en beweer dat die ANC dit metafories sing. Dog, as ek die rooibaret-studente se mening kan opsom, is dit in die woorde van 'n skraal, ironies genoeg skugter voorbok, met 'n baie sweet smile, wat dikwels hartlike geselsies met my kom maak: "Sir, it is a warning shot, nothing more."
Ek lees iewers in die media Koos Kombuis dink "Dubul’ ibhunu", oftewel die liedjie, moet liefs nie verbied word nie. Instinktief dink ek hy is reg, eintlik moet bitter min dinge in die lewe verbied word. Dalk net eers 'n soort bekentenis: Ek wonder hoeveel van my generasie die lig sou gesien het as dit nie was vir stemme soos dié van Koos Kombuis, Johannes Kerkorrel en Bernoldus Niemand nie. Ek kan my nie die Afrikaanssprekende wêreld indink sonder Koos en sy hell-raising clan se bevryding van Afrikaans uit die kloue van PW Botha se Afrikanerskap nie.
Maar terug na die hede. Elon Musk is besig om soos 'n verskietende ster uit te brand, maar hy het een ding gesê waarmee ek saamstem: As wat ek ook al sê of doen nie teen die wet is nie, moenie my probeer stilmaak nie. Jy kan altyd 'n poging aan die gang sit om die wet of selfs die Grondwet te wysig, maar dit is die pad wat jy moet loop om my stil te maak. Die opsweping van Afrikaner-nasionalisme is nié 'n manier om 'n punt te maak of my vryheid van spraak aan bande te lê nie.
Dit is ook waar dat "Dubul’ ibhunu" volgens 'n appèlhof-uitspraak nie haatspraak is nie; dat die woorde gemik is op die apartheidstelsel eerder as op boere of wit Suid-Afrikaners. Toegegee, dit is inderdaad die historiese konteks van die liedjie. Adriaan Basson, hoofredakteur van News24, het ook onlangs dié punt in 'n ope brief aan Elon Musk gemaak. Ek aanvaar die oppergesag van die reg, maar die reg is nie net klinies en interpreterend nie, dit is ook 'n lewende organisme wat konteks en tyd verreken. Wanneer sal die historiese konteks van "Dubul’ ibhunu" só vreemd word dat die hede die enigste konteks is?
Rassespaning
In Oktober 2012 het Gwede Mantashe, destyds sekretaris-generaal van die ANC, gesê: "Die ANC verbind hom daartoe om nie hierdie lied te sing nie." Sy regverdiging was dat die ANC rassespanning en verdere polarisasie wou vermy. Meer onlangs, in April 2024, het die andersins niksvermoedende Fikile Mbalula, huidige sekretaris-generaal van die ANC, gesê: "The ANC no longer sings this slogan, as it is not relevant in the current political context." Ek vermoed die kraakbeen wat Cyril Ramaphosa se skelet regop hou, verhoed hom om iets anders te sê as die cop-out-argument van 'n paar weke gelede: "AfriForum must take the matter to the courts."
Maar Koos se regverdiging van sy argument kon dalk ook 'n paar ander moeilike vrae laat ontstaan het. As jy byvoorbeeld saam met jou klein kerngesin op 'n diep landelike plaas deur die werklikhede van klimaatsverandering, wisselvallige markte, vernietigde logistieke stelsels en 'n gevoel van politieke vervreemding geteister word, en 'n destruktiewe stem op jou televisie por 'n oënskynlik woedende massa aan om te skiet om dood te maak, is jou begrip van wat jy sien dalk meer bloedstollend as vir die meeste ander mense.
Kan ons argeloos omgaan met die feit dat 'n beduidende deel van die samelewing die metaforiese aanmoediging dat hulle uitgemoor moet of kan word letterlik opneem? Ons weet reeds dat Julius Malema en die EFF wit mense as 'n politieke teiken beskou – daar is dus 'n konteks om in ag te neem. Moet die metafoor van "Kill the boer" saamgelees word met "We will cut the throat of whiteness", veral aangesien dit gesê is terwyl die gebaar van 'n mes by 'n keel uitgevoer is? Wanneer skuil daar doelbewuste werklikhede in metafore?
Wanneer moet 'n pa in die diep landelike gebied van Suid-Afrika vir sy kinders sê hulle moet liewers nie nuus kyk nie, want hy weet nie hoe om Julius Malema aan hulle te verduidelik nie?
En hierdie boer verteenwoordig ook 'n groter werklikheid. Hy en sy gesin het ouers wat in die stad woon, familie en vriende versprei oor Suid-Afrika; mense wat sterk identifiseer met sy lot, mense met deernis en begrip vir die soms onbewustelike spanning van isolasie, want ons besorgdheid vir mekaar is 'n gemeenskaplike kenmerk.
Sagte teiken
Daar is konserwatiewe en regse organisasies wat die saak en lot van hierdie jong boer hulle eie gemaak het. Iemand moet. Maar assosiasie met dié stemme stigmatiseer die boer se bestaan, én sy hoop om begrip by die staat en swart Suid-Afrikaners te kry. Hy word nou 'n sagte politieke teiken vir opportunistiese politieke elites, soos Malema.
Maar dieselfde relaas geld die Bok van Blerk-liedjie "De La Rey". Dit is 'n duidelike oproep tot die militarisering van die "boere" se lot. "Sal jy die boere kom lei?" Die woorde verwys baie duidelik na die Anglo-Boereoorlog, maar ek het al die dawerende vastrap by Loftus se braaiplekke gesien wanneer die jong manne in two-tone en met vuis op die bors die woorde "Sal jy die boere kom lei?" aanhef. As jy 'n swart karwag is en dié petalje aanskou, sal jy ook maklik kan dink dit is 'n militêre wekroep tot bewapening wat strook met die bewering dat Afrikaners deur 'n volksmoord bedreig word. Dit is maklik om mekaar verkeerd te verstaan in Suid-Afrika, en metafore en simboliek skep juis doelbewus 'n geleentheid vir diverse interpretasies.
Koos maak 'n geldige punt dat 'n liedjie nie verbied moet word nie, maar kan ons van die mense wat geteiken voel, verwag om die metafoor te lees en die simboliek te aanvaar in 'n land waar 75 moorde per dag gepleeg word? Kan ons hierdie jong boer verkwalik as hy oortuig is daarvan dat die polisie hom nie te hulp gaan snel nie, dat die regering hom onveilig en vervreemd laat voel? Hy vrees vir sy kinders se veiligheid. Hy vermoed sy vermoë om sy gesin te beskerm is kwesbaar, en dat alles wat hy in sy lewe opgebou het in een genadelose oomblik vernietig kan word.
Hy was dit self tot dusver gespaar, maar hy ken mense wie se lewens vernietig is deur 'n aanval op hulle huis en menswees. Die geskiedenis van insiders en outsiders maak dit vir hom haas onmoontlik om tussen vriend en vyand te onderskei.
Die ANC het politieke bevryding gebring, maar ekonomiese vervreemding het sistemies geword. Of, dalk was dit nog altyd sistemies gewees; dalk het die sediment van apartheid se wreedheid 'n soort genetiese ewigheidswaarde. Vir die miljoene verarmde, werklose en ontheemde Suid-Afrikaners het dié woorde van Milan Kundera steeds sin: "The struggle of man against power is the struggle of memory against forgetting." (The Book of Laughter and Forgetting, 1979.) Hoe moet hulle onderskei tussen apartheid se nalatenskap en die ANC se verwaarlosing?
Die feit dat sommige regse drukgroepe politieke munt probeer slaan uit die EFF se geveinsde simboliek behoort nie my oordeel te beïnvloed nie. Die feit van die saak is: Ek is taamlik oortuig daarvan dat die EFF die simbole van die bevrydingstryd misbruik om roekeloos te wees. Daar is geen bewyse dat iemand wel vermoor is as deel van 'n politieke agenda nie, maar hoekom sou 'n lyk die enigste bewys van bose intensies wees? Ons weet swart Suid-Afrikaners het geen belang daarby of die politieke wil om wit Suid-Afrikaners te vermoor of uit te moor nie, maar die sing van "Kill the boer" is beslis die doeltreffendste manier waarop wit Suid-Afrikaners gestigmatiseer en stilgemaak kan word.
Gefragmenteerd
Dit is tyd vir redelike stemme, vir verteenwoordigende stemme, om te erken dat grondhervorming 'n morele regverdiging het, maar ook dat dit gedoen kan word sonder om bestaande boere arbitrêr van hulle eiendomsreg te vervreem. Die probleem met my argument is dat die regerende party só gefragmenteerd is dat hulle nie meer kan of wil luister na rede nie.
Maar dit maak ook saak wie hom of haar uitlaat oor 'n netelige saak. Dit was oor dekades heen nie moontlik vir georganiseerde landbou om die ANC of die president daarvan te oortuig dat tot 25% van landbougrond reeds van wit na swart boere oorgedra is nie. Totdat die landbou-ekonoom en presidensiële raadgewer van Agbiz, Wandile Sihlobo, dié feit aan Cyril Ramaphosa oorgedra het. Uiteindelik was die president bereid om dié werklikheid in die nasionale wetgewer aan te kondig. Die feit dat AgriSA dit reeds geruime tyd gesê het, het bitter min gewig gedra.
Tog weet ons almal dat die ANC nagelaat het om iets aan die wrede verlede te doen. Ek sit en luister in die AfriForum-teater na Craig Williamson, voormalige Suid-Afrikaanse spioen, waar hy William Faulkner soos volg aanhaal: "The past is never dead. It's not even past." Eintlik bied ons almal maar weerstand teen vergeet, en vertroetel ons die wreedhede wat in ons geheue bly maal. Daar is min ervarings psigologies so bevredigend soos blaam, en daarvoor het jy, ironies genoeg, 'n selfkastydende geheue nodig.
Tot volgende week.
Piet
Aanbevelings
Iets om te eet
As jy nog nie 'n Rohack-brötchen ('n vars Duitse broodrolletjie met fyn gekapte rou beesvleis) geëet het nie, klim in jou kar en ry Swakopmund toe, dis nie te ver nie. Kies kortpad deur die woestyn, via Helmeringhausen en die Kuiseb-pas, óf die Zarishoogte-pas, na die Weskus van Namibië. Moenie vergeet om by Solitaire te stop vir die beste vleispastei in die hele wêreld nie.
Hierdie resep is só poëties, ek gaan nie die oomblik bederf met 'n nederige Breyten-gediggie nie.
Rohack-brötchen
Bestanddele
4 vars skilferkors-broodrolletjies (Duitse Brötchen)
400 g topkwaliteit-beesmaalvleis (Tartaarse graad – vars en spesiaal bedoel om rou geëet te word)
1 eiergeel
1 teelepel mosterd
1 teelepel worcestersous
1-2 eetlepels kappertjiesaad, na smaak
'n paar druppels suurlemoensap
sout en vars swartpeper, na smaak
1 klein ui, baie fyn gekap
vars pietersielie of grasuie, gekap
Maak dan só
Sny die broodrolletjies in die helfte deur en rooster liggies vir ekstra tekstuur.
Plaas die maalvleis in 'n bak. Voeg die eiergeel, mosterd, worcestersous, kappertjiesaad, suurlemoensap, sout en swartpeper by.
Meng liggies met 'n vurk tot net gemeng; moenie dit te veel meng nie, want dan raak dit pap.
Opdiening
Smeer 'n dun lagie botter en dan 'n dik laag van die beesvleismengsel op elke helfte van die broodrolletjies. Strooi die gekapte ui en kruie bo-oor.
Voeg skyfies piekel of komkommer by, indien verkies. (My goeie vriend Staal Burger sit graag dun skyfies piekel op; ek sit nie my bek aan daai suurgeit nie.)
Sit voor met jou beste Duitse koffie. Of in Duitse styl, met 'n koue bier.
Iets om na te luister
"Froggie Went a Courtin' " (in Afrikaans "Die padda wou gaan opsit") is ’n tradisionele 16de-eeuse Engelse lied wat oor honderde jare heen ’n volksliedjie geword het. Dit is in baie tale en kulture aangepas – ook in Afrikaans. Ek was absoluut verstom toe ek jare gelede Bob Dylan se weergawe met sy kenmerkende stem en kitaarspel gehoor het. Dylan het sy weergawe van die lied opgeneem vir sy 1992-album, Good as I Been to You, 'n versameling akoestiese vertolkings van tradisionele folk- en bluesliedjies.
Dit is waarskynlik via Engelse invloede in Suid-Afrika bekend gestel, veral deur onderwys, sendingwerk en kinderliteratuur, waar dit vir Afrikaanse kinders vertaal en aangepas is. In die vroeë 20ste eeu is verskeie Afrikaanse weergawes van Engelse kinderliedjies opgeneem in volksangbundels soos Die Nuwe Kinderliedjiesboek. "Froggie Went a Courtin' " is onder meer vertaal as "Paddatjie wou gaan vra" of soortgelyke variante, met plaaslike Afrikaanse beeldspraak en name.
Die Einde. 🥨
Lid kommentare