Goeiemôre
Kom ons wees eerlik: Die beskerming van die gekompromitteerde politieke elite duur volstoom voort onder die Ramaphosa-administrasie. Ek is nie oortuig daarvan dat daar vervolgings gaan wees na afloop van waarnemende adjunkhoofregter Mbuyiseli Madlanga se ondersoek na die inligting wat Nhlanhla Mkhwanazi bekend gemaak het nie. Maar ons kan beslis 'n openbare drama in drie bedrywe oor die komende jaar of meer te wagte wees. Seker die enigste kommissie van ondersoek wat reg laat geskied het aan die proses en waarvan die uitkomste geïmplementeer is, was die Nugent-kommissie wat korrupsie en die ineenstorting van bestuur by die SAID gedurende Tom Moyane se termyn as kommissaris ondersoek het.
Maar as ervare regsgeleerde behoort Madlanga reeds voordat hy sy taak begin, te weet dat die polisie 'n nes van faksies en kartelle is, en dat periodieke ondersoeke na die SAPD byna sonder uitsondering deur Cyril Ramaphosa onder die mat ingesleep word. Die president het wel tydens sy volksgesprek die afgelope Sondagaand aangedui dat die verslag uiteindelik na die wetgewer gestuur sal word, maar ek vermoed die tannemuis sal dit persoonlik by Luthulihuis moet gaan haal en by die speaker, Thoko Didiza, aflewer.
Staatskaping duur voort
Die Zondo-verslag het reeds meer stof vergaar as die grondpad na Nieu-Bethesda. Die ANC se harslag is blootgelê. Ons het gesien hoe ministers verneder word deur regslui wat moeilike vrae vra en ons moes luister hoe pres. Ramaphosa die korrupsie en nepotisme van kaderontplooiing verdedig. Die opportunistiese regverdigings vir die aftakeling van ons Grondwet was pynlik. Ons sal dus verskoon word as ons onder die indruk is dat daar nie net niks van die Zondo-verslag se aanbevelings gekom het nie, maar dat die era van staatskaping onverpoosd voortduur.
Daar was egter ook 'n ander belangrike verslag wat Ramaphosa kon gewaarsku het dat die SAPD 'n potensiële misdaadsindikaat is. Ferial Haffajee se artikel "Ramaphosa's new police inquiry – while sitting on two previous reports" in Daily Maverick het my herinner aan prof. Sandy Africa se verslag, want ek het soos die president daarvan vergeet. Prof. Africa het ná die geweld en plundering in Julie 2021 in KwaZulu-Natal en dele van Gauteng in dié verslag voorstelle gemaak oor hoe die skuim by misdaadintelligensie en die polisie opgeruim kan word. Daar het dadels van Africa se aanbevelings gekom.
Terloops, in Mei 2024 het niemand anders nie as ons nuwe waarnemende minister van polisie, die struggleveteraan Firoz Cachalia, 'n verslag met min of meer dieselfde tema vir die National Anti-Corruption Advisory Council (Nacac) saamgestel. Ons weet nie regtig wat in Cachalia se SAPD-Intelligensie-verslag gestaan het nie, want Ramaphosa het óf vergeet om dit te lees óf is vreesbevange vir die openbare uitval wat die inhoud kan veroorsaak.
ANC maak seker alles bly lippetaal
Die werklikheid is: Die president sal 'n adjunkminister van 'n politieke bondgenoot afdank omdat hy 'n burokratiese reël oortree het, maar hy verduur en verdra sy partygenote se korrupsie en geslepenheid omdat hy nie dapper genoeg is om moeilike besluite te neem nie. Khumbudzo Ntshavheni, minister in die presidensie, sit tans in die Uniegebou met nasionale intelligensie wat onder haar ressorteer. Na regte moes sy Ramaphosa al kort ná haar aanstelling oor die gemors by die polisie kon ingelig het.
Die DA maak heeltemal tereg groot gewag van Thembi Simelane, minister van menslike nedersettings, se beweerde VBS-korrupsie en ook van Nobuhle Nkabane, minister van hoër onderwys en opleiding, se leuens en onbevoegdheid wat op nasionale televisie soos 'n pitsweer oopgebars het. Maar wat van Ntshavheni? Hoekom gaan jou belasting steeds na 'n gekompromitteerde politikus soos sy? Die laaste keer toe ek gekyk het, is sy deur Shamila Batohi se NVG vir vervolging oorweeg. En ook die Zondo-kommissie het aanbeveel dat sy na aanleiding van haar gedrag in die Denel-saak verder ondersoek moet word. Daar was aanduidings dat sy een van die Guptas se bemagtigers (enablers) by dié staatsonderneming was. Ramaphosa se regering en die ANC maak seker dit bly alles lippetaal.
Dan is daar ook nog die Valke se ondersoek na tenderbedrog tydens haar termyn as Ba-Phalaborwa se munisipale bestuurder. Die dossier is blykbaar gereed op die NVG se stofvergarende tafel. Tenderongerymdhede, of minstens die tipiese omstredenheid daarvan, volg Ntshavheni soos 'n spook. In 2013 het sy by die Staatsinligtingstegnologie-agentskap (Sita) gewerk. Ook daar is sy in 'n stadium tydelik geskors en op verlof geplaas terwyl 'n saak van tendermanipulasie ondersoek is. Haar begrip van mag fikseer duidelik op tenders.
Maar kom ek keer terug na my argument vroeër die week op RSG dat die president moes geweet het wat in die SAPD aangaan. Hy hoef nie vir sy onbevoegde minister belas met intelligensie óf die kanonskoot-mediakonferensie van genl. Mkhwanazi te gewag het nie. Daar is verskeie afgehandelde ondersoeke waarop hy al kon gereageer het, maar hy verkies om daaroor te swyg. In 2023 het die Onafhanklike Polisieondersoekdirektoraat (Opod) 'n vernietigende verslag uitgereik waarin 10 senior SAPD-lede van growwe nalatigheid aangekla is. Niemand is tot dusver vervolg nie.
In Mei 2023 het Gun Free South Africa (GFSA) saam met nege families van Kaapstad 'n klas-aksie begin. Die klag spruit uit bewerings dat kolonels Christiaan Prinsloo en David Naidoo tussen 2007 en 2015 meer as 2 000 vuurwapens uit SAPD-voorraad wat vir vernietiging bestem was, gesteel en dit aan bendeleiers op die Kaapse Vlakte verkoop het. Volgens 'n deskundige getuie, Mark Mastaglio, was hierdie wapens verantwoordelik vir minstens 1 066 moorde, insluitend op 67 kinders.
'n Verslag deur die Cape Argus het later die dodetal onder kinders op 187 gestel, met altesaam meer as 1 000 slagoffers. Die families van slagoffers, waaronder dié van Cornelius in Manenberg en Mentor en Davids in Hanover Park, eis nou geregtigheid in die Wes-Kaapse Hooggeregshof. Hulle soek verantwoordbaarheid, vergoeding en hervorming van die wapenbeheerstelsel. Daar is geen aanduiding dat wapenbeheer nou beter as destyds is nie.
Op 18 September 2020 is lt.kol. Charl Kinnear, 'n senior speurder van die Wes-Kaapse teenbende-eenheid, buite sy huis in Bishop Lavis doodgeskiet. Kinnear het 'n ondersoek gelei na 'n sindikaat binne die SAPD wat onwettige vuurwapens aan misdaadgroepe verskaf het, asook verbintenisse met Pretoria se sentrale vuurwapenregister gehad het. Kinnear se foon is voor sy dood meer as 2 100 keer elektronies gevolg. Die persoon wat die opsporing gedoen het, was Zane Kilian, 'n voormalige rugbyspeler wat onwettig toegang tot gevorderde opsporingstoerusting gehad het. Kilian het Kinnear se bewegings in detail gevolg en op die dag van die moord 38 "pings" ('n metode om 'n selfoon se ligging vas te stel) uitgevoer, insluitend kort voordat Kinnear doodgeskiet is.
Kinnear se ondersoek het ook gefokus op berugte skadufigure, onder andere Nafiz Modack, wie se beskermers vermoedelik by SAPD-Intelligensie betrokke was. Kinnear het in 'n stadium formeel gekla en gewaarsku dat sommige van sy kollegas se opportunistiese en kriminele aktiwiteite sy lewe in gevaar stel, waarskuwings wat geïgnoreer is. SAPD-wapens in die hande van misdadigers lei veral in townships tot moord. In Maart 2020 het gewapende mans sewe mense doodgeskiet in 'n taverne in Khayelitsha, waaronder 'n kind. In baie van hierdie gevalle is AK-47's gebruik, meer dikwels gesteel of verkoop uit SAPD-voorraad. Maar daar kan geen twyfel wees dat wapenhandel tussen misdaadkartelle in Mosambiek én Suid-Afrika 'n uiters lewensvatbare besigheid is nie.
'n Wortelkanaal-voorbeeld
In verskeie provinsies, maar veral in Mpumalanga en Gauteng, is daar 'n toename in sogenaamde blouligbendes, misdadigers met SAPD-uniforms en -dienswapens wat mense in gesteelde motors ontvoer, rooftogte pleeg en gemeenskappe intimideer. In Januarie 2024 is die Kanadese musikant Sean Stephens en sy gesin deur vermeende polisiebeamptes ontvoer. Onder die gearresteerdes was twee aktiewe SAPD-lede wat die misdaad met hulle dienswapens uitgevoer het.
Om mee af te sluit: Kom ek gebruik 'n politieke wortelkanaal-voorbeeld in die smetput van ons huidige krisis. Kamogelo Mogotsi het 'n LLB-graad en is 'n toegelate prokureur, maar het geen formele kwalifikasies in kommunikasie nie. In 2018 word sy in die staat se regsdienste aangestel. In 2019, nadat minister Senzo Mchunu oorgeneem het by die departement van staatsdiens en administrasie (DPSA), word sy gevra om tydelik as sy woordvoerder waar te neem. Ná rype betragting van haar vaardighede is Mchunu só beïndruk dat hy haar formeel in die pos aanstel en van 'n vlak 7-regsassistent tot 'n vlak 13-woordvoerder bevorder. Haar salaris word verhoog van sowat R400 000 per jaar tot byna R1,3 miljoen.
Daarna volg sy Mchunu van staatsdiens en administrasie na water en sanitasie, en word uiteindelik sy woordvoerder by die departement van polisie. Die personeelafdeling teken hewig protes aan oor die ongerymdheid wat haar bevordering voorafgegaan het, maar Mchunu ignoreer waarskuwings dat die aanstelling teen die beleid van die departement indruis. Ons minister van polisie laat blomme aflewer wanneer sy verjaar en sy kan gereeld met die geloei van blou ligte saam met hom in sy ampsmotor reis. Ek kan nie besluit of dit magsmisbruik of korrupsie is nie, maar weet dat sweet little nothings nie 'n protokol het nie.
O ja, nog iets. Daar is 'n ander aspek wat openbare ondersoeke betref: Terwyl die president weier om die aanbevelings van kommissies te implementeer en die ANC verkies om niemand verantwoordbaar te hou nie, word ons as die publiek minstens soms goed deur die media ingelig oor die verrotting en wie daarby betrokke is. Die Zondo-ondersoek was baie beslis deels daarvoor verantwoordelik dat net 15% van stemgeregtigdes en 23% van geregistreerde Suid-Afrikaners in Mei 2024 vir die ANC gestem het. Oor alle historiese grense heen het die ANC geloofwaardigheid ingeboet en is Cyril Ramaphosa besig om saam met sy party in die rioolpyp af te gly. Good riddance.
Tot volgende week
Piet
E-pos: hallobinneland@gmail.com.
Klik hier vir aanwysings om 'n Binne+Land-web-app op jou foon te skep. [En as jy kommentaar wil lewer, gaan na onderaan hierdie brief.]
As jy nog nie 'n betalende lid is nie, kan jy dit vir so min as R50 per maand doen. Ons is 'n lesersondersteunde publikasie. Sonder ondersteuning kan ons nie bestaan nie. Baie, baie dankie aan elkeen wat bydra om om Binne+Land moontlik te maak. 🙏🏼
Wees rustig. Die stappe neem 'n oomblik om te laai.
Die Einde.😎
Lede se kommentaar