Ramaphosa + Trump: 'n agenda van verduidelikings?

PIET CROUCAMP skryf oor 'n ou waarheid in 'n Boksburg-kroeg: Moenie jouself probeer verduidelik nie. As hy Ramaphosa se raadgewer was, sou hy die Suid-Afrikaanse president aangeraai het om seker te maak Trump dink aan Mzansi as van strategiese belang. 

Ramaphosa + Trump: 'n agenda van verduidelikings?

Goeiemôre

Teen die tyd wat hierdie nuusbrief gepubliseer word op Woensdag 21 Mei 2025 om 06:00, is Suid-Afrika se president, Cyril Ramaphosa, enkele ure weg van een van die mees spanningsvolle en potensieel mees vernietigende ervarings in sy politieke lewe. In die loop van die dag sal hy die Amerikaanse president, Donald Trump, in die Oval Office van die Withuis ontmoet. Ramaphosa het in die media laat blyk dat hy 'n sakelys van transaksies en ooreenkomste het wat hy namens Suid-Afrika met Trump se Amerika wil sluit. Ek wonder of die Withuis die agenda van die gesprek aan die Suid-Afrikaners gaan oorlaat. 

Daar is 'n ou waarheid met substansie wat geld vir die laaste paar sekondes voordat iemand jou bliksem in 'n Boksburg-kroeg: Moenie jouself probeer verduidelik nie. As Ramaphosa homself aan Trump wil verduidelik, is Suid-Afrika in die moeilikheid. As ek sy raadgewer was, sou ek ons president adviseer om seker te maak Trump verstaan Suid-Afrika as van strategiese belang en nié as 'n tipiese basket case Afrikaland aan die suidpunt van Afrika nie.

In die aanloop tot vandag se vergadering tussen die twee presidente sal daar verskeie ander vergaderings tussen Amerikaanse en Suid-Afrikaanse amptenare wees. 

Redi Tlhabi skryf hierdie week in Daily Maverick dat Johann Rupert, een van Trump se meer invloedryke vriende op die gholfbaan, tans deel is van Ramaphosa se span in Washington. Rupert sal dit op hom neem om bewerings van volksmoord te temper en die Onteieningswet se nuanses uit te stippel. Ramaphosa hoef dit nie te doen nie. Dit sal nie die eerste keer wees dat Rupert vir Ramaphosa te hulp moes snel nie.

Dit is in hierdie voorafgesprekke wat die Suid-Afrikaanse delegasie hulle troefkaart moet speel. Maak dit onmiddellik duidelik dat Suid-Afrika geen handelstariewe op Amerikaanse invoere sal hef sonder 'n onderhandelde ooreenkoms nie en beweeg dan aan na wat regtig vir Trump belangrik is: aardmetale.

Seldsame aardmetale (rare earth metals)

Suid-Afrika het tans twee mynprojekte wat seldsame aardmetale ontgin. Die belangrikste een is die Steenkampskraal-myn in die Wes-Kaap, maar daar is ook die Phalaborwa-projek in Limpopo. Steenkampskraal word bedryf deur Steenkampskraal Monazite Mine (SMM), 'n filiaal van Steenkampskraal Holdings. Bora Mining Services (BMS) het in 2024 'n strategiese belang in die myn verkry, en voorsien nou die nodige kapitaal en operasionele ondersteuning. Die myn het seldsame aardmetaalneerslae van die hoogste graad ter wêreld, met 'n gemiddelde graad van 14,5% seldsame aardoksiede (rare earth oxides, oftewel TREO). Daar is betekenisvolle hoeveelhede neodimium, praseodimium, disprosium en terbium in die myn. Die myn ondergaan tans herstelwerk en behoort vanjaar nog produksie te hervat.

Die Phalaborwa Rare Earths Project (Limpopo) word ontwikkel deur Rainbow Rare Earths Ltd, 'n maatskappy wat in Londen genoteer is. Van absolute belang is die US International Development Finance Corporation (DFC) se minderheidsbelang in Rainbow Rare Earths. Die myn hou seldsame aardmetale uit fosfogips-afvalmateriaal, 'n neweproduk van vroeëre fosfaatmynbou. Teikenelemente sluit in neodimium, praseodimium, disprosium en terbium. Produksie behoort teen laat 2027 te begin, met 'n verwagte jaarlikse opbrengs van ongeveer 1 900 ton magnetiese seldsame aardmetaaloksiede.

Die Phalaborwa Rare Earths Project word deels gefinansier deur TechMet, wat weer ondersteun word deur die DFC – 'n duidelike aanduiding van die VSA se strategiese belangstelling in die projek.

Die Amerikaanse departement van verdediging (DoD) en departement van energie (DoE) het hierdie vier elemente op hulle lys van kritieke materiale geplaas (in 2022 en 2023), vanweë die afhanklikheid van China, wat meer as 80% van wêreldwye seldsame-aardmetaalverwerkingsvermoë besit, asook die behoefte aan gediversifiseerde bronne vanuit polities stabiele lande. Trump sal nie nee wil sê vir 'n handelsooreenkoms wat hierdie aardmetale na Amerika verskeep nie.

Die moeilike vrae

Om terug te keer na 'n situasie waarin Ramaphosa homself en die ANC moet verduidelik, hier is die scenario. Trump sal waarskynlik ietwat meer versigtig wees om so neerhalend met 'n prominente Afrikaleier te wees as wat hy met Volodymyr Zelensky was. Dog, uit ervaring weet ons waar sy hart van vol is, loop sy mond van oor. Die dae toe 'n besoek aan die Oval Office met dekorum en waardigheid gepaard gegaan het, is verby, solank Trump president is óf sal wees. Die vraag is dus: Watter van sy meningsverskille met Suid-Afrika se Ramaphosa gaan hy uit die heup skiet wanneer die ligte flits en die kameras rol? En gaan JD Vance en Marco Rubio die geleentheid misbruik om hulle politieke hoof ter wille te wees ten koste van 'n ongewapende Afrikaleier?

My verbeeldingsvlug wat betref die waarskynlike gebeure begin hier. Ná 'n minder as hartlike ontvangs by die deur van die Withuis en die aanvanklike gemoedelike small talk, stap hulle na die Oval Office. Ramaphosa wil baie graag begin deur Trump se bewering van 'n volksmoord te ontken. Die narratief van volksmoord, onteiening en geweld op plase is ingeëts in Trump, Vance en Rubio se begrip van Suid-Afrika. Ramaphosa kan dit nie verander nie – hy verteenwoordig die verkeerde regering, die verkeerde politieke party en is waarskynlik ook die verkeerde kleur. Vir die Trump-administrasie is enigiets wat herinner aan hulle eie minderheidsvraagstukke – ras, geslag, gay, trans of intersectionality – 'n vonk in die kruitvat. Dit is nié die geleentheid vir die minister in die presidensie, Khumbudzo Ntshavheni, om haar vriendskap met Chella Man, die dowe, trans, Chinees-Joods-Amerikaanse kunstenaar, model, akteur en LGBTQ+-aktivis, bekend vir sy rol as Jericho in DC Universe se Titans, aan Trump se klok te hang nie.

Ramaphosa sal verkies om die moorde op plase af te maak as deel van Suid-Afrika se misdaadsyfers, want dit raak nie net wit boere nie. Hy sal wil argumenteer dat die Onteieningswet (Wet No. 13 van 2024) nie veel verskil van 'n soortgelyke wet in Amerika nie, en dat geen grond nog ooit arbitrêr onteien is of sal word in Suid-Afrika nie. Die probleem is, iewers op die agtergrond sal jy 'n gemurmureer van 49 lafaards en 'n haan se onophoudelike gekraai hoor. In die verte is daar die dringende geblaf van honde by die hekke van paradise.

Die groep van 49 se vertrek na Amerika is nie net in Suid-Afrika en Amerika omstrede nie, dit is ook 'n aanduiding van Trump se vooroordele jeens die minderhede in sy eie land met wie hy nie 'n demografiese identiteit deel nie. Kom ek stel dit só: As Trump 'n Suid-Afrikaner was, sou hy kortstondig 'n lid van die Vryheidsfront Plus gewees het voordat hy iets verder regs, soos Ernst Roets se Lex Libertas, ondersoek het. In Suid-Afrikaanse terme is Trump 'n konserwatiewe of dalk selfs regse rassis. 

Eierdans met Breitbart en Fox

Soos met die onmoontlike situasie tydens Zelensky se laaste besoek aan die Withuis, sal Ramaphosa manalleen deur sy verslete visiere na Trump en 'n hele paar lede van die "Orange man" se administrasie moet staar. Trump het sedert sy aanstelling moeite gedoen om die media wat volgens die Withuis se perssekretaris, Karoline Leavitt, "bevoorreg genoeg is om in die Oval Office toegelaat te word", te manipuleer. Tydens Zelensky se besoek aan die Withuis is konserwatiewe media doelbewus geplant om vrae te vra wat die waardigheid van die geleentheid selfs verder in die rioolpyp kon aftrek: "Why don't you wear a suit?" Dit gaan nou weer so wees.

Breitbart en Fox News sal beslis gereed wees om polities inkriminerende vrae aan Ramaphosa te stel. Iets soos: "Why have you referred to the Afrikaner refugees of president Trump as cowards?" Of: "In reference to the Trump administration's rejection of South Africa's land expropriation policies, you said South Africa won't be bullied. Why do you suggest president Trump would want to bully you?"

En dan: "Why do you coerce American businesses to comply with racist DEI 
(diversity, equity and inclusion) policies?" Dit gaan omtrent 'n eierdans van Ramaphosa verg om homself te verduidelik. Maar ons weet ook as jy jouself eers moet verduidelik, is jy alreeds op die "agtervoet", des te meer in Trump se teenwoordigheid.

Breitbart News se Joel Pollak het die afgelope week 'n baie prominente artikel geplaas oor Ramaphosa se verwysing na die Afrikanervlugtelinge as lafaards. Ons weet nie of Trump dit gaan ophaal nie, maar hy sal Ramaphosa se verwysing na die karakter van die vlugtelinge baie persoonlik opneem.

Dit is nie onwaarskynlik dat die Suid-Afrikaanse president in die openbaar sal moet terugkrabbel oor sy roekelose opmerking by Nampo Park nie. Om die waarheid te sê, Trump het reeds in 'n indirekte verwysing na Ramaphosa as "shameless" verwys. En die Breitbart-joernalis wat deel is van die Withuis se mediakorps sal nié die geleentheid laat verbygaan om in 'n gloed van selfvoldane nydigheid te vra of Ramaphosa sy verwysing na die vlugtelinge as lafaards handhaaf nie.

Dit gaan byna onmoontlik wees vir Ramaphosa om weer, soos tydens die Bloomberg-onderhoud van 26 September 2018, te sê: "There are no killings of farmers or white farmers in South Africa," veral nié in die Oval Office nie. Vance en Rubio sal vernietigend reageer op dié omstredenheid.

Onthou, dit is die primêre motivering hoekom Amerika 'n vliegtuig na Suid-Afrika gestuur het om die groep van 49 te kom red, en Rubio se adjunk, Christopher
Landau, het Ramaphosa se "lafaards" persoonlik op die Dulles Internasionale Lughawe verwelkom. Sê maar net sorrie!

Daar is geen manier waarop Ramaphosa Suid-Afrika se posisie wat Israel en Palestina betref, kan wysig nie en hopelik doen hy dit nie. Maar dit sal verstommend wees indien Trump nie 'n helse eier daaroor te lê het nie. Dalk moet Ramaphosa maar die ou ANC-mantra afstof vir daai gesprek: "We will abide by the decision of the courts." Ons het reeds gesien die howe is 'n rooi vlag vir Trump en sy administrasie en dié antwoord kan hom dalk nog meer oranje maak as wat hy reeds is. Maar minstens praat die Suid-Afrikaanse president dan vanuit 'n moreel hoë posisie. En Cup Cake moet onthou om in dieselfde asem Hamas te verdoem en te vra dat die gyselaars in Gaza onmiddellik vrygelaat word, soos hy reeds by geleentheid in die verlede gedoen het.

Die spook van Mandela en die skaduwee van Rupert

In sy laaste telefoniese gesprek met Trump het Ramaphosa die naam van Nelson Mandela by herhaling genoem, amper soos 'n soort vredesvlag. Dit is 'n strategie wat sou gewerk het met Bill Clinton en baie gepas sou wees in die aanloop tot 'n beraad met Joe Biden. Selfs George W. Bush sou daarvoor geval het. Maar ek hoop iemand vertel vir Ramaphosa as Mandela die enigste pyl in sy koker is, kan hy 'n warm dag in die kantoor verwag; vir Trump is daar geen verskil tussen Nelson Mandela en Robert Mugabe nie. Trump se voormalige regsverteenwoordiger, Michael Cohen, beweer dat Trump in 'n privaat gesprek sou gesê het: "Mandela fucked the whole country up. Now it's a shithole. Fuck Mandela. He was no leader." 

(Disloyal: A Memoir, 2020). 

Terloops, die laaste telefoongesprek tussen Ramaphosa en Trump op 4 April 2025 het om minstens twee redes sonder voorval verloop. Die eerste is dat daar geen kameras was nie. Soos Bill Maher ná sy besoek aan die Withuis opgemerk het, die teenwoordigheid van die media en lede van sy kabinet maak van Trump 'n ego-gedrewe politieke gedierte. Hy is aansienlik meer bedaard in 'n een-tot-een-gesprek. Die tweede is dat as die bemiddelaar van die gesprek iemand is waarmee Trump kan identifiseer, die waarskynlikheid van 'n nydige ontvangs aansienlik minder sal word. 

Ramaphosa het in Trump se huidige termyn twee keer telefonies met die Amerikaanse president gepraat, beide ná fasilitering deur 'n bemiddelaar. Dit was die geval toe Johann Rupert in November 2024 'n 15 minuut lange gesprek tussen dié twee presidente gereël het, en ook so wat betref die langer oproep in laat April 2025. Die feit dat Trump tydens die laaste gesprek niks gesê het wat Ramaphosa aanstoot gegee het nie, het te doen met Rupert se betrokkenheid. Rupert het Trump mooi gevra om niks te doen om Woensdag se beplande besoek van
Ramaphosa aan die Withuis in die wiele te ry nie. Dit klink onmoontlik, maar Trump luister soms, net soms.

Soos ons Rupert ken, sal hy voorstel dat 'n komitee saamgestel word wat die verhouding tussen Suid-Afrika en Amerika kan bemiddel, wat 'n goeie idee is.

Good luck, comrade

Ramaphosa se waarskynlik stormagtige ontvangs in Amerika het baie te doen met Trump se wanopvattings en oordadige magsbesef, maar die boer van Phala Phala het ook sy eie bed gemaak met sy besluiteloosheid en politieke lafhartigheid. Wat ook al later vandag in die Withuis gebeur, moet nog geïmplementeer word wanneer Ramaphosa weer terug is in Mzansi. Good luck, ou pel, beide die rasrotte en die dinosourusse van die bevrydingstryd wag vir jou. Maar jy het nie meer baie dae om die gemors wat jy en jou party veroorsaak het, op te ruim nie. As jy dit nié doen nie, sit die res van ons met Kallie Kriel en Julius Malema.

Terloops, 'n vlieg teen die muur fluister dat Ramaphosa sy gesprek met Trump onbepaald wou uitstel, maar dat Luthulihuis, by monde van Nomvula Mokonyane, sou gesê het: "South Africa's president must personally go and tell the truth to Donald Trump, we can't wait any longer." Dít terwyl Gwede Mantashe en Paul Mashatile vlugtig oogkontak gemaak en daarna met peinsende smaad na die koffietafel tussen hulle gestaar het. 

Tot volgende week

Piet


Luister

Spirituele bemoediging vir vandag, en môre.


Die Einde. 🇺🇸 🇿🇦


Deel hierdie artikel
Die skakel is gekopieer!

Lid kommentare

Jy mag ook hiervan hou
Lugpos op 'n Saterdag Albertus Van Wyk

Oud word is nie noodwendig oom word nie . . .

ALI VAN WYK sê hy is nou amptelik in die laaste fase van sy middeljare. Dan bepeins hy die Afrikaanse kultuur se ingebore onderdanigheid en deel aanbevelings oor wat om op TV te kyk, asook insigte in die wêreld van die Duitse komponis Felix Mendelssohn.
Lees Meer →
Lugpos op 'n Vrydag Willem Kempen

Verduistering en verheldering + 22 gedeel deur 7

WILLEM KEMPEN wonder oor die stryd tussen woorde en syfers, en of Amerikaanse kinders nog kan spel. Wees ook gewaarsku: Vandag se Dilemma neig na chaos.
Lees Meer →
Lugpos op 'n Sondag. Anneliese Burgess

Boeke, verbeelding, sardyne voor my deur, tee met Tony Leon + 3 wéérmaak-resepte

ANNELIESE BURGESS kyk na die sardynmigrasie in die see voor haar huis, vertel van kinderboeke, verbeelding en hoe Ernest Hemingway haar skryfstyl beïnvloed het. Sy deel ook drie resepte uit haar kombuis wat jy weer en weer kan maak.
Lees Meer →