Goeiemôre
Die winter is met ons. Hier aan die Oos-Kaapse kus beteken dit nooit snerpende koue nie, maar dit ís nou trui-weer. En die nagte is lank. Teen halfses is dit al dik skemer, en soggens vyfuur, as ek opstaan, is dit nog ure lank pikgitdonker. Ek hou van die oorgang tussen seisoene. My tuin staan stil en ek verwelkom altyd die paar maande van sluimer. Oor 'n paar weke sal ek my dahliabolle opgrawe, dan kry alles 'n dik laag kompos en mis van die skaapkraal op die plaas, en dan rus ons en die grond tot die lente.

Die sardyne loop. Van my stoep kyk ek na die wolke voëls en skole dolfyne wat die beweging van honderdmiljoene klein vissies langs die Ooskus volg; en hulle natuurlik dik vreet – ek kry die vissies bietjie jammer. Wat biomassa betref, is die sardynloop vergelykbaar met Oos-Afrika se groot wildebeesmigrasie. My vriendin Sal se strandlodge in Chintsa is vol geboek met mense van oor die wêreld heen wat na hierdie skouspelagtige migrasie kom kyk.
Die Suider-Afrikaanse sardyn Sardinops sagax teel in die koue waters van die Agulhasbank aan en beweeg dan noordwaarts langs die Ooskus van Suid-Afrika. Daar word geglo dat die watertemperatuur tot onder 21°C moet daal voordat die migrasie kan plaasvind. Daar was 'n paar jaar toe die sardyne glad nie geloop het nie, maar vanjaar is hulle aan die beweeg. Die skole kan tot 15 km lank, 3,5 km wyd en 40 m diep wees, maar wetenskaplikes verstaan nog nie heeltemal hoekom dié swak, klein vissies hierdie uiters riskante migrasie onderneem, en waarom net omtrent 10% van Suid-Afrikaanse sardyne dit doen nie. Hier is 'n fassinerende artikel daaroor: 👇

Oor boeke en hoe stories wat ons vertel 'n impak het
My jongste dogter kom hierdie week huis toe vir sewe volle weke van universiteitsvakansie. Ek het baie dinge verkeerd gedoen as ouer, maar een ding reg, en dit is dat ek vir my kind elke aand van haar kleinwees-lewe boekies gelees het, totdat sy self kon, en toe nog gereeld daarna ook. Soms, as ek te moeg was, het ek vir haar 'n vervolgverhaal vertel wat oor jare ontplooi het – 'n storie wat ek met toe oë sou uitdink soos dit in my kop gekom het, geïnspireer deur Beatrix Potter se Mrs. Tittlemouse. Dit het gegaan oor 'n eekhoringfamilie wat in 'n huisie tussen die wortels van 'n eikeboom in 'n groot woud gewoon het. En Ilke herinner my hierdie week daaraan dat die laaste hoofstuk gegaan het oor 'n avontuur wat hulle sou aanpak om Madagaskar te besoek om die groot kremetartbome te gaan sien. Sy is 19 en wil nou weet wat volgende gebeur. 😅

Ek het grootgeword in 'n huis van boeke. En stories. Ek onthou hoe my ma vir ons die hele reeks Little House on the Prairie voorgelees het op 'n stoel in die deur tussen my en my broers se slaapkamers. En hoe my pa voor die vuur in Vergenoeg, ons almal onder dik verekomberse, die classics ingeryg het, of sý classics – John Steinbeck, Jack London, James Percy Fitzpatrick. My pa was 'n obsessiewe leser – ons het gespot dat hy eers die koerant moes lees voordat hy 'n vuur met die papier gemaak het. Daar was boeke oral in die huis, in die badkamers, in die plaasbakkies. Ek het op hoërskool my pa se volledige versameling Somerset Maugham en Ernest Hemingway gelees, en ek kan vandag bespeur hoe sterk spesifiek hierdie twee skrywers my skryfstyl beïnvloed het.
As mens 'n ouer word, veral vir die eerste keer, het jy groot illusies oor hoe 'n perfekte ouer jy gaan wees. En dan besef jy baie vinnig dit bestaan nie. Ek het iewers besluit ek gaan net een ding probeer regkry, en dit is om vir my kind 'n wêreld van verbeelding te skep. En 'n ryk verbeelding groei in die geheime wêreld van boeke en stories. 'n Groot afdeling op my boekrak is kinderboeke – lank voordat ek 'n ma geword het, het ek kinderboeke bymekaargemaak.
'n Paar gunstelinge
Al my Dr. Seuss-boekies is nou Kaap toe na my twee groot dogters vir hulle kleintjies, maar as deel van die strandkaia-regruk moes ons 'n klomp boeke oorpak na 'n splinternuwe rak wat so lank soos my nuwe "biblioteek" is. Ek het 'n paar van my gunstelinge uitgehaal om met jou te deel. As jy klein kinders of kleinkinders het, is hierdie perfekte geskenke – ses boeke wat ek min of meer verbatim ken omdat Ilke so mal daaroor was. Waar ek hulle te koop kon vind, het ek aangedui waar. Terloops, hoekom raak boeke net duurder en duurder?
- Stick Man van Julia Donaldson – R176 by Takealot.
- The Giving Tree van Shel Silverstein – R325 by Takealot (hierdie is moontlik my gunstelingboek van alle tye; ek het dit al so baie as 'n geskenk gegee, vir kinders én grootmense, omdat dit diepsinnig omgaan met die verhouding tussen mense en die natuur).
- The Girl with the Bird's-Nest Hair van Sarah Dyer. Oor 'n dogtertjie wat nie haar hare wil borsel nie en dan kom maak voëls nes op haar kop. 'n Wonderlike, anargistiese verhaal.

- Evil Weasel van Hannah Shaw. Weasel is evil en sy gemene planne en skelm truuks het hom ryker gemaak as wat jy jou kan voorstel. Maar dit het ook sy vriende ontstel. So, wanneer hy 'n groot partytjie gooi om sy wonderlike kasteel, vinnige motor en groot swembad te wys, daag niemand op nie. Weasel is ontsteld, want hy besef hy sal dinge moet regstel as hy vriende wil hê. Lovely!
- The Incredible Book Eating Boy van Oliver Jeffers. R519 by Takealot. Ons het al Jeffers se boeke; ek het sy heel nuutste een vir Ilke op haar laaste verjaardag gegee. Sy illustrasies is ongelooflik.
- Cockatoos van Quentin Blake – "One fine morning ten troublesome cockatoos belonging to Professor Dupont escape and he must set about trying to find them." Absoluut delightful.
En hier's 'n gedig van Raúl Gutierrez wat by dié lieflike wêreld aansluit:
Lies I've told my 3-year-old recently
Trees talk to each other at night.
All fish are named either Lorna or Jack.
Before your eyeballs fall out from watching too much TV,
they get very loose.
Tiny bears live in drain pipes.
If you are very very quiet you can hear the clouds rub against the sky.
The moon and the sun had a fight a long time ago.
Everyone knows at least one secret language.
When nobody is looking, I can fly.
We are all held together by invisible threads.
Books get lonely too.
Sadness can be eaten.
I will always be there.
Tee met Tony
Ek het so 'n paar weke gelede in Kaapstad saam met Tony Leon tee gedrink om oor sy nuwe boek, Being There: Backstories from the Political Front, te gesels. Dit is uitstekend geskryf en sy agter-die-skerms-vertelling van die onderhandelings vir die RNE is veral boeiend. Die mees opspraakwekkende deel van sy vertelling wat al baie aandag in die media gekry het, is sy stelling dat Helen Zille te lank aan die leisels van die DA probeer vashou.
Leon prys Zille as "'n uitstekende leier" wat "absoluut onontbeerlik was om die party te stabiliseer ná die Maimane-debakel". Tog is hy by reguit daaroor dat hy nie dink haar voortgesette prominensie in die partyhiërargie is voordelig vir die party nie.
Hy beskryf Zille as "'n baie groot politieke dier" wat dit moeilik maak vir die huidige leier, John Steenhuisen, om sy leierskapstempel af te druk.
Anyway, wat vir my interessant was in die onderhoud is hoe Afrikaans elke nou en dan by sy antwoorde ingesluip het. Ek het hom daaroor gevra. Hy vertel hy het in 'n baie Engelse huis in die destydse Natal grootgeword en sê Helen Suzman het van die Natalse Engelssprekendes gesê die rede waarom hulle aangehou het om vir die Verenigde Party te stem, was omdat hulle "afkeer van Afrikaners effens meer as hulle vrees vir swart mense was".
Hy sê die Afrikaans wat hy in die skool geleer het, was "teoretiese Afrikaans" en dat selfs sy tyd in die weermag niks gedoen het om sy Afrikaans te verbeter nie. En toe gaan hy parlement toe in 1989.
"Helfte van die debat was in Afrikaans. Miskien eintlik meer 70%, want feitlik elke Nat en KP-lid het Afrikaans gepraat. Die enigstes wat oorgebly het, was die DP wat net ongeveer 20% van die setels gehad het.
"Ek het besef as ek nie Afrikaans leer nie, gaan ek misloop wat in die parlement aangaan," sê hy.
Afrikaans met 'n Sandton-aksent
"Ek het twee dinge gedoen. Ek het elke oggend na die Afrikaanse radio geluister en ek het Die Burger gelees.
"Toe ek leier word en radio-onderhoude in Afrikaans moes doen, het ek vir my 'n klein lys frases gemaak, maar toe ontdek ek die wonderlike woord 'sogenaamde'," lag hy, "en as ek nie die Afrikaanse woord kan onthou nie, gooi ek 'sogenaamde' in en gaan aan in Engels."
Tony se heerlike humorsin het my verbaas. Hy is ou-skool. 'n Ware politikus. Welbelese, ernstig en diep geïnteresseerd in die "craft of politics", maar hy kan ook vir homself lag. Hy vertel 'n staaltjie oor 'n besoek saam met Kraai van Niekerk aan die Noord-Kaap. "As we were flying to Kimberley, he said to me: 'Listen Tony, nobody here speaks English. So, it's Afrikaans, al die pad.'
"So, I soldiered on in my Afrikaans, and later he told me someone had said to him: 'Jou leier praat 'n sjarmante Afrikaans, maar met 'n Sandton-aksent.'" Tony ruk van die lag terwyl hy die storie vertel.
Die betaalmuur
Voordat ek groet: Ons het gister die laaste verstellings aan ons betaalmuur getoets. Maar ons wil dit oor die volgende paar dae wéér toets om seker te maak die ervaring is seepglad. Woensdag, met Piet se brief, sal jy 'n pop-up-kennisgewing kry wat sal vra dat jy ons ondersteun met 'n betaalde subskripsie, of vir eers aanhou gratis lees. Die basiese pakket vir ons bestaande briewe sal R50 beloop (min of meer R2,50 per brief in 'n vierweekmaand). En dan is daar ook 'n ondersteunerspakket vir diegene wat meer kan of wil betaal. Ons hoop 'n beduidende aantal lesers sal kies om ons met 'n betaalde inskrywing te ondersteun, want dit sal dit moontlik maak om hierdie platform, ons liefdesbriewe aan Afrikaans, aan die gang te hou.
Tot volgende Sondag.
Mooi loop
Anneliese
E-pos: hallobinneland@gmail.com
Klik hier vir aanwysings om 'n Binne+Land-web-app op jou foon te skep.
[En, as jy hierdie in jou e-pos lees, en jy wil kommentaar lewer, gaan na heel onderaan hierdie brief en klik op die klein speech bubble wat sê "Comment".]
LOS GOETERS
Kosgoed
Drie wéérmaak-resepte. Van al die resepte waaroor ek nou al geskryf en wat ek aanbeveel het, is daar een waaroor ek weer en weer navrae kry – hierdie kekerertjiebredie wat in 'n slow cooker gemaak word. Ek maak dit minstens een keer per week en het al verskillende droëbone gebruik – Suid-Afrikaanse herebone is veral lekker.
En dan twee ander wat herhaalresepte geword het: 'n eenvoudige een, wortels in 'n sakkie, en hierdie wonderlike resep vir 'n geroosterde blomkoolkop – "Jerk Cauliflower" van die sjef Gregory Gourdet. Dit was een van Bon Appétit se beste restaurantdisse van 2023, en vriende vra al dat ek dit op die spyskaart sit voordat hulle by my kom eet.
Kykgoed
Hierdie vrou op Instagram maak Suid-Afrikaanse spietkops en al hulle bribe-moves na. Sy is skreeusnaaks – humor wat net ons wat hier woon, kan waardeer.
En dan hierdie ongelooflike video oor die wêreld van die mantarog:
Leesgoed
Ek het hierdie week twee geskenkskakels vir jou uit die New York Times (dit behoort jou toe te laat om gratis te lees). Eerstens 'n storie oor Elon Musk waaroor die wêreld behoorlik góns en dan 'n boeiende profiel oor 'n hoogs invloedryke wetenskaplike van wie jy waarskynlik nog nooit gehoor het nie.
Die Einde. 🐟
Lid kommentare