Tee met Imtiaz Sooliman, teerheid + 'n lawwe lysie oor wat mans sexy maak

ANNELIESE BURGESS vertel van 'n gesprek met Imtiaz Sooliman van Gift of the Givers oor geloof en die siel van Suid-Afrika, en deel 'n paar gedagtes oor teerheid, asook 'n lawwe lys wat sy en Laureen Rossouw oor aantreklikhede in mans gemaak het.

Tee met Imtiaz Sooliman, teerheid + 'n lawwe lysie oor wat mans sexy maak


Goeiemôre

In my ander (Engelse) lewe skryf ek profiele vir News24 se Weekender-uitgawe. Dit verskaf my groot plesier. Dit is so 'n voorreg om tyd met soveel uiteenlopende, interessante mense te kan deurbring. En in hulle kop te mag klim.

'n Paar Sondae gelede het ek twee uur lank met Imtiaz Sooliman (met sy vier selfone voor hom uitgepak) by die Mugg & Bean op Kaapstad se lughawe tee gedrink. Ek het al 'n paar keer met hom onderhoude gevoer en ons praat gereeld op WhatsApp, maar hierdie was die eerste keer dat ons mekaar persoonlik ontmoet het. Hy is een van my gunsteling-Suid-Afrikaners. Intens, reguit, konsekwent, nederig en moreel helder. Sy diep gelowigheid is die dryfveer agter Gift of the Givers (GOTG).

"Prayer keeps me grounded. It reminds me that I commit to God to serve people. Prayer helps destroy the ego. It makes sure that you're committed. It means you're a human being. You have faults. You have flaws. Ultimately, spirituality, the essence of religion, is service. If you don't serve people, don't waste your time with prayer."

GOTG se doeltreffendheid spruit deels uit Sooliman se feitlik militêre benadering tot logistiek. Hulle het gesentraliseerde pakhuise landwyd, 'n vloot van 70 voertuie, 114 permanente personeellede in Suid-Afrika en 600 wêreldwyd. Sooliman het 'n organisasie geskep wat blitsvinnig kan mobiliseer, baie vinniger as regeringspanne, wanneer daar 'n ramp is. Hulle beplan vooruit vir rampseisoene, het verhoudings met verskaffers wat goedere vrystel sonder onmiddellike betaling en het altyd sleutelpersoneel aan diens, selfs gedurende vakansies.

Toe storms Mthatha onlangs tref, was sy spanne van Pietermaritzburg, Oos-Londen en Kaapstad op die toneel vóór plaaslike rampbestuurspanne wat net 30 minute weg gestasioneer was.

Die organisasie het gegroei van R1 miljoen se projekte in 1992 tot R600 miljoen vandag, met bedrywighede wat oor verskeie lande strek, insluitend Malawi, Zimbabwe, Somalië, Jemen, Sirië en Gaza.

Oorbrug historiese verdelings

Wat my so interesseer van Sooliman is dat hy ondanks sy diep Moslem-geloof nie kyk na ander se geloof wanneer daar om hulp gevra word nie. "Ons kyk nie na ras nie. Ons kyk nie na godsdiens nie. Ons kyk nie na kleur nie."

GOTG het nou al R400 miljoen bestee aan droogtehulp vir boere in die Noord-Kaap – in hoofsaaklik Afrikaner-boeregemeenskappe.

Die organisasie se werk oorbrug Suid-Afrika se historiese verdelings. Hy sê dit is vir hom altyd opvallend hoe ras- en godsdiensverskille in tye van krisis verdwyn, en hoe 'n gedeelde menslikheid na vore kom.

Alhoewel Sooliman nou met staatsamptenare saamwerk, handhaaf hy 'n kritiese onafhanklikheid. "Hulle sê reguit vir my – jy is brutaal met ons, maar jy praat die waarheid."

Sooliman is pynlik reguit, hy probeer by niemand vlerksleep nie, allermins die regering. "Wanneer mense in die regering sê: 'Jy maak reg wat ons opgemors het,' is my antwoord: 'Hou dan vervlaks op om op te mors.'

"Ek is nie vriende met enigiemand nie. As ek nie van iets hou nie, sal ek vir jou sê, sorry."

In elke gesprek wat ek al met hom gevoer het, val sy optimisme oor die siel van Suid-Afrika my op.

"Die Suid-Afrikaanse manier is nie wraak nie. Ons is mense van geloof. Nelson Mandela het ná 27 jaar sonder wraaksug of wrewel uit die tronk gekom."

En ten spyte van die uitdagings wat Suid-Afrika moet trotseer, verwerp hy praatjies van 'n "mislukte staat". Hy sê ons moet kyk na die vorige krisisse waardeur ons is om ons land se unieke veerkragtigheid te verstaan. Die brandstofrantsoenering in die 1970's, die finansiële krisis van 2008 toe rentekoerse 24% bereik het, Covid-19, wat 100 000 lewens en 2 miljoen werksgeleenthede gekos het – "wat ons sedertdien herwin het."

'n Verborge krisis

Daar is egter 'n onrusbarende nuwe ding wat hy waarneem – Suid-Afrikaners is honger. Hy noem dit 'n "verborge krisis".

"Ons reageer op brande en ander rampe, en waar mense in die verlede pakkette sou vra om te herbou vra hulle nou vir kos." En dit strek verder as "tradisionele armoede".

"Ons het middelklasmense wat honger is. Hulle kan nie hul skuld betaal nie en besnoei op kos."

Terwyl Suid-Afrika die hart van sy werk bly, strek Sooliman en GOTG se rampverligtingswerk wêreldwyd. Sy mees persoonlike missie is Gaza waar hulle al lank 'n kantoor het. "Dit is 'n totale slagting," sê hy. "Binne die eerste 10 dae van Israel se militêre operasie het my personeel in Gaza vir my gesê 'hierdie is 'n volksmoord'. En ek sal nie verskoning vra vir wat ek sien nie, wat my mense sien nie. Ons het al 205 mense verloor wat daar met ons saamgewerk het."

My vriendin Sam, teenoor wie ek baie hartsdinge ontknoop, stuur vir my nou die dag hierdie aanhaling uit W.H. Auden se gedig "September 1, 1939". Dit voel so pertinent, in die konteks van my gesprek met Sooliman:

I and the public know
What all schoolchildren learn,
Those to whom evil is done
Do evil in return.

Jy kan my hele gesprek met hom hier lees (🔒 agter die betaalmuur).


Gedagtes oor teerheid

Tenderness. Teerheid. Twee van die mooiste woorde in albei tale.

Teerheid is sagtheid. Dit is sensitiwiteit in handeling en gevoel. Teerheid is om bedagsaam te wees teenoor 'n ander se broosheid.

In F. Scott Fitzgerald se The Great Gatsby sê een van die karakters: "I wasn't actually in love, but I felt a sort of tender curiosity."

Dit bring my twee gunstelingwoorde bymekaar: teer nuuskierigheid. Hoe mooi is dit nie as 'n konsep nie?

Ek kom onlangs op die biblioteekrakke op die plaas weer af op Erich Fromm se The Art of Loving. Fromm was 'n Duitse sosiale sielkundige, psigoanalis, sosioloog, humanistiese filosoof (en demokratiese sosialis) wat gesê het teerheid is 'n noodsaaklike komponent van volwasse liefde. Hy het teerheid onderskei van sentimentaliteit of besitlikheid – "concerned with the care and preservation of that which is alive." In hierdie werk van 1956, miskien sy mees populêre wat gepubliseer is, sê hy liefde is 'n kuns wat kennis en inspanning vereis, eerder as net dat dit 'n aangename sensasie is.

Maar teerheid is ook 'n manier om met die wêreld se broosheid om te gaan. Ons sal nog baie hieroor praat, maar ek dink die konsep van om met teerheid in die wêreld te staan sluit ook aan by die gesprek oor die verskroeiende konflik in die Midde-Ooste en elders. Ek volstaan met hierdie lieflike meditasie oor teerheid (en ander diep dinge) van John Berger, invloedryke Britse kunskritikus, romanskrywer, skilder en digter.

Ter afsluiting wil ek net vinnig spog. Renée Rossouw, of RR soos ons haar noem, is die ontwerper van al Binne+Land se visuele elemente. Sy is 'n multidissiplinêre kunstenaar, ontwerper en argitek. Haar diverse werk omvat patrone, produkte, muurskilderye en skone kunste. Sy het al uitgestal by die Venesiese Biënnale, Moskou se Ontwerpweek, Madrid Ontwerp en talle solokunsuitstallings hier in Suid-Afrika. Sy werk dikwels saam met produkhuise, insluitend die eerste Afrikaversameling vir Ikea in 2019. Sy is toegewyd aan die Suid-Afrikaanse kreatiewe landskap en toekoms. So reg in ons kraal.

Daarmee groet ek.

Mooi loop

Anneliese


LOS GOETERS

'n Lawwe lysie oor wat mans sexy maak

Ek en Laureen Rossouw is altyd aan die lysies saamstel. Op die oomblik oor onder meer goed wat ons weemoedig maak, mooi natuurbeskrywings, aanhalings en goed waarvoor ons nie meer kans sien nie (ons "over it"-lys). Ons het glad 'n spesiale WhatsApp-groep vir ons lysies en ander Binne+Land-inspirasies.

Hierdie week raak ons sommer laf, en maak 'n lys van wat ons sexy vind in mans:

'n Pap pakkie Gauloises of Lucky Strike in iemand se boonste hemp- of baadjiesak
'n Effense boep
'n Man in 'n polonektrui
Grys slape
'n Man wat in 'n kroeg by 'n tafel sit, alleen
'n Man wat 'n groot trok kan bestuur
'n Toegeknoopte wit hemp
Gestreepte winterpajamas
'n Tortoise shell-bril
'n Mooi pak klere met 'n hemp sonder das en skoene sonder kouse
'n Roomkleurige vissermanskabeltrui
'n Bosbaadjie
Ou, verbleikte jeans (Levi's) wat hy al 20 jaar dra (soos Zorba the Greek)
Op 'n perd
Leerkamaste
'n Man met geen "smaak" nie (nie slegte smaak nie)
Wat nie skrik of gil nie
Wat alleen sport kyk
Wat handig is
Wat weet hoe die rand op die beurs vaar
Met groot hande
Met vuil hande, maar skoon naels
'n Man wat vuur kan maak
Wat 'n boor kan gebruik, en 'n waterpas
Wat vir jou koffie bring in die bed
En 'n kombers oor jou gooi as jy slaap
Wat voëls se name ken
Wat nie bang is vir oud word nie
Wat al gedink het oor die dood
Wat hou van kaal swem
Wat weet hoe om te luister
Wat stilte verstaan
Wat boots dra.

(Ons hou 'n lopende lys; gee joune in die kommentare. Ons wil ook hoor van die mans – oor vroue.)


Leesgoed

Ek deel graag goed wat my aangryp, maar is ook altyd bewus daarvan dat nie almal ingeteken is op die publikasies waarop ek ingeteken is nie – en 'n betaalmuur maak mense soms boos. Ek deel die eerste artikel, uit The New York Times, as 'n "gift link". So, jy behoort dit te kan lees al is jy nie 'n intekenaar nie.

Dit handel oor hoe vinnig KI ontwikkel, en is min of meer een van die mees ontstellende onderhoude wat ek in 'n lang tyd gelees het. Ross Douthat is 'n KI-navorser wat meen teen 2027, wat net om die draai is, kan die een of ander masjiengod dalk by ons wees, wat 'n vreemde, "post-scarcity utopia" sal inlui – of dreig om ons almal dood te maak.

An Interview With the Herald of the Apocalypse


En dan 'n artikel uit The New Yorker, wat ek nie kan gift nie, maar soms kan nie-intekenare 'n paar artikels gratis lees. Dit is baie lank, maar soos alles in TNY, ongelooflik goed geskryf en propvol verrassende insigte.

Daar is 'n paar plekke op aarde waar fertiliteit en geboortesyfers steeds hoog is – Sentraal-Asië en hier by ons, in die lande suid van die Sahara. Maar in groot dele van die wêreld is ontvolking, nie oorbevolking nie, die uitdaging. Ons is by die punt waar sterftes geboortes op die planeet sal oortref, met geen verandering in sig nie.

Albania, El Salvador, and Nepal, none of them affluent, are now below replacement levels. Iran's fertility rate is half of what it was thirty years ago. Headlines about "Europe’s demographic winter" are commonplace. Giorgia Meloni, the Prime Minister of Italy, has said that her country is "destined to disappear". One Japanese economist runs a conceptual clock that counts down to his country's final child: the current readout is January 5, 2720.

The End of Children
Birth rates are crashing around the world. Should we be worried?

Kosgoed

Op my kombuisradar

Op die lys vir 'n bakdag met my dogter – Smitten Kitchen se salted brown butter crispy treats. So 'n treetjie op van die basaarweergawe.

Ottolenghi se Butterbean dip with frizzled onions and preserved lemon (van New York Times Cooking).

My love affair met tofu loop nog sterk. Peanut tofu satay (van @vegscratchkitchen op Instagram).

Crispy tofu noodles van @wwtaste (Woolworths TASTE), ook op Insta.

Salt-and-vinegar chips, ook van Woolworths TASTE.

Something very useful indeed
(the quickest garlic confit imaginable)

Instagoed

Ek is deesdae ongesond obsessed met kookvideo's op Instagram.

39 Instagram Food Accounts You Need To Follow
From Eric Tries It to Carolina Gelen, these are all the tastiest food accounts on Instagram you should be following. Along with us, of course.

Een van my ander gunsteling-Instarekeninge. Feel good vibes x 1 000.

Wild Animals Safari on Instagram: “Kangaroo Fight 🦘 #kangaroo #wildlife #wildanimals #nature #natureisamazing #fyp”
wild_animals__wonders on May 10, 2025: “Kangaroo Fight 🦘 #kangaroo #wildlife #wildanimals #nature #natureisamazing #fyp”.

Luistergoed


Die Einde.💙


Deel hierdie artikel
Die skakel is gekopieer!

Lid kommentare

Jy mag ook hiervan hou
Lugpos op 'n Saterdag Albertus Van Wyk

Oud word is nie noodwendig oom word nie . . .

ALI VAN WYK sê hy is nou amptelik in die laaste fase van sy middeljare. Dan bepeins hy die Afrikaanse kultuur se ingebore onderdanigheid en deel aanbevelings oor wat om op TV te kyk, asook insigte in die wêreld van die Duitse komponis Felix Mendelssohn.
Lees Meer →
Lugpos op 'n Vrydag Willem Kempen

Verduistering en verheldering + 22 gedeel deur 7

WILLEM KEMPEN wonder oor die stryd tussen woorde en syfers, en of Amerikaanse kinders nog kan spel. Wees ook gewaarsku: Vandag se Dilemma neig na chaos.
Lees Meer →
Lugpos op 'n Sondag. Anneliese Burgess

Boeke, verbeelding, sardyne voor my deur, tee met Tony Leon + 3 wéérmaak-resepte

ANNELIESE BURGESS kyk na die sardynmigrasie in die see voor haar huis, vertel van kinderboeke, verbeelding en hoe Ernest Hemingway haar skryfstyl beïnvloed het. Sy deel ook drie resepte uit haar kombuis wat jy weer en weer kan maak.
Lees Meer →