Heita, lekker mense
Die week in 6 berigte
- 'n Skildery, Miss January, van die Suid-Afrikaanse kunstenaar Marlene Dumas het die afgelope Woensdag vir $13,6 miljoen verkoop op 'n veiling van Christie's, 21st Century Art. CNN berig dit is 'n rekord vir 'n werk deur 'n lewende vrouekunstenaar. Hoewel dit indrukwekkend is, verkoop werke deur vrouekunstenaars steeds teen veel laer pryse as mans. Dumas het die skildery in 1997 geskep. Christie's sê in 'n verklaring dat Dumas "bekend is vir haar emosioneel gelaaide, sielkundig komplekse portrette – gereeld gebaseer op foto's wat gevind is – en dit ondersoek temas van seksualiteit, ras, leed, moederskap en die liggaam".
- Die eerste 49 Suid-Afrikaners wat vlugtelingstatus verkry het onder die Amerikaanse president, Donald Trump, se vlugtelingprogram-aanbod, het die land verlaat op 'n huurvlug wat deur die Amerikaanse regering gestuur is. News24 berig dat die Trump-administrasie voorkeur gee aan "Afrikaanse boere" se aansoeke, aangesien die Amerikaanse president glo dat wit boere in Suid-Afrika uitgemoor word as deel van 'n volksmoord. Dit is nie duidelik hoeveel van die 49 Suid-Afrikaners landbouers of eerstetaal-Afrikaanssprekend is nie. Verskeie van die landverlaters het te kenne gegee dat misdaad hulle grootste rede is hoekom hulle aansoek gedoen het om vlugtelingstatus.
- Renaldo Gouws, voormalige DA-raadslid van Gqeberha en voormalige DA-parlementslid, het 'n ooreenkoms met die Menseregtekommissie bereik oor die saak teen hom weens 'n video wat in 2010 gemaak is. Ingevolge die ooreenkoms word die saak teruggetrek, in ruil daarvoor dat hy swart mense behoorlik en onvoorwaardelik om verskoning vra. Hy moes ook erken dat 'n vorige verskoning te kort geskiet het. Gouws het die nuwe verskoning op sy YouTube-kanaal voorgelees en daarop klem gelê dat hy opreg en eerlik is oor sy berou oor die voorval. Hy sê hy het in die laaste tyd tot beter insigte gekom het oor waarom sekere woorde en uitdrukkings beledigend is vir swart Suid-Afrikaners, selfs al word dit nie só bedoel nie. In 'n verrassende wending het Gouws ook opreg en eerlik voorgekom.
- Cornal Hendricks, 'n hoogs talentvolle en veelsydige Springbok-agterspeler, is Woensdagaand skielik in sy huis in die Paarl oorlede, vermoedelik weens 'n hartaanval. 'n Hartspesialis het in 2015 'n skaars harttoestand by Hendricks gediagnoseer en aanbeveel dat hy nie weer rugby speel nie. Ná verskeie ander mediese opinies en 'n vier jaar lange stryd om 'n span te ry wat hom sou aanvaar om weer professionele rugby te speel, het Jake White, die Bulls-afrigter, hom weer 'n kans gegee, en verras deur hom op binnesenter te gebruik. Hy het hierna meer as 100 wedstryde vir die Bulls gespeel voordat hy verlede jaar in September teruggekeer het Boland toe om die span te help om vir die Curriebeker te kwalifiseer – wat toe wel verlede week gebeur het. In die doodsberig op News24 skryf Simnikiwe Xabanisa dat Hendricks bekend was as 'n platjie en 'n goeie spanman, en dat hy 12 keer vir die Springbokke uitgedraf en vyf drieë gedruk het.
- Die drama rondom die Langeberg & Ashton Foods-fabriek is uiteindelik ná vyf jaar verby nadat 'n konsortium die fabriek vir R1 by Tiger Foods gekoop het. Dit beëindig hopelik die onsekerheid oor die toekoms van die fabriek vir die 3 000 werknemers en ook vir die dorp Ashton, waarvan die ekonomie grootliks van die fabriek afgehang het. Netwerk24 berig die nuwe konsortium bestaan uit die Ashton Vrugteproduserende Koöperasie en 'n oorsese instelling vir ontwikkelingsfinansiering. Die koöperasie het boerelede van die Robertson-, Ceres-, Breërivier- en Klein-Karoogebied.
- Die wêreld se grootste knaagdiere, kapibaras, wat min of meer so groot soos 'n gemiddelde hond word, het 'n posh buurt naby Buenos Aires, Nordelta, met sowat 45 000 inwoners onder beleg. The New York Times berig die kapibarabevolking wat in die gemeenskap se parke en tuine leef, het tot sowat duisend diere aangegroei en is so 'n probleem dat lede van die gemeenskap dit nie meer buite hulle huise wil waag nie. Die inwoners beweer die kapibaras veroorsaak motorongelukke, val hulle troetelhonde aan en vreet hulle tuinplante op. 'n Program om die kapibaras met blaaspype te verdoof en dan te steriliseer, het nog nie die gewenste uitwerking nie. Die groot probleem waarmee die mense van Nordelta te doen het, is dat die kapibara 'n liefling van sosiale media geword het en oral oor die wêreld heen gesien word as buitengewoon oulik.
Moenie die landbouers skeef kyk nie
Ek sou enige mens, of hulle nou 'n sterk belangstelling in die landbou het of nie, aanmoedig om moeite te doen om een jaar 'n draai te maak by die Nampo-Oesdag (vanjaar s'n is so pas verby), deur die hele uitstalling te stap, met mense te gesels en dalk na 'n debat of twee te gaan luister.
Die vlak van tegnologie en vindingrykheid wat by Nampo ten toon gestel word, behoort enige mens van gedagte te laat verander wat dalk nog 'n negatiewe stereotipering oor boere koester. Hulle is vindingryke, geharde entrepreneurs met hulle wortels diep hier in die aarde. Nampo is 'n getuigskrif van 'n gesofistikeerde en progressiewe bedryf, en iewers agter die kakie is die meeste suksesvolle boere ook anders as die prentjies wat van hulle geskets word: slimmer, vaardiger, lekkerder mense.

Ek moes onlangs vier puik boere uitsoek en oor hulle skryf vir 'n boek oor uitsonderlike en vindingryke Afrikaanse Suid-Afrikaners. Soos altyd wanneer ek met suksesvolle boere te doen kry, was dit 'n openbaring; die gehalte van die mense en hoe vernuftig, aanpasbaar en gehard hulle is.
Aan die ander kant hoor ek nou die dag weer op die radio 'n prominente kommentator iets herhaal wat ek al baie gehoor het: "Suid-Afrika het die beste boere in die wêreld." Omdat ek so 'n kritiese ou pruim is, selfs sinies, wonder ek dadelik hoe die ou dit kan sê. Wat is jou kriteria? Hoe kan jy boere op verskillende vastelande akkuraat teen mekaar opweeg? Daar is net te veel veranderlikes.
Ek weet egter waar dié soort denke vandaan kom. Die sentiment is nie sonder meriete nie, want landbou is inderdaad een van die min konsekwente ligpunte in die stotterende Suid-Afrikaanse ekonomie sedert 1994.
Ná deregulasie van die meeste van die grootste landboubedrywe in Suid-Afrika in 1996 – wat beteken het dat die regering opgehou het om boere met subsidies te beskerm of om hulle produkte teen vasgestelde pryse te koop – het die meeste vrot (en selfs 'n beduidende klomp gemiddelde) boere uit die stelsel geval.
Ek grinnik altyd so 'n bietjie as ek dink op hoeveel vlakke PW Botha, John Vorster en Hendrik Verwoerd se regerings meer sosialisties was as die ANC-regering. Ek wonder wat sou Steve Hofmeyr se dissipels daarvan dink as hulle snap hoe "kommie" ons eens was in oranje-blanje-blou. Dis net iets anders genoem.
Sonder beskerming en sanksies, boonop vanaf 'n plek in die wêreld wat ver van al die groot markte is, is ons landbou konsekwent 'n staatmaker in die ekonomie.
Die landbou-ekonoom Wandile Sihlobo sê die Suid-Afrikaanse landbou het sedert 1994 in waarde én volume verdubbel. Party bedrywe het geskitter.
In 1994 is amper 68 000 ton soja geproduseer, en in 2025 lyk dit of ons 2,4 miljoen ton gaan produseer. Die sagtevrugte- en sitrusbedrywe het uit hulle nate gebars – van 200 000 ha onder vrugtebome in 1994 tot 385 000 ha. Ons sitrusbedryf voer die naasmeeste sitrus ter wêreld uit naas Spanje, en baie daarvan tot in die Spanjaarde se agterplaas, al sit ons halfpad rondom die wêreld weg van hulle.
Makadamianeute het gehelp dat die gebied wat met neutbome beplant is van sowat 10 000 ha gegroei het tot 'n ongelooflike 104 000 ha. Ons wynuitvoer het van minder as 50 miljoen liter in 1994 gestyg tot 306 miljoen liter in 2023.
Die slim boere wat skielik ná 1994 aan die onstuimige internasionale ekonomie en wisselkoerse en honderde ander bedreigings blootgestel was, het onmiddellik hulle oeste deur termynmarkte begin beskerm en tegnologie op alle vlakke omhels – van die saad wat hulle plant tot grondontleding en bemesting en die rekenaars en masjiene van presisieboerdery.
Ek het nie noodwendig die land se topboere uitgesoek vir die boek waarvoor ek moes skryf nie, maar merkwaardige mense, met karakter, soos Charlene Klinkert, wat op 42 'n hoenderboerdery saam met haar man, Sam, op 'n kleinhoewe by Tarlton aan die Wes-Rand begin het. Aanvanklik het hulle nie elektrisiteit gehad nie en dus ook nie verkoeling nie. Hulle het die hoenders geslag en dit in ’n boom se koelte gestoor onder 'n seil wat heeldag natgespuit is. Sy moes al die hoenders wat op die dag geslag is, voor die einde van die dag aflewer.

Sam is ongelukkig in 1997 in 'n aanval op die plaas doodgeskiet. Charlene was die volgende oggend op haar pos, want so 'n boerdery kan nie stilstaan nie. Deesdae is Sterkfontein Boerdery 23 plase sterk, met 17 deel van die braaikuikenbedryf waar hulle meer as 'n miljoen hoenders per maand slag. Charlene is intussen twee keer weer gewelddadig aangeval en het dorp toe getrek, maar saam met haar drie seuns boer sy volstoom voort.
Buite Prince Alfred Hamlet boer Raymond en Mary Koopstad, 'n bruin paartjie, met hoofsaaklik so 38 ha se nektarienbome. Hulle voer die vrugte uit na Amerika, die Verenigde Koninkryk en Europa. In 2003 was hulle nog al twee onderwysers, net met 'n droom. In dieselfde jaar het hulle die plaas gekry, saam met 28 familielede, onder die regering se grondherverdelingsprogram. Hulle het geelperskes geplant, maar die boerdery het swaar gekry, want daar was te veel opinies en idees, beperkte waterbronne en te min tegniese kennis.
In 2015 kry Raymond dit toe reg om die res van die aandeelhouers uit te koop en sy paaie kruis met mense van Partners in Agri Solutions (Pals). Pals is 'n groep kommersiële boere van Ceres wat besef het as die regering se grondhervormingsprosesse nie werk nie, sal die burgery dit maar self moet doen. Hulle glo nuwe swart boere moet in ware vennootskap met 'n gevestigde produsent, 'n mentor, boer en dat hulle met behoorlike finansiering, en tegniese en administratiewe kennis ondersteun moet word, en dat daar 'n verhouding van wedersydse vertroue moet wees.

Raymond het so 'n verhouding aangeknoop met Peter Wolfaardt van Verdun Estates. Hulle het dadelik die regte kultivars vir die grondsoort geplant en van daar af het La Vouere Stonefruit van krag tot krag gegroei.
Laat ek u, liewe leser, 'n ope geheim vertel. Daar is meer suksesvolle grondhervorming in Suid-Afrika aan die gang met burgerlike organisasies soortgelyk aan Pals en individuele boere as wat deur die staat gedryf word.
Waar's jou kakie?
Op 'n humoristiese noot. Ek dink ek vind die meeste boere meer verteerbaar as wat hulle my vind. Eens in die verre verlede is ek as Landbouweekblad se besturende redakteur aangestel – nie omdat ek so baie van landbou geweet het nie, maar omdat ek tydskrifte goed geken het en die tydskrif-aspekte het 'n bietjie aandag nodig gehad. Vir die landbou-inhoud was die gewone redakteur daar.
Toe ek die eerste jaar op Nampo kom, het ek verwag ek sal anoniem daar ronddryf en 'n vetkoek eet. Ek het 'n lekker vrolike geblomde hemp aangetrek en my oorbel ingelos. Op die feesterrein is ek egter spoedig genooi na die inner sanctum van die mieliewêreld, die VIP-kroeg van Nampo waar net megaboere en 'n los joernalis of twee rondhang.
In die kroeg stel Johan Norval, ons Bloemfonteinse verslaggewer, my aan die een ná die ander boer voor as sy nuwe baas. Johan is 'n waardige man met 'n dekades lange verhouding met die groot boere. By BP Greyling gekom, 'n lang, imposante man, voormalige recce en diverse megaboer van Wakkerstroom wat niks lus lyk vir nonsies nie, breek hy omtrent my hand met die groetslag en kyk my op en af met 'n blik wat sê: Hoe de donner het hierdie paradysvoël deur die hekke gekom?
Watse nonsies gaan hier aan?
Ek moet sê dat ek meer welkom gevoel het in die oop, robuuste biertuin, waar die algemene botterbulle gedrink het. Net hier langs my het 'n klompie manstudente van die Glen Landboukollege gesit met hulle two-tone hempies en kakiebroeke wat om die bobene span.
En net oorkant die oop deel in die middel het 'n soortgelyke groep kêrels van Pampoenboere (Potchefstroom Landboukollege) gesit. Bloot die teenwoordigheid van die ander groep het by elke bende spanning geskep. Soos die biere geknak het, het al hoe meer venynige pittighede na weerskante oor die oopte gevlieg. Dit was baie duidelik waarheen hierdie partytjie op pad was.
Dit was ook toe nie lank nie of een van Pampoenboere se frisste bulletjies het soos Goliat tot in die oopte gestap en gesê: "Ja, kom, laat ons sien, wie se bek kan ek toeklap?" Soos blits was daar 'n ewe fris perd in 'n two-tone hemp van Glen se kant af voor hom en al twee groepe het 'n kringetjie gevorm.
Die gebruiklike "jy ken my nie"-gestampery het vir 'n rukkie aangehou en toenemend gewelddadiger geword. Die volgende oomblik, totaal onverwags, kom daar 'n ou, grys boer van die kant af aangestoom. Dis 'n groot oom, 'n kop langer as almal, seker al hier by die 70. Hy stap sommer so 'n pad oop deur die klein skare. Toe hy in die middel kom, backhand hy die een kapokhaan dat hy amper op sy agterent gaan sit en klap die ander een met die oop hand met dieselfde effek en bulder: "Watse kak gaan hier aan? Skei uit! Wat sal julle ouers van julle dink? Sies!"
Die twee vegtertjies het kop-onderstebo voor hom gestaan en "ja, oom, jammer oom" terwyl die res soos 'n spul hase verkas het.
Ja wat, dis waar die kinders nog luister as jy hulle hard genoeg klap.
Lekker naweek!
Ali
E-pos: hallobinneland@gmail.com
Klik hier vir aanwysings om 'n Binne+Land-web-app op jou foon te skep.
[En, as jy hierdie in jou e-pos lees, en jy wil kommentaar lewer, gaan na heel onderaan hierdie brief en klik op die klein speech bubble wat sê "Comment".]
Warboel Skunnige Skakels
'n Antieke speletjie. Dis fassinerend hoe argeoloë en geskiedkundiges soms 'n nuwe tipe skrif, 'n speletjie of musieknotasie oor jare kan uitpluis en soort van agteruit kan herskep. Hier is Amy Briggs byvoorbeeld met die wêreld se oudste bordspeletjie.
Hoe die ou Grieke se musiek geklink het. Dalk. Nog moeiliker om uit te pluis, is hoe Griekse musiek in die ou, klassieke Griekse beskawing geklink het, want hulle het wragtig 'n soort notasie gehad. 'n Span slim mense by Oxford het dit uit die dode opgewek. Lees gerus ook hierdie artikel in The Conversation.
Hokvegter Dricus praat. Van die verhewe tot die diepste vulgêre sloot: hokgevegte, oftewel gemengde Oosterse gevegskuns. Hier is 'n lang onderhoud van Sias du Plessis met Dricus du Plessis, ons eie UFC-middelgewigwêreldkampioen. Du Plessis se slim strategieë en selfvertroue het my al telkens verbaas.
Warboel Wysies
Hoe knorrige Ludwig die musiek se rigting geswaai het
Dis eintlik so 'n simpel speletjie om te probeer besluit wie die grootste komponiste van kunsmusiek in die geskiedenis was, want tydperke, verskillende style en kontekste het oor die eeue so verskil dat dit nie sin maak nie.
Maar as jy die Barok-, Klassieke en Romantiese periodes (tussen 1600 en 1910) sien as die goue eeue van tonale musiek – dit is musiek wat die majeur- en mineurtoonaarde gebruik en maklik luisterbaar en verteerbaar is vir gewone mense – dan staan Johann Sebastian Bach, Wolfgang Amadeus Mozart en Ludwig von Beethoven duidelik bo die res uit.
Beethoven het uiteindelik sowat 700 werke in sy leeftyd gekomponeer teenoor Mozart se 600, maar Beethoven het 20 jaar langer as Mozart geleef, tot op 59. Mozart het byvoorbeeld 41 simonieë geskryf, waarvan omtrent ses of sewe gereeld uitgevoer word, terwyl Beethoven slegs nege simfonieë geskryf het, waarvan al nege gereeld uitgevoer word, en waarvan honderde opnames van die volle siklus bestaan. Beethoven was eindeloos perfeksionisties en selfkrities en het slegs 'n komposisie gepubliseer wanneer hy uiteindelik volledig tevrede daarmee was.
As tiener het ek 'n stel kassette van al die simfonieë gehad, en ek het 'n speletjie gespeel wanneer ek dit luister. Elke keer as 'n nuwe beweging begin, het ek Beethoven in my kop uitgedaag om dieselfde emosionele en meesleurende hoogte daarmee te bereik as die vorige beweging, en hy het dit elke liewe keer reggekry. Ses stroop vir Lud.
Dis moeilik om nie aan te hou en aan te hou skryf oor die kompleksiteit van Beethoven se persoonlikheid en hoe dit in sy musiek manifesteer nie, maar daar is talle biografieë wat jy kan lees (sien onderaan die essay). 'n Mens kan maar daarmee volstaan om te sê hy was nie 'n maklike mens nie. Hy's gereeld gesien as ongeskik, onversorg, onaantreklik, lomp, humeurig, en só hou dit aan.
Sowel die ouer Mozart as Beethoven was in opstand teen die heersende adellike politieke bestel. Hulle het al twee daarna gestreef om vryskutmusikante te wees sodat hulle hul eie emosie en individualisme kon uitdruk, sonder die neerbuigende houding van prinse. Maar waar Mozart die Vrymesselaar se meer subtiele ideale in die Verligting gelê het, was Beethoven 'n aanhanger van die Franse Revolusie, Napoleon, en vryheid, gelykheid en broederskap.
Ludwig het nogal juis die simfonie waarna ons kyk, die "Eroica", die Derde Simfonie in E-mol-majeur (Op. 55), aan Napoleon opgedra. Maar toe Napoleon homself in 1804 as keiser verklaar, het 'n woedende Beethoven Napoleon se naam met soveel geweld van die voorblad van die manuskrip uitgevee dat die papier geskeur het. En toe vervang hy dit met "Sinfonia Eroica".

Die oorgang van een tydperk na 'n ander, soos van die Klassieke na die Romantiese, gebeur gewoonlik oor dekades, en geleidelik, maar min musikoloë sal ontken dat Beethoven se Derde Simfonie die eerste groot Romantiese werk in die geskiedenis is. Sy Tweede Simfonie in D majeur (Op. 36), 'n wonderlike werk, is nog 'n tipiese klassieke werk – gebalanseerd, galant, ewewigtig, vrolik; amper soos 'n laat Mozart-simfonie.
Die sprong na die Derde Simfonie is amper soos 'n kind wat adolessensie mis en reguit na volwassenheid skiet. Die werk is langer, dis veel komplekser, die temas van heroïsme, stryd en triomf is veel meer volwasse, en die emosionele ontwikkeling is net skielik op 'n ander vlak. Dis soos die meeste van Beethoven se grootste werke 'n ode aan die mens en sy glorie, dalk vroeë glimpse van Nietzsche se Übermensch.
Dit is nie net gesien as die eerste groot romantiese werk nie. Hierdie simfonie en die werk wat daarop volg, het 'n geweldige uitwerking gehad op die rigting waarin musiek daarna geswaai het – dalk meer dawerend as op enige ander oomblik in die musiekgeskiedenis.
Sommige musiekghoeroes sê Beethoven se simfonieë het 'n skadu oor die volgende 80 jaar gegooi waaraan komponiste moeilik kon ontsnap. Jy kan sy invloed hoor in Brahms, in Tsjaikofski, in Schubert en Schumann, en só gaan dit aan. Party mense noem selfs Brahms se Eerste Simfonie Beethoven se 10de.
Die Tonhalle-orkes van Zürich en die Amerikaanse dirigent David Zinman word nie gesien as die topdirigent en -orkes van ons tyd nie, maar hulle het die musiekwêreld laat regop sit met hulle verrassende opname van al nege simfonieë (2018). Zinman het baie moeite gedoen om Beethoven se oorspronklike metronoom-tempo-aanduidings te volg en ook navorsing gedoen oor die tempo's wat Beethoven in sy tyd sou gebruik het, wat beteken dat die simfonieë byna almal vinniger en ligter uitgevoer is as die heroïese aard wat Beethoven oor die algemeen aangeneem het. Die tydskrif Gramophone noem dit "swift, lean, exhilarating and transparant".
Ek kon op YouTube slegs 'n regstreekse opname met die Finse Radio-orkes kry, wat ook wonderlik is, maar soek gerus die Tonhalle-orkes op jou stroomdiens.
Maestro David Zinman en die Finse Radio-orkes met die Eroica-simfonie.
Beethoven Biografieë
Beethoven, Impressions by his Contemporaries met Oscar Sonneck (editor)
Beethoven Variations: Poems on a Life deur Ruth Padel
Beethoven for a Later Age: The Journey of a String Quartet deur Edward Dusinberre
Beethoven: The Man Revealed deur John Suchet
Beethoven: Anguish and Triumph deur Jan Swafford
Gary Herselman – 10 Oktober 1957 tot 10 Mei 2025 (67)
As alternatiewe Suid-Afrikaanse rock (Afrikaans en Engels) 'n masjien was, was die kitaar-en-baskitaarspeler en sanger Gary Herselman 'n vonkprop – 'n onontbeerlike onderdeel waarsonder die masjien aansienlik meer rukkerig sou loop. Hy was ook heel gereeld die siel van die partytjie en nie sonder rede bekend as die Keith Richards van Suid-Afrika nie.

Hy is in Polokwane gebore, maar het in Johannesburg grootgeword saam met die weeskinders in die weeshuis wat sy pa en ma bedryf het – Epworth Children's Home in Germiston.
Die band waarin hy die meeste van sy werk gedoen het was The Kêrels, veral in die Jameson's Bar in Johannesburg, maar hy was ook deel van Johannes Kerkorrel se Gereformeerde Blues Band, as Piet Pers, die baskitaarspeler op die Voëlvry-toer en die Eet Kreef-album, hy't op Koos Kombuis se ikoniese Niemandsland-album gespeel, en ook op die Radio Rats se Big Beat-album.
In die 1990's het hy sy eie platemaatskappy, Tic Tic Bang, op die been gebring en in 2012 het hy Rigtingbefok, 'n album van sy beste liedjies, uitgereik in samewerking met 'n hele reeks bekende kunstenaars onder die naam Die Lemme.
Die bekende baskitaarspeler Schalk Joubert sê 'n TV-joernalis het eenkeer vir Gary gevra hoekom The Kêrels net een album uitgereik het. Gary se antwoord was: "Ten years, one album. What do you want? Blood?"
Koos Kombuis het glo ook gesê: "No matter how wasted Gary could get, he would always still be the sharpest mind in the room."
In onlangse jare het Gary toenemend finansieel en fisiek swaargekry, soseer dat die platemaatskappy Shify Records 'n geldinsamelingsveldtog vir hom begin het. Hy het in sy later jare in Suurbraak in die Wes-Kaap gebly en die laaste vyf jaar in Hoekville by Wildernis, in 'n groot mate afgesny van die wyer wêreld. Volgens Shifty se Lloyd Ross is hy verlede Saterdagaand in sy slaap oorlede. Hy laat 'n suster en 'n broer agter.


Die Einde. 🐕
Lid kommentare