8 random vrae oor die lewe, 'n sitrusboord, dumplings + 'n Laureen-lysie oor clichés

ANNELIESE BURGESS wonder waar liefde heen gaan as ʼn hart leegloop, luister na die verhale wat inkopiemandjies vertel en vra hoe survive mens met niks? Sy begin ook ʼn sitrusboord, maak dumplings en vertel van die beste kombers vir die winter.

8 random vrae oor die lewe, 'n sitrusboord, dumplings + 'n Laureen-lysie oor clichés

Goeiemôre

Die storms van alle storms tref ons hierdie week. Die grysheid prut al heeldag, maar die swaar weer steek op terwyl ek in my stoepbad lê. Dit reën skielik en hard, ʼn verborge hand wat êrens ʼn aanskakelknop gedruk het. Die bome langs die huis raak mal van opwinding – buig en vee en swiep, soepel in die verwoedheid. Vlae reën kom deur en oor die ruig gemmerbos wat my gewoonlik beskut. Ek tap nog warm water en sak af totdat net my kop uitsteek. Ek voel nog altyd aangetrokke tot storms. Dit doen iets aan my hart om so in die natuur se drif en drang te wees, maar ek moet uiteindelik bes gee.

Ek slaap deur die grootste drama. In die oggend is daar twee boodskappe op my foon. My buurman wat wil weet of ek oukei is – ʼn boom tusssen ons erwe het ons heining platgeval. En my vriendin Emma het in die vroeë oggendure laat weet sy kan nie slaap nie, sy’s bang haar dak gaan afwaai ... My lieflike groen pot, wat my ma vir my gemaak het, lê aan skerwe op die stoep langs die euforbia wat daarin gegroei het. Die grasperk is besaai met verflenterde piesangblare.

Die son skyn asof gisteraand nooit gebeur het nie. Ek gaan stap. Die klippe by Klasiesbaai is toe onder die sand en banke seewier. Ek vind drie cowries. En sewe pampoentjies. En tel oranje seeboompies op. By die huis druk ek hulle tussen die plante op my pienk stoep.

My pienk stoep.


Random antwoorde op random vrae

#1 Waar gaan liefde heen as jy jou hart leeggeloop het vir iemand?

Liefde word mis. En dan ʼn wolk – wat wegdryf met die oostewind en terug met die weste, omvorm, deur tyd.

#2 Hoekom is die gróót goed soms die moeilikste om te sê?

In sy novella The Body skryf Stephen King: “The most important things are the hardest things to say. They are things you get ashamed of because words make them smaller. When they were in your head they were limitless; but when they come out they seem to be no bigger than normal things.”

#3 Die verhale in ʼn inkopiemandjie

Tien wit brode. Drie groot Cokes. Twee bokse visvingers.

Een blikkie sardiens. ʼn (Klein) pakkie Teaspoon Tips en ʼn (klein) pakkie suiker.

Twee stokkielekkers. ʼn Pak babadoeke. Koekie Dettol-seep. Bottel maas. Mieliemeel (White Star is op special).

ʼn Witbrood. Klein stapeltjie gesnyde polonie toegedraai in plastiek. ʼn Liter Stoney.

Twee Russians en slaptjips in ʼn uitgeholde witbrood (R19,99).

Twee (groot) pakke braaihoender. Twee pakke wors. Vier steak-espetadas. Pak tamaties. Kropslaai. Feta-kaas. Ses bottels kombucha (R35 elk). Twee pakke nachos. Blits.

Halwe koolkop (R13). Een ui. Drie aartappels. Rol hoenderpolonie.

#4 Hoe survive mense met niks?

Die man grou deur die rommelblik by die ingang na die Spar. Hy haal drie blikkies uit, sit dit eers teen sy lippe om te kyk of daar miskien nog ʼn paar druppels in is, en trap dan elkeen plat. Daar is sere om sy mond. Sy hare is gemat. Hy dra ʼn flenterbroek en ʼn vuil t-hemp. Hy is kaalvoet.

Dis ʼn Sondag – ongewoon dat mense by die ingang na ons dorpie wag vir lifts. Ek tel die ouerige vrou op. Hulle het gesê sy moet kom help vandag, maar toe sy daar kom toe sê die vrou dit reën vandag, sy moet maar huis toe gaan. “Ek het vanoggend R30 geleen vir die taxi van Duckets,” vertel sy my. “Hoe gaan ek betaal om nou by die huis te kom? En my man het nie werk nie. En ek kyk na vier kleintjies. Daar is nie kos nie.” Ek gee vir haar die R150 wat ek getrek het vir die slaggat-regmaak-kollekteboksie by die slaghuis.

Die seuntjie sê hy is 13. Hy vra kos. Hy sê sy “mammie” is dood. Hy moet nou kyk na sy boetie en sussie. Hulle is sewe en nege jaar oud.

#5 Wat maak ʼn huis ʼn húís?

Sagte lig. En prente teen die muur. Foto's op die yskas. ʼn Bank, ʼn vuurherd en boeke. ʼn Koskas. Of ʼn spens – ek sien blikkies bone en bottels perskes, ek sien rys en kekerertjies. Ek sien ʼn gebakte iets onder ʼn doek.

Mooi goed en ou goed en erfgoed en hougoed – Ouma se pienk fluweelgordyne voor my slaapkamervensters, die eetkamerstoele van Helmond, die wit gehekelde deken van my ma oor my bed, my rakkie teekoppies. Olyfolie in die bruin aptekersbottel van die markie in Bologna. Panne wat bo die stoof hang.

#6 Waar kom die woorde bête noire vandaan?

In Frans is die letterlike betekenis “swart dier”. Met verloop van tyd het die term ontwikkel om te dui op iets waarin ʼn persoon ʼn besondere afkeer het, vrees, of lastig vind. Drie van my grootste bête noires is lang rye, spitsverkeer en blits (en veral die daaropvolgende donder).

#7 Hoekom is ons so behep met ‘happiness’?

“Ek wil net gelukkig wees.”
“Al wat ek vir my kinders wil hê, is dat hulle gelukkig sal wees.”
“Jy verdien om gelukkig te wees.”

Hoeveel keer het jy nie al hierdie gemeenplasigheid uit iemand se mond gehoor nie? Ek wonder al lank oor hierdie oppervlakkige kulturele obsessie met “happiness” as die lewe se primêre doel – ʼn kommoditeit eerder as die byproduk van ʼn betekenisvolle lewe. Wat is “happiness” in elk geval presies as van ons mees betekenisvolle ervarings uit uitdagings, hartseer en verlies spruit?

Ons het onsself op een of ander manier oortuig dat ʼn goeie lewe beteken dat ons die heeltyd moet goed voel. Ek dink aan die oomblikke wat ons werklik vorm – om verwerp te word deur iemand vir wie jy lief is, om iemand aan die dood af te staan, om met iets te faal, om iemand by te staan wat sukkel. Ek is nou nie presies ʼn dissipel vir die virtues van swaarkry nie, maar hierdie ervarings kraak ons menswees oop op ʼn manier wat plesier nooit kan doen nie. Dit druk ons om te groei, om empatie te ontwikkel, om duidelikheid te soek. En tóg behandel ons hierdie ervarings as onderbrekings van die “regte” lewe eerder as die essensie van ons menswees.

Miskien is die hele geluksprojek ʼn luuksheid van mense wat genoeg sekuriteit het om behep te wees met goed voel, in plaas van betekenis (en vir baie, blote oorlewing).

#8 Wat is woede?

Woede is soms vrees. En soms selfrespek.


Lemmetjies en suurlemoene

Kaia-restourasienuus: Ek het hierdie week begin om vir my ʼn sitrusboord aan te lê. Oukei, miskien is “boord” bietjie van ʼn majestueuse woord vir my 10 bome, maar ek is só in my noppies. Die koejawel- en vyeboom word deur die apies gestroop, maar hulle is nie so lus vir suurlemoene en lemmetjies nie – en ek is mal oor suur sitrus. Ek soek al baie jare ander variëteite as die eureka (omtrent 80% van Suid-Afrika se suurlemoene) en die Persiese lemmetjie (ook bekend as die saadlose, Bearss- of Tahiti-lemmetjie) wat ek in my tuin het. Daar is nou ewe skielik opwindende opsies beskikbaar – selfs hier by my plaaslike kwekery in Slummies. Ek het hierdie week ʼn pienk eureka, ʼn Kaapse growweskil, ʼn saadlose variant en ʼn Meyer-suurlemoen (ʼn kruising tussen ʼn suurlemoen en lemoen) geplant.

Die stekelrige Thaise lemmetjie is my ander groot opwinding (ook bekend as Bergamut, Makrut of Kaffir). Die gerimpelde vrug het min sap, dit gaan oor die diep aromatiese vel en die blare, en word baie in Suidoos-Asiatiese kookkuns gebruik.

En dan kom twee vingerlemmetjies binnekort saam met my broer uit die Kaap – vir Kaapse lesers is daar geen beter plek vir vrugtebome as die fantastiese Tulbagh-kwekery nie. Hulle het op die oomblik Thai-, vingerlemmetjie- en soet Palestynse boompies in voorraad. Ek het Key-lemmetjies van Just Berry Plants in Johannesburg bestel (plus ʼn kerrieblaarboom en twee vlierboompies by my sitrusbesending bygesit). Volgende op my lys is ʼn kardemomplant en swartpeperboom van hulle.

Vingerlemmetjies. Foto: Suiderland Plase

Maak dumplings!

Die Afrikaanse woord vir dumplings is kluitjies en in hierdie huis is ons kluitjie-fans. ʼn Klein boekie in die pos het ons kluitjie-game tot nuwe hoogtes gevoer. Dumplings van La Taverne de Zhao (R289 by Takealot) het 21 maklik-om-te-volg-resepte – van vark en kool, hoender en sprietuie, kool en tofu tot meer eksotiese vulsels met garnale en dies meer – en wys jou stap vir stap hoe om die omhulsels te vou. Kluitjies is so supermaklik om te maak. Gestoom of gebraai (pot stickers) en met ʼn soja-chilli-gemmer-sesam- of swartasyn- en gemmerdoopsous daarby is dit perfeksie. Lig maar vullend. (Ek het terloops, laas in die Kaap, op aanbeveling van my vriend Bruce Hong gaan dumplings eet by HeSheng in Seepunt. Dit is ʼn eenvoudige Chinese restaurant wat deur ʼn ma en dogter bestuur word en die kos is wonderlik.)

Pork and Chives Dumpling Recipe
A pork and chive dumpling that’s gingery and a little sweet.

s


ʼn Laureen-lysie

Ek het vir kollega Laureen Rossouw gevra om een van haar (vele) lysies met ons te deel.

Afgesaagde sêgoed wat maar kon gebly het

Dit is wat dit is
Solank elkeen sy bes probeer
Tyd vlieg
Die lewe is kort
Elkeen vir homself
Leef jou droom
Jy mag maar
Ook maar mens
Môre is nog ʼn dag
Hy werk hard vir sy geld
Jy moet doen hoe jy goeddink
Ek meng nie in nie
Nou maar kyk vir jou

Sêgoed waarvoor mens nooit moeg raak nie

As my skip inkom
Dit verkoop soos soetkoek
Jakkals trou met wolf se vrou
Dit reën katte en honde
So skaars soos hoendertande
Moenie jou ouma vir ʼn eendvoël aansien nie
Moenie die baba met die badwater uitgooi nie
Vinkel en koljander
Hou net ʼn asynlappie byderhand
Om iemand se oogappel te wees
My hart se punt

En daarmee groet ek. Salige Sondag.

Mooi loop

Anneliese


Versamel vir ons doppies

Ek en my vriendin Emma is besig met 'n groot projek, en ons het julle hulp nodig. Maak julle plastiekdoppies bymekaar, en as julle 'n boks vol het, stuur vir my! Koeldrank, melk – al daardie goed wat ons sommer so in die rommel gooi. Ek vertel volgende week meer van ons plan.


Die beste kombers

Hierdie kombers is moontlik die beste ding wat ek al vir myself gekoop het. Ek het dit op elke bed in my huis. En die Cloud Blanket van Volpes kom op die oomblik met 'n 20%-afslag.

Lees die wêreld

Report: Israel strikes Iranian gas fields; Oman: U.S.-Iran talks will ‘not take place now’
***
Is it better to neglect your garden?
Gardens packed with blooming flowers are extremely popular. But are these highly curated creations actually helpful – or is it better to allow nature to take its own course?
‘This was all sitting there’: How California fails to prevent wrongful convictions
The lack of investigators affects counties throughout the state, from poor, rural areas to the state’s largest and most well-funded public defense offices.

Luister


Die Einde. 🥚


Deel hierdie artikel
Die skakel is gekopieer

Lede se kommentaar

Jy sal dalk ook hiervan hou
Lugpos op 'n Woensdag. Piet Croucamp

Die muterende nagmerrie van Paul Mashatile as president

Paul Mashatile van die Alex-mafia staan nou met die teenwoordigheid van 'n meesterpatronaat aan die stuur van 'n volledig gekorrumpeerde bevrydingsparty, en vir alle praktiese doeleindes het hy reeds Suid-Afrika se presidentskap oorgeneem, skryf PIET CROUCAMP.
Lees meer →
Dilemma op 'n Dinsdag Willem Kempen

Dilemma #15: Gewapende suurstofdiewe in aksie?

Vandag se Dilemma het darem niks met misdaad uit te waai nie, al klink dit dalk so. Deur WILLEM KEMPEN.
Lees meer →
Dilemma op 'n Maandag Willem Kempen

Dilemma #14: Jy soek na 'n verhewe stuk meublement

Sommige meubels word net gebruik deur mense met spesiale opleiding, waarsku WILLEM KEMPEN oor vandag se Dilemma.
Lees meer →