Iewers tussen Parkinsons en die Twilight Zone: ‘n bepeinsing oor onderbroke lewens (+ kom na my en Roelf se boekbekendstelling!)

Op die gedenkdag van sy dogtertjie se dood ondergaan Mike breinchirurgie vir Parkinson se siekte. ANNELIESE BURGESS wag in ‘n gastehuis uit die Twilight Zone en vra: hoe oorleef mens die onoorleefbare? Sy herinner lesers ook aan Roelf Meyer se politieke memoires wat hierdie week bekend gestel word.

Iewers tussen Parkinsons en die Twilight Zone: ‘n bepeinsing oor onderbroke lewens (+ kom na my en Roelf se boekbekendstelling!)

🔑

Dankie dat jy 'n betalende intekenaar is!

PREMIUMBRIEF VIR BETALENDE LEDE

Lees asseblief die e-posweergawe as jy sukkel om aan te meld. Andersins, lees eerder direk op die webwerf. Klik op "View in browser", heel boaan. As jy egter die gemak van 'n e-posbrief geniet, kan jy deelneem aan die kommentare deur op Comment heel onderaan te klik.


Goeiemôre

'n Vrou sit en huil by 'n tafel in die eetkamer. Daar is 'n klein dogtertjie by haar. Die vrou vertel my, sonder dat ek vra, dat sy nie oor die gastehuis huil nie, maar oor die rede waarom sy hier is. Sy moes die vorige aand 'n "emergency escape" maak van haar man wat haar wou doodmaak. Sy het twee klein bulmastiff-hondjies by haar. Hulle blaf onophoudelik, spring op teen alles en ruk 'n bak vrugteslaai van die tafel af. Die vrou is op haar knieë, al snikkend, en probeer die bakskerwe en stukke papaja met haar hande bymekaarskraap.

Twilight Zone

Ná agtuur die oggend is dit nil per mond vir Mike. Ons moet om eenuur by die hospitaal wees sodat hy opgeneem kan word vir 'n MRI. Dit is die eerste stap van die breinkartering vir 'n operasie wat, hoop ons, vir Mike verligting sal bring. Sy Parkinsonsiekte het die afgelope vyf jaar so vinnig gevorder dat ons die grens bereik het van wat dopamienmedikasie kan doen.

Die vorige dag het ek vir Prince, die stil Zimbabwiër wat in die kombuis van die gastehuis werk, gevra of hulle hawermoutpap vir hom sal maak in die oggend. Prince en 'n ander man woon in twee mankoliekerige hout shacks by die agterdeur van die huis. Hy bring vir my 'n bord rou hawermoutvlokkies met pienk joghurt gemeng. Ek sê oats-pap moet liewers in 'n pot gekook word. Ons soek in die kombuis na 'n pot en 'n lepel – klein kakkerlakkies skarrel tussen die messegoed rond.

Ek het die gastehuis op die internet bespreek omdat dit naby die hospitaal is. Op die foto’s lyk dit na 'n ruim ou huis met erkervensters in die slaapkamers en 'n tuin vol rose. Die werklikheid wat ons aantref, is effe anders: iewers tussen koshuiskamer en rehab. Mike sien die humor raak: “Let’s just roll with the twilight zone, it’s appropriate for our situation.”

Teen vyfuur die middag, toe ons by die gastehuis aanland, is Mike in intense diskinesie. Sy lyf ruk en pluk met onwillekeurige bewegings wat hy nie kan keer nie. Sy liggaam en ledemate kronkel, draai, swaai. Arms, bene, romp, kop, nek, gesig. Die bewegings is onreëlmatig en vloeiend, 'n mal dans – ons noem dit die diskidans.

Ek weet Mike het nodig dat ek kalm bly en maak asof dit alles normaal is, want vir hom is dit nou die nuwe normaal. Maar die buitengewoon intense diskinesie van die afgelope week maak my soms bietjie bang. Dit was nog nooit so erg nie.

Diskinesie word veroorsaak deur langdurige gebruik van levodopa, die hoofmedikasie vir Parkinson se siekte. Die bewegings kom gewoonlik wanneer die medisyne op sy sterkste in die bloed is, die sogenaamde piekdosis. En dit is een van die ironieë van 'n siekte deurspek met wreedhede: die medisyne wat die styfheid en traagheid van Parkinson verlig, veroorsaak op sy hoogtepunt die teenoorgestelde.

Dit vreet energie. Dit maak eet en drink moeilik. Dit maak loop en sit moeilik. En die persoon lyk heeltemaal van hulle kop af. Elke episode put Mike so uit dat hy moet gaan lê.

In een van die diskidanse vroeër die week hoor ek iemand in die straat sê: “Daai witman het 'n bose gees in hom.” Mike hoor dit ook. Hy het in die kar 'n bottel water probeer drink, maar met die rukkings gooi hy dit uit oor sy broek en 'n donker, nat kol strek van voor na agter. Nodeloos om te sê lyk dit asof hy beheer verloor het oor sy blaas. Mense staan oopmond en staar. Ek sou ook gestaar het as ek nie geweet het wat hier aangaan nie.


Pretoria

'n Swaarte sak oor my toe ons op O.R. land. Die dae wat voorlê, voel soos 'n berg. Maar daar is ook iets anders. Pretoria is vir my sinoniem met onderbreking en versteuring. Meer as 'n dekade lank was dit waar ek elke tweede week gewerk het – weg van my huis en my dogtertjie, aande alleen in 'n gastehuis of woonstel iewers. Ek dink aan die plekke waar ek gewerk het vir geld: departement van binnelandse sake, korrektiewe dienste, die Raad vir Gesondheidsberoepe, Krygkor, jare lank vir die Pistorius-familie tydens Oscar Pistorius se verhoor.

Mike lê langs my op die bed. Hy lyk so baie soos my pa. Dieselfde sterk neus, dieselfde knopperige vingers, dieselfde Parkinsonskyk in sy oë, dieselfde stywe manier van loop, sy regterhand op dieselfde manier opgekrul.

MIke maak my touwys oor die bak pille voor ons hospitaal toe gaan.

Uber-politiek

Die breinskandering is gedoen. Mike bly oornag in die hospitaal vir die operasie die volgende dag. Hy is nou al heeldag sonder enige medikasie. Sy lyf is stadig en styf. Ek sit die aand toe ek terugkom van die hospitaal vir 'n ruk buite op die stoep van die Twilight Zone-gastehuis voor ek in die bed val. Ek is te moeg om my klere uit te trek. Skop net my Merrell-tekkies uit. Iewers in die vroeë oggendure stuur Mike 'n WhatsApp-stemnota om te sê hy kan nie slaap nie. En hy’s bang.

Die Uber kom haal my net ná vyf. Dit begin lig word. Lebogang sê hy het deur die nag gewerk. Die strate van Lynnwood hang vol verkiesingsplakkate. “F*k die ANC,” sê hy. “F*k hulle. Hulle het die land opgemors. Dit maak my kwaad net om daai man se gesig te sien. Vir wat smile hy so? Vir wat?”

“As jy nie vir die ANC gaan stem nie, vir wie dan?” vra ek. “Die EFF?”

“Die Vryheidsfront,” sê hy. “Daai uncle weet wat Suid-Afrika nodig het. Het jy gesien, hulle bak nou tot hulle eie brood in die gevangenisse?”

Die DA, sê hy, vertrou hy glad nie. “Omdat mense sê dis 'n wit party?” wil ek weet.

“Nee, nie oor wit of swart of daai nonsens nie. Niemand glo meer wit en swart mense is vir mekaar kwaad nie,” sê hy. “Die DA gee nie om vir alle Suid-Afrikaners nie. Ek dink hulle is die party vir die kapitaliste. Vir die mense met geld.”


Elektrodes in die brein

Ses uur nadat ek vir Mike gewaai het terwyl hulle hom met die gang af teater toe stoot, kry ek 'n oproep van suster Amalia. "Hulle is nog besig, maar die elektrodes is in, en dit het baie goed gegaan. Albei kante van die brein is klaar. Die dokter is baie, baie gelukkig met die reaksie wat hulle gekry het. Hulle gaan hom nou onder narkose sit om die battery te implanteer."

Die reaksie, verstaan ek later, is presies hoekom hy die vorige dag sonder medikasie moes bly. Vir die eerste deel van die operasie is Mike wakker. Deur twee klein gaatjies in sy skedel laat die chirurg 'n elektrode, dun soos 'n haar, stadig, diep in sy brein afdaal. Elke deel van die brein het sy eie elektriese handtekening, en hulle luister daarna tot hulle die presiese plek vind. Dan skakel hulle die stroom aan en kyk wat gebeur. As die styfheid uit sy arm verdwyn, is hulle reg. As sy spraak begin sleep of sy vingers tintel, skuif hulle die elektrode. Die stadige, stywe lyf van die vorige aand was nodig. Hulle moes Mike se Parkinson op sy ergste sien om te weet wanneer hulle dit raakgeslaan het.

Die battery gaan onder sy sleutelbeen in, met 'n draad onder die vel langs sy nek op en agter sy oor tot by die elektrodes. Dit word komende Vrydag aangeskakel, dan sal ons weet hoe Mike se lewe vorentoe gaan lyk.


Ontsnapping

Ek het gister uit die Twilight Zone ontsnap en 'n kamer geneem by die lieflike Kraal-gastehuis – sewe eenvoudige kliphuisies met grasdakke in 'n tuin met ou bome en plate clivias in die stil buurt van Lynnwood Manor. Dit staan op die oorspronklike opstal van die landskapskilder J.H. Pierneef. Hy het die grond in 1939 gekoop en met die hulp van 'n plaaslike klipmesselaar begin bou. Hy het dit Elangeni genoem, Zoeloe vir “in die son”. Die bynaam was Die Kraal.

Pierneef se kraal.

Op die grond het hy die fondamente van 'n ou inheemse kraal gevind en dit in die uitleg van sy eie kraal ingebou. Pierneef het meer as een keer gesê Kaaps-Hollandse argitektuur is nie eg aan Suid-Afrika nie. Hutte van klip, klei, riet en gras pas beter by die klimaat en die landskap. Die argitek Norman Eaton, sy vriend, was sy raadgewer, en met gereelde aanbouery het die kraal oor die jare aanhou uitbrei. Agter die woonvertrekke het hy 'n ateljee gebou, wat in 1941 ingewy is met 'n uitstalling saam met die beeldhouer Fanie Eloff, ook 'n vriend. In die 1980’s is dit tot nasionale gedenkwaardigheid verklaar. Ek sal nooit weer op 'n ander plek bly as ek in Pretoors is nie.

Ek moet glo dat hierdie operasie vir Mike die teenoorgestelde gaan wees van die vita interrupta wat Pretoria vir my simboliseer – dat die stad die simbool sal word van 'n einde aan die ontwrigting wat hierdie gruwelike siekte in sy lewe gebring het.

Die operasie het plaasgevind op die gedenkdag van sy dogtertjie se dood, sewe jaar gelede. Hy sê hy dink hy het Emma gesien terwyl die operasie aan die gang was. Sy het deur die lug gevlieg soos 'n vlermuis, en op die ligte gesit en vir hom gekyk.

Daarmee groet ek.
Soos altyd is daar nog 'n klomp los goeters hieronder.
Mooi loop
Anneliese


LOS GOETERS


Bekendstellings vir Roelf se boek!

Volgende week is ek en Roelf in Kaapstad, Johannesburg en Pretoria om sy politieke memoires bekend te stel. Kom asseblief!

Kaapstad · Dinsdag 27 Oktober
Exclusive Books V&A Waterfront
18:00 vir 18:30
Africa Melane gesels met Roelf Meyer.

Pretoria · Woensdag 28 Oktober
News24 bied aan: An evening with Roelf Meyer
Loft at Nine, Umgaziweg 9, Menlo Park
18:00 vir 18:30. Die aand eindig om 21:00.
Pieter du Toit, assistentredakteur van News24, lei die gesprek met Roelf. Kaartjies kos R300 by Quicket. Dit sluit 'n drankie met aankoms in en peuselhappies ná die gesprek. Daar is 'n kontantkroeg, en die boek is te koop.

Johannesburg · Donderdag 29 Oktober
Exclusive Books, Hyde Park
18:00 vir 18:30
Ferial Haffajee gesels met Roelf Meyer.

Pretoria · Vrydag 30 Oktober
Die Afrikaanse bekendstelling
Exclusive Books, Menlyn
17:30 vir 18:00
Ek gesels met Roelf oor die boek, in Afrikaans. Dit is die aand waarna ek die meeste uitsien. Kom groet gerus!

Bespreking
Die Exclusive Books-geleenthede in Kaapstad, Johannesburg en Menlyn is gratis. Jy kan RSVP by https://exclusivebooks.co.za/pages/events – maar as jy vergeet, kom net!! Vir die News24-aand by Loft at Nine koop jy 'n kaartjie by Quicket.


Wat het gebeur met boekontwerp?

Ek het hierdie artikel baie interessant gevind, maar dit is agter 'n betaalmuur, daarom plak ek twee stukkies van die artikel hieronder:

What on Earth happened to beautiful book covers?
Penguin’s new chick-lit Pride and Prejudice cover is a symptom of the increasingly digital and performative publishing industry

“I really like book covers where you have to do a bit of work, but book covers seem to be going the other way,” says Keenan, slightly wistfully. “The default now is that the type pretty much fills the cover, then you’ve got a nice colourful image in the background. The two wrap around each other; a flower or leaf intertwines around the type. It’s all very pleasant, and if these books are pleasant, that’s great, but I’m not sure that’s true. If a book has dark subject matter or is depressing, you’ve got to acknowledge that. Everyone wants book covers to be inoffensive and fun – it’s a bit patronising.”

His favourite piece of his own work was for a 2012 reprint of Nabokov’s Lolita. “I like it because it’s very simple and there’s a double meaning.” The cover features two pink walls meeting in a corner with a white ceiling above, and very plain lettering, “but two thirds of people can see a pair of white knickers and two pink legs,” says Keenan. “What I like about that is it’s not me doing the work; it’s the viewer who sees that.” It is also a notably elegant and restrained design.


Brokkies

Ek het lanklaas gaan snuffel op die Deepculture substack vir aanbevelings. Hier is 'n paar wat interessant lyk:

'n Kort essay oor hoe om iemand só te kritiseer dat hulle regtig luister. How to Criticize with Kindness.

Paul Graham verduidelik hoe die idee waaroor jy in die stort dink, bepaal wat jy gedoen kry. The Top Idea in Your Mind.

Walks Between Stations se foto- en teksdagboek op Substack. Dit handel oor wandelinge deur Tokio en Yokohama, met 'n nuwe inskrywing elke paar dae. In die pos Rereading Yokohama verduidelik hy waarom hy daarvan hou om oor en oor deur dieselfde strate te loop, dat dit is soos om 'n gunstelingboek te herlees. Dit is 'n stil maar oortuigende pleidooi vir 'n stadiger lewe.

'n Sagte Japannese gedagte, ichigo ichie, en hoekom 'n kort ontmoeting met 'n vreemdeling jou hele dag kan opkikker. Fleeting Encounters

Luister

Die Einde. 💨


GEE 'N GESKENK

Nooi iemand uit om Binne+Land 'n maand lank gratis te lees!

Klik hier. Al wat jy nodig het, is 'n e-posadres!

Deel hierdie artikel
Die skakel is gekopieer

Lede se kommentaar

Jy sal dalk ook hiervan hou
GASPOS ⸱ Gasskrywer

JP Landman | SA/VSA: Quo Vadis II

Trump se minagting, onrealistiese eise en dreigemente van die Amerikaanse ambassadeur: is daar enige uitweg uit die dooiepunt tussen SA en die VSA? Die politieke ontleder JP LANDMAN skets drie scenario's – van verdere verswakking tot 'n moontlike joker in die pak: kritieke minerale.
Lees meer →
GASPOS ⸱ Gasskrywer

Oscar Pistorius: Was die hofsaak regverdig? 11 vrae aan Chris Marnewick oor sy nuwe boek en 'die waarheid'

Chris Marnewick, 'n ervare Suid-Afrikaanse advokaat en skrywer wat onder andere 'n handleiding vir Suid-Afrikaanse advokate geskryf het, het nou 'n boek op die rakke oor die Oscar Pistorius-hofsaak. Sy ontleding daag die gevestigde weergawe van die saak uit.
Lees meer →
Ali van Wyk ⸱ Albertus Van Wyk

Die onvoorspelbaarheid van nuwe woorde | Gabriel Fauré, die subtiele meester

Nuutskeppinge is een van ALI VAN WYK se geheime belangstellings. Hy raak skoon emosioneel oor nuwe woorde, en dis nie altyd mooi nie. Hy skryf ook oor die onderskatte Franse komponis Gabriel Fauré se wonderlike Eerste Klavierkwartet.
Lees meer →