Die les van 'n warm bad sonder Eskomkrag, geluk is nie 'n parkeerplek nie, Oekraïne + Tucker Carlson oor Trump se 'mistieke, bonatuurlike magte'

Die opsies vir 'n warm bad op 'n plek sonder Eskomkrag word 'n les. Dan is daar die oorgang, tydens ons middeljare, tussen die oewers van ons eerste en tweede lewe. Plus insigte oor die oorlog in Oekraïne en oor DJT, en herfsfoto’s uit die Oos-Kaap.

Die les van 'n warm bad sonder Eskomkrag, geluk is nie 'n parkeerplek nie, Oekraïne + Tucker Carlson oor Trump se 'mistieke, bonatuurlike magte'

Goeiemôre

Ek deel sommer vandag tussen die geskrywery herfsfoto's van die plaas.

Twee en 'n half jaar gelede sit ek en my broer op die stoep in die donker. Dit is die eerste aand nadat die Eskomlyn na die plaas (uiteindelik) afgeskakel is. My ouers het 30 jaar lank betaal vir die lyn. Elke maand was daar "lynfooie" en dan boonop nog die betaling vir die elektrisiteit self. Die maandelikse "lynfooi" was meer as R8 000 per maand. Don was gatvol vir die groot hap uit die plaas se begroting. Dit het byna twee jaar se gesoebat gekos om by die afsnypunt te kom. Met die maandelikse R8 000 wat natuurlik aanhou vloei het na Eskom. Daardie eerste aand sonder Eskom het my boet gesê die donkerte is vryheid. "Ons sê dankie vir die donkerte," het ons leuse geword.

Ek het die groen tamaties uit die tuin gaan haal voor die eerste ryp, hulle in die kombuis opgehang om ryp te word.

Die idee was dat ons na betaalkrag sou oorskakel, maar dít sou Eskom nóg nege maande neem om uiteindelik 'n meter op die plaas te kom insit – en die eerste een het nie gewerk nie. Die vlak van onbeholpenheid was verstommend. Het iemand al probeer om met Eskom se inbelsentrum te kommunikeer? Liewe land, dis 'n les in die mag van die monopolie om landsburgers hulle plek in die pikorde te laat besef.

In die maande daarna het ons aangekap met gasstowe, kerse en gaslampe. En 'n kragopwekker vir wanneer dit nodig was – 'n paar uur per dag om die vrieskaste koud te hou of wasgoed te was, of wanneer daar in die werkswinkel gesweis moes word of die waterpomp moes loop. Dit was 'n helse geskarrel, maar ons was dankbaar vir die donkerte.

My broer het sonpanele opgesit by al die pompe op die plaas, en ook vir die opstal. Soggens laai die batterye, en as die batterye afgeloop het, skakel ons oor na Eskom se betaalkrag. Behalwe, die betaalkrag kos R10,52 per eenheid op Bannockburn – báie duurder as munisipale krag op die dorp. Ons voorman wat in die township woon se betaalkrag kos hier by R2,20 per eenheid. Die betaalkrag wat ons op Pringlebaai insit, kos R3,90.

'n Plaas se prys vir 'n bad

Om die geiser aan te skakel vir een warm bad in die hoofhuis op Bannockburn kos dus goed oor die R100. Trouens, ek het maande gelede die eenhede dopgehou terwyl die water warm geword het, en die prys van 'n bad was oor die R120. Die geiser bly dus af. Ons is dankbaar vir donkerte en die geskenk van vuil wees.

Die opsies is a) ek suiker deur die koue na my broer se huis om die gasgeiser te gebruik; b) gooi 'n kastrol warm water in die wasbak en doen die lappie-ding – as kinders op Vergenoeg is ons die baie nuttige lappiemetode geleer van begin-agter-ore-en-werk-dan-af; c) sit die vier grootste komme op die gasstoof vir 'n vlakkerige bad op aande as die reën en wind te mislik is vir die trek na my broer se huis; d) ignoreer die hele kwessie, en wag vir môre. Ek moet erken dat dié opsie soms wen. Tande borsel werk goed met koue water.

Die badbesigheid vermom 'n groter ekonomiese waarheid. Ek moet konsentreer op my asemhaling wanneer prysliedere opklink vir die wonderbaarlike beëindiging van beurtkrag deur die ongelooflike bekwaamheid van die nuwe base by Eskom. Eskom is min of meer die enigste maatskappy waaraan ek kan dink waarvan die sukses gelykstaande is met hoe vinnig hy van verbruikers ontslae kan raak. Hoe swakker sy diens is, en hoe duurder sy produk, hoe vinniger maak mense ander planne. En dit word dan verkoop as sukses en uitstekende bestuur. En natuurlik: Hoe minder mense sy produk wil hê, hoe duurder moet hy dit maak om die boeke te laat klop. Eskom se elektrisiteitsverkope was in 2025 slegs 5,5% hoër as in 2001, terwyl die gemiddelde koste per kWh met meer as 1 400% gestyg het.

Tsek!

Dankie vir die donkerte, Eskom

In 1990 het 'n eenheid elektrisiteit sowat 6 sent gekos. Volgens my berekeninge, en ek kan verkeerd wees, sou die prys met inflasie bygewerk, vandag so om en by 60 sent wees. André de Ruyter het eens gewaarsku dat Eskom uiteindelik gaan sit met slegs 'n kliëntebasis van mense wat nie elektrisiteit kan bekostig nie en dit dus nie kan betaal nie.

Ek kyk na die ekonomiese koste hiervan deur die lens van my broer se boerdery. Suid-Afrika is geïndustrialiseer op die basis van bekostigbare (oukei, goedkoop) krag. Die aanskaf van 'n spilpunt-besproeiingstelsel of hoenderhokke vir 'n hoenderboerdery is nie 'n opsie gegewe die huidige elektrisiteitsprys nie. En sonkrag is nie goedkoop krag nie. Die kapitaal wat nodig is om sonkrag in plek te kry, pas nie sommer in enige klein familieplaas se begroting nie. Sonkrag is net "goedkoop" in vergelyking met Eskom. Bygesê, mens kan ook dankbaar wees vir Eskom se onbeholpenheid deurdat dit gelei het tot die ontwikkeling van betekenisvolle bronne van hernubare elektrisiteit – maar dit is die mark wat gepraat het. As dit van mense soos Gwede Mantashe afgehang het, sou ons almal aan steenkoolkrag en Eskom se briljante bestuur uitgelewer gebly het.

Ons sê dankie vir die donkerte.

Maar vryheid het ook sy prys – en dié prys word bepaal deur die mate waarin Eskom sy eie mislukking herdefinieer as sukses.


Die oorgang na die ander oewer

Kom ons stap aan na iets wat minder gevaarlik is vir my (reeds hoë) bloeddruk.

Sekere insigte flikker jare lank op die horison voor jy hulle kan ontsyfer, en dan is jy ewe skielik binne sig van die ligtoring en maak alles sin.

Die Jungiaanse analis James Hollis het 'n konsep wat hy die "middle passage" noem. Dit verwys nie na 'n spesifieke ouderdom nie, maar eerder na 'n periode tussen die eerste deel van jou lewe en die tweede. In die eerste helfte bou ons aan 'n "voorlopige self" – 'n identiteit wat voldoen aan die verwagtinge van gesin, kultuur en omstandighede. Ek was die goeie ma, betroubare dogter, ondersteunende suster, broodwinner, eggenoot, goeie werker en kollega.

En dan, "when the humbled ego begins the dialogue with the Self", begin jy jou losmaak van daardie identiteit: Hollis gebruik die metafoor van tussen twee oewers wees. Ek het iewers tussen my 53ste en 54ste lewensjaar besef dat die toue wat my aan die eerste deel van my lewe vasgehou het, losgekom het.

Die gekonstrueerde self begin te klein voel. Dit manifesteer as depressie of 'n rusteloosheid, 'n huwelik wat skipbreuk ly, 'n loopbaan wat skielik sinneloos voel, 'n onvergenoegde gevoel dat jy nie meer in jou lewe pas nie, dat iets geskuif het, dat jy anders dink en ander goed belangriker geword het as wat dit voorheen was (en die teenoorgestelde natuurlik ook).

Kan ons asseblief gou eers die oppervlakkige, holruggeryde cliché van die "midlife crisis" met 'n hamer vermorsel? En ook sommer die kulturele draaiboek verbrand wat sê dat dit alles net 'n groot gekners van tande is oor die beste tyd van ons lewe verby is.

G'n krisis nie, 'n geskenk

My insig is nie grondverskuiwend nie. Dit kom maar vir elkeen van ons op ons eie tyd. In die oop water tussen oewers het ek iets ervaar wat aanvanklik soos 'n ineenstorting gevoel het, maar dit was iets heel anders. Wat gebeur het, is nie 'n krisis nie, ook nie 'n versuiping in verlies nie. Dit is iets veel dieper, hoopvoller en meer betekenisvol. Dit vra 'n algehele herbesinning (en nuwe woorde). Hollis noem dit "sea-changes of the soul". Vir my was die afgelope paar jaar uiteindelik, toe ek verstaan wat aangaan, 'n tyd van verryking en verdieping – 'n geskenk.

“In the swamplands of the soul, there is meaning and the call to enlarge consciousness. To take this on is the greatest responsibility in life … And when we do, the terror is compensated by meaning, by dignity, by purpose.”

Ek onthou die middag ná my ma se dood toe ek verdwaas gewonder het hoe mens jou lewe weer aanmekaarstik ná iets wat so algeheel lewensveranderend gevoel het, en tog só verskriklik gewoon. Wat ek toe nog nie verstaan het nie, is dat 'n huwelik wat sneuwel, liefde wat wegkwyn, ouers wat sterf, jy wat as weeskind alleen in die wêreld staan, kinders wat die nes verlaat, vriende wat deur die dood weggeneem word – dat al hierdie verliese van die middeljare bakens, merkers en dieptepeilings is in die oorgang na die ander oewer.

“One should not automatically applaud the fifty-year marriage without knowing what happened to the souls of those in the relationship.”

Ek was nog altyd agterdogtig oor die happiness industrial complex – hierdie moderne obsessie met geluk as 'n bestemming. Doen hierdie dinge, koop hierdie produkte, volg hierdie stappe, en geluk wag vir jou soos 'n parkeerplek.

Hollis is genadeloos hieroor. Hy noem dit een van die grootste illusies dat geluk 'n werklike toestand is wat 'n mens kan ontdek en permanent kan bewoon. Die swaarland van die siel is waar 'n betekenisvolle tweede lewe gebou word.

'n Kantaantekening oor die Jungiaanse raamwerk en die fokus op "individuasie". Ek het nog altyd gewonder of dié sekulêre spiritualiteit wat daardeur na vore kom, nie ook 'n verskoning kan word om verantwoordbaarheid te vermy nie. Hollis is eerliker oor dié slaggat as die meeste Jungiaanse skrywers. Hy waarsku dat 'n fokus op die binnelewe ook 'n vorm van ontwyking kan word, en dat die Jungiaanse konsepte self 'n nuwe draaiboek kan word wat uitgevoer word eerder as om 'n egte ontmoeting met die onderbewuste te hê. Die tweede volwassenheid is nie noodwendig (ge)maklik nie. Dit kan eensamer en meer veeleisend wees om deur die ongemak te dring, en dit kan jou ook van mense vervreem wat die vorige weergawe van jou verkies het.

Ek is nog in die oop water, maar ek sien die ander oewer. Ek sluit af met "One Art", 'n gedig van Elizabeth Bishop. Soos altyd is daar ook nog 'n klomp los goeters hier onder.

The art of losing isn’t hard to master;
so many things seem filled with the intent
to be lost that their loss is no disaster.
Lose something every day. Accept the fluster
of lost door keys, the hour badly spent.
The art of losing isn’t hard to master.
Then practice losing farther, losing faster:
places, and names, and where it was you meant
to travel. None of these will bring disaster.
I lost my mother’s watch. And look! my last, or
next-to-last, of three loved houses went.
The art of losing isn’t hard to master.
I lost two cities, lovely ones. And, vaster,
some realms I owned, two rivers, a continent.
I miss them, but it wasn’t a disaster.
– Even losing you (the joking voice, a gesture
I love) I shan’t have lied. It’s evident
the art of losing’s not too hard to master
though it may look like (Write it!) like disaster.


Mooi loop,
Anneliese

Navrae hallobinneland@gmail.com | WhatsApp 083 413 6573. Ons probeer so gou as moontlik reageer, maar soms neem dit 'n dag (of drie of vier).


Los goeters

Tucker Carlson vir president?

Tucker Carlson was eens een van Trump se luidste voorstanders, maar het nou op 'n baie formele manier teen hom gedraai oor die Iran-oorlog. The New York Times het 'n buitengewone onderhoud met Carlson gevoer. Dat hy met hulle praat, is op sigself merkwaardig, gegewe dat die Times sy Fox-TV-program beskryf het as "die mees rassistiese program in die geskiedenis van kabeltelevisie". Dat hy nou uitgebreide onderhoude met The New York Times toestaan, sê alles oor hoe Carlson hom nou posisioneer.

Ontleders lees sy huidige posisionering toenemend as iets meer doelbewus as blote mediakommentaar. Jason Zengerle, 'n skrywer vir The New Yorker wat 'n biografie oor Carlson geskryf het, het gesê: "Ek dink nie meer aan Carlson as 'n mediafiguur nie. Ek dink hy doen iets heel anders. Hy is 'n bewegingsleier." Zengerle het bygevoeg: Hy is 'n bewegingsleier." En, het hy gesê: "Ek dink die Iran-oorlog, veral as dit sleg verloop, plaas Tucker in 'n uitstekende posisie om in 2028 as kandidaat vir president te staan."

Ek het dié onderhoud fassinerend gevind. Die heel weirdste ding wat Zengerle oor Trump te sê gehad het, was dat om tyd saam met hom deur te bring, jou laat voel asof jy "hasjisj gerook het". Hy skryf dit toe aan 'n mistieke en/of "bonatuurlike element" wat die president besit.

"There is a kind of quality that he has that's spellbinding. And I think it probably literally is a spell … And the effect is to weaken people around him and make them more compliant and more confused. And I've experienced this myself. You spend a day with Trump, and you're in this kind of dreamland. It's like smoking hash or something. It's interesting, very interesting. And there may be a supernatural component to it. I'm not a theologian, but it's real, and anyone who's been around him can tell you it's true."

Hier is 'n geskenkskakel na die hele onderhoud (dis lank, meer as twee uur), maar jy kan ook daarna luister. Hier is die Spotify-skakel, maar dit sal op alle podsendingplatforms beskikbaar wees.


Oekraïne wen

The Ukrainian Miracle
Resilience, innovation, drones, and a Europe finally waking up. Who knew?

Dit is een van die mees insiggewende stukke wat ek onlangs gelees het oor die oorlog in Oekraïne.

Hier is 'n paar aanhalings:

Because what has happened in the 18 months since Trump’s re-election is truly astonishing. Ukraine is now clearly winning the war, despite Trump’s pronouncement that they had “no cards” to play a year ago. More importantly, a new defence structure is being assembled in Europe, led by Germany and Britain, to provide continued military support to the nation under attack, with or without the US.

This is a new world. It’s been made possible firstly by Ukraine’s lightning-fast innovations in drone warfare, and secondly by Europe finally, really, no seriously this time, grasping that the US security umbrella is over, really over, and it’s beginning to re-arm. That’s why funding for Ukraine’s defence has not collapsed in the past year, despite Trump. It’s been held steady. Ukraine was not abandoned by the West. Just by America.

And you can see why Ukraine’s drone army has become an object of fascination. Their drone pilots killed or seriously injured nearly a quarter of a million Russian soldiers in 2025, along with knocking out 30,000 heavy weapons like tanks and artillery. This year, Ukraine is killing or wounding up to 35,000 Russian soldiers a month by drones, while intercepting over 70 percent of Russia’s.


'n Wonderlike webwerf

Deur die beweging van sterre te gebruik, wys hierdie webwerf hoe die Aarde roteer – en dit klink eenvoudig totdat jy 10 minute lank daarna staar. Watch Earth Turn.


The Next Alzheimer’s Breakthrough Will Take More Than Just Science
At WIRED Health, pioneering Alzheimer’s researcher John Hardy outlined the stakes—and next steps—of where treatment is headed next.
The Importance of the Battle of Savo Island
On the night of Aug. 9, 1942, an Allied fleet of 17 warships guarded the approaches to Guadalcanal. The fleet was newer, larger, and better equipped than
The smelly baby problem
Benjamin Spock told mothers in the mid-twentieth century to buy six dozen cloth diapers and a covered pail. Within a decade, both were obsolete.

Luister

Van 'n leser, Sassa van Zyl:

Toe ek in die 1970's op Stellenbosch student was, het hierdie liedjie my oor gevang. Ek het lank gesoek om inligting daaroor te kry. In daardie jare was dit nie so maklik om die lirieke van liedjies in die hande te kry nie. Jy moes maar wag totdat dit eendag in Huisgenoot verskyn. Om die plaat te koop was eenvoudig te duur (min of meer R5! 😆) en 'n mens moes ook maar wag om dit toevallig op die radio raak te luister. Die titel was vir my interessant. Die lirieke het ek maar onlangs eers op YouTube raakgeloop. Jona Lewie het blykbaar nog een ander liedjie gehad wat gewild was, maar ek dink dié liedjie (of eintlik seker Jona Lewie) kwalifiseer amper as 'n "one-hit-wonder". Ek vind die liedjie "catchy" en hoop jy hou ook daarvan, indien jy dit nie reeds ken nie. 

Die Einde.❤️‍🔥


GEE 'N GESKENK

Nooi iemand uit om Binne+Land 'n maand lank gratis te lees!

Klik hier. Al wat jy nodig het, is 'n e-posadres!

Deel hierdie artikel
Die skakel is gekopieer

Lede se kommentaar

Jy sal dalk ook hiervan hou
Willem Kempen Willem Kempen

Die vraag is nie óf nie, dis wátter probleem jy kan oplos (+ 'n ander soort Dilemma)

Skep moed, want teen die einde van 'n hele klomp woorde deur WILLEM KEMPEN wink daar ook 'n helder Dilemma om op te los.
Lees meer →
Willem Kempen Willem Kempen

Truths uit die подполья, houe teen die kop, literêre Donald + 'n ware Dilemma

Dis 'n ewige stryd om al jou varkies op hok te hou, maan WILLEM KEMPEN. Vandag se Dilemma is net so 'n gesukkel.
Lees meer →
Gasposte Gasskrywer

Hoekom ek lankal ophou luister het na Ramaphosa se praatjies

GERRIT OLIVIER skryf oor ons president se ons-sal-praatjies, sy ywerige verbeelding en waar hy in die wêreld se galery van politici inpas.
Lees meer →