Van Jom Kippoer tot Epic Fury in 'n Land Rover

Teen die agtergrond van Operasie Epic Fury en herinneringe aan Jom Kippoer reis PIET CROUCAMP onrustig met sy Land Rover Defender van die Kaap na Johannesburg.

Van Jom Kippoer tot Epic Fury in 'n Land Rover

Dagsê

My Land Rover Defender TD5, 2004-model, het die hele 2025 in die Kaap gestaan. Ek het gehoop dat ek en my seun tydens sy grys verblyf in Stellenbosch deur die Wes- en Noord-Kaap kon toer, maar dit het sadly nie so uitgewerk nie. 'n Week gelede bring ek haar toe terug huis toe, Johannesburg.

Voordat ek op 25 Februarie noord via die Suid-Kaap begin ry, laat verseël ek 'n lek op die linkerste sy-as (side shaft) en laat 'n tweedehandse temperatuurmeter installeer. My Madman wat alle denkbare gedrag in die enjin rapporteer, is moeg. Die reis is via Swellendam waar ek en die ekonoom Theo Vorster die dorp se jaarlikse landbouskou toespreek. Van Swellendam loop die pad na Stilbaai se feestelike boekefees en dan via Robert Sobukwe Town (Graaff-Reinet) en Bloemfontein tot Johannesburg. 

Net voor Sir Lowry's-pas maak ek die Landie se tenks vol.

Diesel. R19,95 per liter. R2 653,30. Die twee tenks was nie heeltemal leeg nie. Op RSG is daar 'n morbiede gesprek oor die spanning tussen Amerika en Iran. Donald Trump word vertrou om die regte ding om die verkeerde redes te doen. Halfpad teen die pas op word dit duidelik dat die skokbreker links agter moeg is. Ek het hom seker nie 'n paar weke gelede behoorlik vasgemaak toe hy ook geraas het nie.

Operasie Epic Fury en dieselpryse

Op die laaste dag van Februarie het Israel ongeveer 30 presisiegeleide bomme (vermoedelik lug-gelanseerde Blue Sparrow- ballistiese missiele en 'n paar Amerikaanse Tomahawk-missiele, net om seker te maak) in Operasie Epic Fury op die opperleier, ajatolla Ali Khamenei, se adres in die Pasteurstraat-distrik van Teheran laat val. 'n Dosyn of meer amptenare en lede van sy militêre bevel is saam met hom die ewigheid in. 

Die vernietigde woonplek van ajatolla Ali Khamenei in die Pasteurstraat-distrik van Teheran. Foto: Internet

Dis Sondag 1 Maart 2026. By 'n brug, ongeveer 100 km van Johannesburg, waar ek enkele jare gelede met 'n mes in my hande gesteek is vir my foon, stop ek vir old times' sake en sien die waterpyp tussen die Land Rover se enjin en die koeler het 'n lekplek. Om 'n spaarpyp op te sit so naby aan die huis, is te veel moeite. Ek ry aan, teen 85 km per uur, my gewone spoed. Daar's 'n verblindende geklop op my regterslaap.

'n Ekonoom praat oor die radio. Die prys van diesel sal Woensdagoggend met tussen 62c en 65c per liter styg. Trump en Khamenei maak my lewe moeilik by die pomp. Die ekonoom bespiegel oor 'n verdere verhoging van minstens R3 in April. Maar in die lig van die werklikhede van Israel en Amerika se aanvalle op Iran is dit nie onwaarskynlik dat die prys van petrol met tot R8 kan opgaan nie, sê hy. Teen die tyd dat ek die lewensmoë Land Rover by my huis in Melville tot stilstand bring, het ek nog R3 600 se diesel ingegooi.

Jom Kippoer

Ek was destyds 'n laaitie, maar onthou die petrolpryskrisis tydens die Jom Kippoer-oorlog in Oktober 1973 soos gister. Ek was toe in standerd 3 aan die Laerskool Van Rhyn in Windhoek. Die onderwysers het in 'n gedempte toon oor die krisis gepraat. Dit was nog 31 jaar voordat my Land Rover Defender TD5 uit die Solihull-aanleg in die Midlands van die Verenigde Koninkryk na Suid-Afrika verskeep sou word.

Egipte en Sirië het Israel aangeval om die grondgebied wat tydens die Sesdaagse Oorlog van 1967 afgestaan is, terug te wen. Anders as met Donald Trump en Benjamin Netanyahu se Operasie Epic Fury het Westerse lande destyds hulle diplomatieke gewig by Israel ingegooi. In reaksie op Westerse imperialisme en Israel se Sionisme het Arabiese olieproduserende lande besluit om die Organisasie van Petroleumuitvoerlande (Opec) se wringkrag as 'n sanksie te gebruik. Olieproduksie is strategies ingekort en 'n uitvoer-embargo is ingestel.

Die uitwerking was 'n ekonomiese bliksemstraal. Binne 'n jaar het die prys van ruolie ongeveer vervierdubbel, van sowat $3 per vat tot meer as $12. Regerings in Europa en Noord-Amerika het uit nood brandstof streng begin rantsoeneer. Petroltekorte het tot lang rye by vulstasies gelei. Noodmaatreëls het spoedbeperkings en selfs motorlose Sondae in sommige Europese lande ingesluit. Die krisis het inflasie aangevuur en in baie ekonomieë tot resessies gelei.

Amerikaanse inflasie het van ongeveer 6,2% in 1973 tot 11,1% in 1974 gestyg, en in 1975 op ongeveer 9,1% gedraal. Amerika was hartseer-kwaad. En om sout in die letsels op die Yanks se psige te vryf het Richard Nixon op 9 Augustus 1974 bedank en Gerald Ford moes die fort hou totdat die grondboontjieboer Jimmy Carter van 1977 af met die nalatenskap van die oliekrisis én later die Iranse Revolusie van 1979 moes worstel.

Mohammad Reza Shah Pahlavi

Dit was nie net moeilike jare vir Amerikaanse politiek nie, maar die begin van 'n wêreldwye energiesekuriteitskrisis. Suid-Afrika het feitlik geen eie oliebronne gehad nie en was byna heeltemal van invoere afhanklik. Tydens hierdie krisis, van 1973 af, maar veral tussen 1974 en 1978, was tot 90% van Suid-Afrika se olie-invoere van Iran afkomstig.

Die sjah van Iran: Mohammad Reza Shah Pahlavi. Foto: Internet

Mohammad Reza Shah Pahlavi was vir die grootste deel van dié tydperk 'n outoritêre monarg van groot nut vir die Weste. Tydens sy heerskappy, van 1941 tot 1979, het hy die modernisering van die ekonomie aangemoedig, maar mededingende politieke opposisie te midde van onvrye en onregverdige verkiesings onderdruk. Sy bewind het uiteindelik ineengestort weens toenemende woede oor outoritarisme, onderdrukking, ongelykheid, korrupsie en verwestersing. Ekonomiese probleme en die Organisation of National Security and Information (Savak) se wreedaardige optrede het openlike politieke weerstand jeens die sjah gevoed.

Godsdiensleiers onder leiding van ajatolla Ruhollah Musavi Khomeini, nasionaliste en linksgesinde groepe het saam gemobiliseer en ná massabetogings en stakings was die sjah se regime polities verlam. In 1979 het sy monargie ineengestort. Maar, wee o wee, ná die revolusie het Khomeini se regime in fases van die postrevolusionêre linkse magte wat gehelp het om die sjah omver te werp, ontslae geraak. Die Islamitiese regime het met die determinasie van 'n Jacob Zuma elke faset van die staat beset. 'n Nuwe grondwet is geskryf en die Revolusionêre Wag, howe en moskeegebaseerde politieke netwerke het wet en orde oorgeneem.

Maar godsdiens en linkse filosofie korrespondeer nie noodwendig nie. Die geestelikes het die sekulêre en Marxistiese kamerade begin isoleer en hulself as die enigste ware stem van die revolusie voorgehou. Wanneer Fikile Mbalula en Nomvula Mokonyane praat van die ANC se historiese vriendskap met Iran, word hierdie stukkie geskiedenis gerieflikheidshalwe verswyg of vergeet.

Suid-Afrika maak 'n plan

Ná die 1979-revolusie in Iran is die olieuitvoere na Suid-Afrika ontwrig en moes ons toenemend op 'n meer geheimsinnige mengsel van verskaffers en tussengangers, insluitend Saoedi-Arabië, die Verenigde Arabiese Emirate, Katar, Oman en Egipte, staatmaak. Daarby het die apartheidstaat toenemend internasionale kritiek en politieke isolasie ervaar.

Die oliekrisis het die Suid-Afrikaanse regering oortuig dat energieselfstandigheid 'n nasionale veiligheidsprioriteit moes word. Die eerste pilaar van hierdie strategie was tegnologies. Reeds in die 1950's het Suid-Afrikaanse ingenieurs begin eksperimenteer met die idee om brandstof uit steenkool te vervaardig. Die land het enorme steenkoolreserwes gehad en wetenskaplikes het die Duitse Fischer-Tropsch-proses aangepas, 'n metode wat Duitsland tydens die Tweede Wêreldoorlog gebruik het om brandstof uit steenkool te maak.

Massiewe beleggings is gemaak in die ontwikkeling van sintetiese brandstof, terwyl groot strategiese oliereserwes in ondergrondse bergingsfasiliteite by Saldanhabaai aan die Weskus opgebou is. Die regering het ook alternatiewe en dikwels geheime kanale vir olie-invoer begin ontwikkel. Teen die 1980's het groot aanlegte by Sasolburg en Secunda miljoene liters sintetiese brandstof per dag vervaardig.

Die Sasol-aanleg by Sasolburg. Foto: Internet

Hoewel hierdie strategie nie in ál Suid-Afrika se petroleumbehoeftes kon voorsien nie, het dit 'n kritieke veiligheids- en ekonomiese buffer vir die beleërde apartheidstaat geskep.

Frontmaatskappye en opportunistiese internasionale handelaars

Die strategie van die apartheidstaat was om enorme strategiese olievoorrade op te bou. Die regering het reuse- ondergrondse bergingsfasiliteite laat bou, veral by Saldanha. Groot rotskamers is in die berg uitgekap waarin miljoene vate ruolie geberg kon word. Hierdie fasiliteite was nie net vir noodvoorrade bedoel nie – dit was ook 'n diskrete plek en gebied waar ingevoerde olie gestoor kon word sonder om aandag te trek.

Daar was egter reeds 'n wêreldwye netwerk van geheime oliehandel. Omdat amptelike handel met Suid-Afrika polities riskant of selfs onwettig was, moes die John Vorster- en later P.W. Botha-regerings kreatiewe metodes ontwikkel om petroleum te bekom. Die staat het frontmaatskappye en internasionale handelaars gebruik om met komplekse logistieke roetes die embargo's teen Suid-Afrika te omseil. Die Belgies-Amerikaanse kommoditeitshandelaar Marc Rich het byvoorbeeld later wêreldbekend geword vir sy invloed in die globale olie- en metaalmarkte. Omdat Suid-Afrika bereid was om 'n premie vir olie te betaal, kon opportuniste soos Rich groot winste maak deur embargo's te omseil.

Marc Rich – Foto: Reuters

Saam met internasionale opposisie teen apartheid en 'n olie-embargo, het die ANC en internasionale waarnemers geglo dat die Suid-Afrikaanse regering uiteindelik ekonomies sou knak. Wat egter gevolg het, was een van die mees gesofistikeerde sanksie-ontduikingstelsels wat ooit deur 'n staat opgebou is. Sasol, 'n staatsondersteunde industriële projek, het uiteindelik die hoeksteen van die land se energie geword. Nadat Sasol II en Sasol III by Secunda gebou is, kon Suid-Afrika teen die 1980's ruweg 'n kwart tot byna 'n derde van sy nodige brandstof plaaslik produseer.

Tenkskepe het in hierdie stadium onder vals vlae gevaar, dokumentasie is bekook en olie is dikwels op die oop see van een skip na 'n ander oorgetap om die land van herkoms te verdoesel. Soms moes die olie verskeie kere van eienaar verwissel voordat dit uiteindelik in 'n Suid-Afrikaanse hawe aangekom het.

Suid-Afrika het ook 'n spesiale staatsinstelling geskep om hierdie geheime energiestrategie te bestuur. Die Strategiese Brandstoffonds (SBF) het die aankoop, vervoer en berging van olie gekoördineer. Baie van die SBF se operasies is streng geheim gehou en sou eers ná 1994 in groter detail bekend word.

Die kriminele skeepsreg van geopolitiek

Teen die 1980's was dit geen geheim in diplomatieke kringe dat Suid-Afrika die olie-embargo deels omseil het nie. Skeepsbewegings, handelsroetes en finansiële transaksies is noukeurig deur intelligensiedienste gemonitor. Instellings soos die CIA en verskeie Europese intelligensie-agentskappe het 'n taamlik goeie begrip gehad van hoe hierdie olienetwerke gefunksioneer het. Hulle het geweet olie het Suid-Afrika via derde partye, onafhanklike handelaars en soms deur indirekte herverkope bereik.

Die vraag is waarom hierdie netwerke nie aggressiewer gestop is nie. Die antwoord lê grotendeels in die geopolitiek van die Koue Oorlog. Geopolitiek was nog altyd korrup, krimineel, opportunisties, magsgedrewe en die resultaat van ego's met hulle vingers op die snellers. In Westerse strategiese denke is Suid-Afrika dikwels gesien as 'n noodsaaklike antikommunistiese bondgenoot in Afrika. Die land het oor belangrike mineraalhulpbronne beskik en 'n sterk militêre rol in die streek gespeel, veral in konflikte in Angola en Namibië waarby Kuba en die Sowjetunie betrokke was.

Teen die tyd dat ek laatmiddag die Hillbrow-toring in die verte gewaar, is daar moeilike mediagesprekke op my foon oor die waarskynlikheid van 'n internasionale oliekrisis.

Die Land Rover staan hier in Melville onder my afdak. Die sy-as sweet weer en die Madman het met misterieuse onbetroubaarheid vanoggend skielik gewerk. Ek dink daar is 'n bleddie lek op my spaardieseltenk.

Tot volgende keer
Piet

Luister

Die Einde.🚍


💡
Die duiwel het weer rondgeloop met Anneliese se brief wat gister agter die betaalmuur was. Die goeie nuus is dat ons elke keer 'n bietjie meer te wete kom van dié tegniese duiwel wat ons befoeter. As jy nie gister se brief kon lees nie, hier is die skakel weer. Dankie vir julle geduld hiermee.
Ek is ‘n ligeen-jagter, dom vrae is slim, middeljarige vroue en die ‘manlike blik’ + musiek as gebed
ANNELIESE BURGESS vind lesse in die simbiose van ligeen, herontdek ‘n aandgebed in die musiek van Vivaldi en sê die ‘manlike blik’ wat vroue in hulle middeljare onsigbaar maak, is welkom om aan te beweeg. Sy’t ander dinge wat sy nou wil doen – soos dom vrae vra wat slim is.

GEE 'N GRATIS GESKENK

Nooi iemand uit om Binne+Land 'n maand lank gratis te lees!

Klik hier. Al wat jy nodig het, is ‘n e-posadres!
Navrae: 📩 hallobinneland@gmail.com | WhatsApp 083 413 6573. Ons probeer so gou as moontlik reageer, maar soms neem dit 'n dag (of drie of vier).

Deel hierdie artikel
Die skakel is gekopieer

Lede se kommentaar

Jy sal dalk ook hiervan hou
Anneliese Burgess Anneliese Burgess

Ek is 'n ligeen-jagter, dom vrae is slim, middeljarige vroue en die 'manlike blik' + musiek as gebed

ANNELIESE BURGESS vind lesse in die simbiose van ligeen, herontdek 'n aandgebed in die musiek van Vivaldi en sê die 'manlike blik' wat vroue in hulle middeljare onsigbaar maak, is welkom om aan te beweeg. Sy't ander dinge wat sy nou wil doen – soos dom vrae vra wat slim is.
Lees meer →
Gasposte Laureen Rossouw

Ozempic en koe'sisters + hoe om 'n depro oor oorlogsake af te weer

Vandag op LAUREEN ROSSOUW se radar: INGRID JONES skryf oor die gewigtige saak wanneer maer wees en koe'sisters eet albei vir jou prioriteite is. En KERNEELS BREYTENBACH vertel van drie boeke wat hy gelees het om bedruktheid oor oorlogkwessies hok te slaan.
Lees meer →
Ali van Wyk Albertus Van Wyk

Springsteen wys wie's baas + Gulda, die anargistiese pianis

Trump het vir Bruce Springsteen liederlik onderskat, reken ALI VAN WYK. Hy bespreek ook 'n onortodokse pianis en mens, Friedrich Gulda, en mymer oor vleisrolle en boontjiepasta.
Lees meer →