Hamba ekhaya, Bozell

PIET CROUCAMP meen Leo Brent Bozell III moet liewers terugkeer na Amerika en dat ‘n regimeverandering in Washington Suid-Afrikaners sal toelaat om voort te gaan met die stelselmatige aftakeling van SEB en die ANC se vernietiging.

Hamba ekhaya, Bozell

🔑 PREMIUMBRIEF VIR BETALENDE LEDE

Dankie dat jy 'n betalende intekenaar is!

Lees asseblief die e-posweergawe as jy sukkel om aan te meld. Andersins, lees direk op die webwerf. Klik op "View in browser" (heel boaan, net onder die naam van die skrywer).

Dit help ons met ons webdata, die skakels werk beter en die kommentare is ook makliker bereikbaar. Sommige langer briewe word ook deur sekere e-posbedieners afgesny. As jy egter die gemak van 'n e-posbrief geniet, kan jy deelneem aan die kommentare deur op "Comment" heel onderaan te klik. 🔑

As jy GRATIS LEES, het ons kraalmuur jou met 'n agterdeur laat inglip. Neem asseblief 'n betaalde intekening uit.


Dagsê

Die nuwe Amerikaanse ambassadeur, Leo Brent Bozell III, is 'n politieke ongeluk wat wag om te gebeur. Hoe dikwels gebeur dit dat 'n nuwe diplomatieke aanstelling reeds in die eerste maand in sy of haar nuwe pos, om baie goeie redes, deur die gasheerland oor die vingers getik word? Nog voor Bozell se aanstelling het sy uitsprake al vrae laat ontstaan oor sy beroepservaring vir 'n uitdagende jurisdiksie soos Suid-Afrika.

Leo Bozell en Redi Tlhabi. Foto's: Internet

Die joernalis Redi Tlhabi het die afgelope week as deel van 'n Daily Maverick-gesprek na Bozell verwys as 'n "intern with two weeks of training in diplomacy" en sy is reg. In haar teregwysing van Bozell op X waarsku sy hom om versigtig om te gaan met die beginsel van die oppergesag van die reg in Suid-Afrika. "Constitutionalism is sancrosanct in South Africa." En sy benadruk die werklikheid dat ons howe al uitsprake gelewer het teen die regering en parlement, en selfs 'n voormalige president tot tronkstraf gevonnis het. Ook Nelson Mandela moes as president van die land in die hof verskyn.

Hierdie staan in skrille kontras met die goedkeurende gehoor by Bozell se voete toe hy minagtend gesê het: "I don't care what your courts say." Tlhabi is reg: Op die tussengrond van die stryd tussen 'n korrupte ANC en wit politieke belangegroepe skuil miljoene Suid-Afrikaners met net die Grondwet en howe as 'n veilige hawe.

Die BizNews-konferensie

Bozell se keuse van Alec Hogg se grootliks wit, manlike BizNews-konferensie in Hermanus vir sy eerste openbare optrede was nietemin vir hom die perfekte geleentheid om Suid-Afrikaners net weer te herinner aan die swak oordeel wat hy op 10 Julie 2025 aan die dag gelê het. Tydens sy verskyning voor die United States Senate Committee on Foreign Relations het dit duidelik geword dat hy geen besware het teen Donald Trump se vals bewerings van 'n wit volksmoord in Suid-Afrika nie. Op dié dag het Bozell ook sy steun uitgespreek vir die Trump-administrasie se "Slegs blankes"-immigrasiebeleid.

Bozell by die BizNews-konferensie 2026. Foto: Internet

Maar as jy hom die voordeel van die twyfel wil gee: By dieselfde geleentheid het Bozell met 'n geïmpliseerde miskenning van die swart burgerregtestryd in Amerika, homself in dieselfde kategorie geplaas as David Duke, grand wizard van die Ku Klux Klan, die White Citizens' Councils en neokonfederale drukgroepe. In Amerika is 'n miskenning van dié historiese stryd 'n moedswillige manier waarop regses hulle lojaliteit teenoor wit nasionalisme verklaar. Bozell het waarskynlik sy idees van sy vader geërf. Leo Brent Bozell Jr., 'n prominente konserwatiewe kommentator in die 1950's en 1960's, het openlik probleme gehad met sekere aspekte van die burgerregtebeweging, soos onder meer die desegregasiebeleid van skole wat gevolg het op die belangrike hooggeregshofsaak Brown v. Board of Education.

Die nuwe Amerikaanse ambassadeur in Suid-Afrika was die gas by die BizNews-konferensie waarvoor Alec Hogg nie kon wag nie. In teorie is dit 'n byeenkoms van sakeleiers, politici en kritici van regeringsbeleid. Hogg is die organiseerder, moderator van gesprekke en ideologiese gasheer van dié sterk, opiniegedrewe platform.

Bekende konserwatiewe stemme daar is onder meer dié van die joernalis R.W. Johnson, wie se werk altyd sinvol is om te lees, en die selfgemaakte mediasensasie Rob Hersov. Laasgenoemde se oppervlakkige opiniegedrewe haat vir die ANC, wat nie altyd ongegrond is nie, spuug in alle windrigtings. Ek weet nie of Hogg die politieke ontleder Prince Mashele 'n verskyningsfooi betaal nie, maar ek wil my goeie vriend waarsku dat sy sinvolle ontledings en soms bloedstollende kritiek op die ANC deur 'n reaksionêre Trojaanse perd misbruik word om 'n etniese agenda te bevorder.

Die Lex Libertas-meningsvormers

Die ideologiese speellys van Hogg se Hermanus-konferensie het oorvleuel met die strafekspedisie van sprekers wat by die Future of Nations Conference van Ernst Roets se Lex Libertas aan die bod was. Dawie Roodt, hoofekonoom van die Efficient Group, Rob Hersov en die afgetrede akademikus Koos Malan was aan die woord by 'n konferensie wat grootliks 'n Orania-inisiatief is. Iemand wat die geleentheid bygewoon het, beskryf Roodt, Hersov en Malan se toesprake as volledig gesinchroniseer met die doelstellings van die konferensie.

Eendersdenkendes? Dawie Roodt, Ernst Roets en Rob Hersov. Foto's: Internet

Hierdie sprekers wat in die Trojaanse perd van ekonomiese groei en kulturele erkenning skuil, plaas teen die belange van swart Suid-Afrikaners hul hoop op Trump om die ANC soveel moontlik politieke skade te berokken. Ek wil ook die ANC skade berokken. My belang korrespondeer egter met dié van die 86% swart stemgeregtigdes wat nié in Mei 2024 vir die ANC gestem het nie. My bondgenoot is dus hierdie 86%, eerder as Donald Trump.

Trump is Zuma 'dressed in drag'

Ek het by geleentheid gesê as die Zoeloe-nasionalis Jacob Zuma wit was, het Afrikaner-nasionaliste vir hom gestem. Soos Trump wat homself al in Amerikaanse howe moes verduidelik, was Zuma by verskeie regsprosesse in Suid-Afrikaanse howe betrokke. Een van hierdie sake het tot 'n strafregtelike skuldigbevinding gelei, terwyl ander langdurige strafregtelike aanklagte steeds voor die howe dien.

Die werklikheid is dat dit wat konserwatiewe drukgroepe hier in Mzansi as immoreel beskou, oorgesien word wanneer die skuldige wit, korrup en in die Withuis is. Die verskil tussen Zuma en Trump is egter onbeduidend. Beide is sekspeste en misdadigers.

In Junie 2021 het die Konstitusionele Hof bevind dat Zuma skuldig was aan minagting van die hof en hom tot 15 maande gevangenisstraf gevonnis. Sy "begenadiging" deur Cyril Ramaphosa is 'n politieke misdaad. Afgesien van die minagtingsaak word Zuma steeds deur strafregtelike aanklagte in die gesig gestaar wat verband hou met die 1999-wapentransaksie (die Arms Deal).

Zuma tydens een van sy talle hofverskynings. Foto: Reuters

Trump is strafregtelik skuldig bevind op 34 aanklagte van vervalsing van besigheidsrekords (New York, 2024). Die saak het gegaan oor betalings wat in 2016 aan die porno-aktrise Stormy Daniels gemaak is. Hy is ook deur die spesiale aanklaer Jack Smith aangekla van sameswering om Amerika te bedrieg (wat dit ook al beteken), sameswering om 'n amptelike proses van die Kongres te belemmer en 'n poging om die sertifisering van die 2020-verkiesing te verhinder.

Benewens sy skuldigbevinding in New York, is Trump ook aangekla in 'n federale saak dat hy die uitslae van die 2020-verkiesing wou omkeer, dat hy geheime dokumente by Mar-a-Lago gestoor het en natuurlik die Georgia-RICO-saak oor inmenging met die verkiesing. Die Huis van Verteenwoordigers het hom reeds twee keer in 'n staat van beskuldiging geplaas, in 2019 en 2021.

Trump tydens sy "courtroom arraignment hearing". Foto: Internet

Sommige van hierdie sake teen Trump het nog nie tot finale strafregtelike uitsprake gekom nie, want in Amerikaanse regspraktyk geld die beginsel dat 'n sittende president nie strafregtelik vervolg mag word nie. 'n Staat van beskuldiging word as die primêre manier beskou om so 'n president aanspreeklik te hou.

Dubul' ibhunu

Die meeste Suid-Afrikaners deel Bozell se kommer oor swart ekonomiese bemagtiging as 'n hindernis tot ekonomiese groei, maar sy spesifieke beheptheid met die lot van Afrikaners besoedel die edelheid van sy gewaarwording. 'n Geldige vraag is of sy uitsprake oor SEB werklik gaan oor die ekonomiese lot van Amerikaanse maatskappye in Suid-Afrika en of hy hulle net vir 'n politieke agenda misbruik.

'n Soortgelyke kontaminasie is sy verwysing na Julius Malema en die EFF se gesing van "Kill the Boer". Die lied grief my ook, maar dalk is konteks hier belangrik. Net 3,85% van alle stemgeregtigdes het in Mei 2024 vir die EFF gestem en geen ander politieke party of drukgroep sing die lied nie. Toe ek onlangs met 'n groep EFF-lede praat, het net die helfte aangedui dat die lied 'n noodsaaklike deel van die party se identiteit moet bly. 

Dit bring my tot dieselfde gevolgtrekking as Redi Tlhabi s'n wanneer sy te kenne gee Dubul' ibhunu word teen swart Suid-Afrikaners gehou eerder as teen die numeries obskure steunbasis van die EFF. Dié lied is die ridders van die Trojaanse perd se gunstelingmanier om "wolf" te skree. In die teenwoordigheid van die grootliks konserwatiewe, wit manlike gehoor wat normaalweg BizNews se konferensies bywoon, gee Bozell se roekelose verwysing na ons howe 'n kommerwekkende konteks aan sy onnadenkende gedagtegang. Bozell se misbruik van 'n uitgediende struggle-lied om 'n ondermynende ingesteldheid teenoor ons howe te propageer, moedig Afrikaner-nasionalisme aan, dit is nie ter beskerming van landbouers nie.

Volksmoord

AfriForum se Kallie Kriel en Flip Buys van Solidariteit ontken albei dat hulle die woord "volksmoord" gebruik het, maar hulle morbiede verduideliking van wit Suid-Afrikaners – met spesifieke verwysing na Afrikaners en boere – se politieke lot stem volledig ooreen met wat die Trump-administrasie as 'n volksmoord verstaan. In kru terme glo hulle dat wit boere uitgemoor word, wit mense se grond gesteel of onteien word en dat wit mense sistemies polities geteiken word. Kriel vermy dié werklikheid deur te sê: "Ons het nooit die woord volksmoord gebruik nie." Ek het al vir Buys gevra of sy organisasie aan die Withuis verduidelik het dat daar nie 'n volksmoord in Suid-Afrika plaasvind nie. Sy antwoord is sonder uitsondering dat hulle net die "feite oordra". Dit is hierdie feite wat Trump as 'n volksmoord verstaan en Bozell se boodskap van wit slagofferskap motiveer.

Kriel in gemoedelike luim met Bozell in Hermanus. Foto: Internet

Daar is iets aan die Vryheidsfront Plus-leier, Corné Mulder, wat maak dat ek 'n soft spot vir hom het, maar sy heldeverering vir Bozell is teleurstellend. Bozell handhaaf steeds sy reaksionêre uitsprake wat hy in die 1980's oor die ANC en swart Suid-Afrikaners se politieke bevryding gemaak het. Die menings van swart Suid-Afrikaners op sosiale media wat impliseer dat Mulder die vaandel dra vir die waarskynlikheid dat minagting vir swart vrese sal terugkeer in 'n regering waarin wit mense beduidende verteenwoordiging het, is nie ongegrond nie.

'n Kollega van my wie se familie in Zimbabwe die slagoffers van kolonialisme én Afrika-nasionalisme was, som swart Suid-Afrikaners se vermoedens goed op: "Die verteenwoordigers van die volksmoord-narratief vind dit veilig om die armoede van swart Suid-Afrikaners en die ANC se immorele plundering van die staat te misbruik as 'n Trojaanse perd vir hulle eie etniese nasionalisme." Die verwantskap tussen Trump se wit nasionalisme en die etniese nasionalisme van die Solidariteit-groep is ooglopend.

Israel

Laastens: Een van die mees omstrede stellings tydens sy verskyning by die Amerikaanse Senaat-verhoor was Bozell se aanduiding dat hy, indien hy bevestig word, Suid-Afrika sal probeer oorreed om sy saak teen Israel by die Internasionale Geregshof terug te trek. Suid-Afrika het die saak teen Israel in 2023-2024 by dié hof aanhangig gemaak. Bozell het aan senatore gesê dat hy Pretoria sal probeer oorreed om dié beleid te heroorweeg en nader aan die Amerikaanse buitelandse beleid oor Israel te beweeg.

Suid-Afrika se regspan by die Internasionale Geregshof. Foto: Internet

Dit is waarskynlik sy onvervreembare reg om ongeërg te reageer op die immorele uitwissing van 40 000 Palestynse kinders, maar as hy as diplomaat dit aan die groot klok hang voor konserwatiewe gehore waar hy ideologies tuis voel, behoort die Suid-Afrikaanse regering hom verantwoordelik te hou vir sy ongevoelige uitsprake.

Hamba ekhaya!

Hoe vinniger Bozell na Amerika terugkeer, hoe beter vir ons verhouding met Washington. Maar, belangriker, 'n regimeverandering in Amerika sal ons as Suid-Afrikaners toelaat om voort te gaan met die stelselmatige aftakeling van SEB as 'n statutêre vorm van plundering en die gevolglike vernietiging van die armstes van die armes se lewensdrome en verwagtinge. Daar kan geen twyfel wees dat die korrupsie van SEB arm Suid-Afrikaners die meeste benadeel nie.

Groete
Piet 

Luister

Die Einde.🐴

Navrae hallobinneland@gmail.com | WhatsApp 083 413 6573. Ons probeer so gou as moontlik reageer, maar soms neem dit 'n dag (of drie of vier).


GEE 'N GESKENK

Nooi iemand uit om Binne+Land 'n maand lank gratis te lees!

Klik hier. Al wat jy nodig het, is 'n e-posadres!

Het jy hierdie brief geniet?

Deel dit met jou vriende op Facebook!

📘 Deel op Facebook

--

Deel hierdie artikel
Die skakel is gekopieer

Lede se kommentaar

Jy sal dalk ook hiervan hou
Willem Kempen Willem Kempen

'n Paar April Fuel Jokes + Jan Tuisbly se karretjie + 'n redelose Dilemma

Die verlaging van R3 per liter in die staat se brandstofheffing is op sy beste 'n halwe haar op 'n bleskop, en ons moet in elk geval nie méér as dit verwag nie, meen WILLEM KEMPEN. Vandag se Dilemma help ook nie juis nie.
Lees meer →
GASPOS Gasskrywer

Anton van Niekerk | Godsbeeld, kennis en geloof

Die voortgesette sekularisasie in ons kultuur lei daartoe dat talle mense onvergenoegd raak met die idee van 'n god wat 'gapings moet toestop', skryf ANTON VAN NIEKERK. Hy bekyk die spanning tussen wetenskaplike kennis en geloofskennis.
Lees meer →
Willem Kempen Willem Kempen

Net tussen ons, hier is hoe jy miljoene in 'n kwartier kan maak + 'n Dilemma sonder moue

WILLEM KEMPEN wonder wie ryk geword het uit Donald Trump se stukkie fake news van Maandagoggend. (En vandag se Dilemma is soms net so vol gate.)
Lees meer →